Hoop vir boeties met seldsame immuungebrek

Ruben (23 maande) en Ruan (6 maande) Foto: Facebook

Ruben (23 maande) en Ruan (6 maande) Foto: Facebook

Haar geloof in God het nog nie vir ʼn enkele sekonde gewankel sedert albei haar seuns met ʼn seldsame siekte gediagnoseer is nie. Selfs ook nie toe donker gedagtes dat sy haar seuns nie die volgende dag sal sien nie, haar oorweldig het. Maar nou het sy ʼn nog groter geskenk gekry, vertel Katinka Roodt van Heidelberg: Haar geloof in mense se goedheid is ten volle herstel.

Maroela Media het vroeër berig Roodt en haar man, Pieter, se twee seuns, Ruben (23 maande) en Ruan (ses maande), het albei ʼn beenmurgoorplanting nodig.

Haar seuns is albei met die seldsame immuungebrek, SCID (Severe Combined Immunodeficiency), gediagnoseer. Dié toestand word gekenmerk deur ʼn uiters swak immuunstelsel, wat ʼn mens vatbaar maak vir enige virus. Selfs die kleinste virus kan hulle hul lewens kos.

Dokters het gesê ʼn beenmurgoorplanting is al opsie om haar seuns te genees. Agt skenkers is wêreldwyd vir Ruben opgespoor en twee skenkers in Suid-Afrika en 57 in die buiteland vir Ruan.

Intussen het weldoeners van heinde en ver met die gesin kontak gemaak om beenmurg vir hul seuns te skenk.

Roodt meen sy sien die Here se hand in weldoeners se gretigheid om betrokke te raak en voel geseënd oor die vordering wat albei haar seuns maak. Hulle het nog nie ʼn beenmurgoorplanting gehad nie, maar hulle gesondheidsituasie lyk bae positief.

“Hulle word nou groot en vet,” skerts sy. “Ek het van die begin af die Here vertrou en geweet dat Hy vir ons ʼn uitweg sal gee. Ruben se haartjies, waar die ekseem was, wil-wil teruggroei en Ruan weeg al 10 kg. Ons is baie dankbaar.”

Die boeties kry nog behandelings om hulle immuunstelsels te versterk, maar Katinka is baie positief oor die toekoms.

“Mense van regoor die land het met ons kontak gemaak en gesê hulle wil betrokke raak. Dis wonderlik en dit maak mens se hart warm. Dit gaan daarom ook met my kinders goed want ons is opgewonde dat ons binnekort soos ander gesinne ook ʼn normale lewe gaan hê – daarvan is ek oortuig,” sê sy.

“Ons het nog steeds net die skenkers wat ons voorheen gehad het, maar mense raak vervaard daarby betrokke. Die dokters sal enige oomblik met die gepaste skenkers in kontak tree, en die proses sal vandaar volg. Wanneer die oorplanting plaasvind, sal hulle dan chemoterapie moet ontvang omdat die geringste virus in die beenmurg tot hul dood kan lei. Hulle sal dan geen immuniteit hê nie en in afsondering moet wees vir ʼn geruime tyd. Dan is dit uit mense se hande – geen mens en geen medisyne kan help nie; hulle sal net die Here se genade hê, want dis nét sy genade wat red.”

Ruben (23 maande) en Ruan (6 maande) Foto: Facebook

Ruben (23 maande) en Ruan (6 maande) Foto: Facebook

Indien die beenmurg deur die liggaam verwerp word, kan dit ook tot die dood van die boeties lei, maar Katinka meen sy is vol vertroue dat God nog kan dit ook tot dievegtertjies gaan loop.

Intussen word die Murgpypfees op 3 en 4 Maart op die sportterrein van die Hoërskool John Vorster in Nigel in Oos-Gauteng gehou om ekstra geld vir die boeties se mediese onkoste in te samel.

Kunstenaars soos Rooies, Karlien van Jaarsveld en ʼn boereorkes sal optree. Daar is ook ʼn mallemeule, ʼn potjieskoskompetisie, kosstalletjies en ʼn biertuin. Kaartjies kos R80 vir volwassenes, R50 vir kinders en kinders jonger as ses jaar kry gratis toegang. Al die geld wat ingesamel word gaan na die boeties se trustfonds.

Katinka wil ook diegene wat betrokke wil raak aanraai om meer uit te vind oor die proses van beenmurgskenking en om hulle inligting by dié organisasie op te dateer.

Laai die volledige feesprogram hier af.

Vir meer inligting oor die fees besoek Ruben en Ruan vir beenmurg op Facebook of die Roodt-gesin se Go Fund Me-blad.

Lees meer oor beenmurgskenkings en The Sunflower Fund op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jean ·

Dis werklik die sweetste twee mannetjies hierdie. EK hoop en bid saam met julle dat albei volkome genees sal word, en dat hulle lang en gelukkige lewens saam met hulle ouers en familie sal deurbring. Daai gesiggies is te pragtig, om nie eers van die ou mooiste cuddly lyfies te praat nie. Sterkte vir julle gesin en dankie vir almal wat betrokke geraak het om die kleingoed se lewens te verbeter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.