ʼn Nuwe Afrikaanse woordeboek vir jou selfoon

prof-Gerhard-van-Huyssteen-Viva

Prof. Gerhard van Huyssteen. Foto: Dagbreek/Youtube.com

Sowat ’n jaar gelede het die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) kom aanklop by die Atterbury Trust met ’n interessante voorstel – die ontwikkeling van ’n Afrikaanse woordeboek-app. Hoewel daar vandag soveel slimfone in sirkulasie is, is daar geen gesaghebbende app vir Afrikaans nie, en dit val reg in Atterbury se kraal om die taal te ondersteun met nuwe tegnologie.

“Basies is die idee ’n app soortgelyk aan die WAT en die HAT; ’n woordeboek wat in skole gebruik kan word. Ons wil Afrikaans bevorder in ooreenstemming met die Trust se doelstellings, so ons het besluit om handjie by te sit met die finansiering,” vertel Atterbury se Zahn Hulme.

Volgens Hulme is daar honderde opsies in Engels beskikbaar om naslaanwerk te doen, maar die apps wat ook Afrikaans aanbied, is deur oorsese maatskappye ontwikkel en dus geneig om vol foute te wees. “Ons kan dalk nie altyd ons monumente beskerm nie, maar ons kan beslis ons taal help voortbestaan en ontwikkel, en dit is wat VivA met die nuwe Woordeboekportaal-app wil regkry,” het Hulme gesê.

Volgens prof. Gerhard van Huyssteen, VivA se uitvoerende direkteur, is VivA se woordeboekportaal ʼn woordeboek en tesourus wat ʼn gebruiker toelaat om vertalings, woordbetekenisse en sinonieme maklik na te slaan, terwyl dit ook ander taaldienste bied soos spelwenke.

VivA is ’n navorsingsinstituut en diensverskaffer vir Afrikaans in digitale kontekste en ’n geregistreerde maatskappy sonder winsoogmerk. Die organisasie is gestig as ’n gesamentlike projek deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK), Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), die Dagbreek Trust en Noordwes Universiteit.

“Wat ons doen, is om Afrikaans plaaslik en internasionaal uit te brei deur die lewering van praktiese Afrikaanse taaldienste, deur middel van tegnologie. Ons ontwikkel omvattende digitale en ander hulpbronne en hulpmiddele asook platforms vir gesproke en geskrewe Afrikaans,” verduidelik Van Huyssteen. ’n Aanlyn, elektroniese Afrikaanse terminologiediens word ook beplan. “Een van Afrikaans se grootste skatte is die enorme vakkundige woordeskat wat oor baie jare ontwikkel is. VivA wil hiermee voortgaan deurdat kundiges terme sal skep en gebruikers dan die databasis sal kan raadpleeg. Ons is baie bly om te kan sê dat Protea Boekhuis se Kuberwoordeboek die eerste vakkundige woordeboek is wat hierby ingesluit sal word,” het Van Huyssteen gesê.

Woordeboekportaal is gemik op mense tussen 15 en 25 wat ’n slimfoon het, wat Afrikaans aktief gebruik en wil seker maak hulle gebruik dit reg. Volgens Van Huyssteen is die hoop dat minstens 10 000 gebruikers dit sal aflaai en dit op ’n skaal van vyf minstens ’n vier sal gee.

Zahn is opgewonde oor die vooruitsig: “Dink net hoe nuttig gaan dit vir die hele gesin wees – kinders sit en huiswerk doen en as Pa vashaak met die blokraaisel, kan die tiener sy foon nader trek en Woordeboekportaal aantree om te help.”

Die plan is om Woordeboekportaal binne die volgende twee maande van stapel te stuur met ’n uitgebreide sosialemedia-veldtog, om soveel moontlik Afrikaanse skole te betrek.

“Dit is vanjaar 90 jaar sedert Afrikaans as amptelike landstaal erken is, so dis ook vir ons simbolies om te kan aanhou bou aan die taal met die mees moderne tegnologie tot ons beskikking,” het Van Huyssteen gesê.

Die VivA Woordportaal-app is vir Android en iOS ontwikkel en is gratis beskikbaar vir slimfone en tablette. Boekmerk die webwerf: http://www.viva-afrikaans.org. Laai die app af op die Google Play Store of Apple App Store.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sollie ·

Wens sommige mense wil dit gebruik as hulle bv kommentaar op hierdie forums lewer!

George ·

Wonderlike idee. Ek sou die teikenmark egter nie tot 25 beperk nie, want mense van alle ouderdomme sal dit kan gebruik. Pa kan mos sommer self sy blokraainavrae doen?

Christine ·

ek dink dis n briljante idee. Dit sal werk vir Ellen wat graag die taal reg wil aanwend……en uiteindelik moet die taal saambeweeg en die tegnologie omarm….

Frans ·

Waarom is die teikenmark beperk tot 25. Ek is 72 en sien reikhalsend uit om die App op my foon af te laai.

André ·

Ek dink dit is briljant, want ek probeer ook Afrikaans skoon hou.
Ek is ook al 34, verstaan nie hoekom teikenmark so klein sal wees nie.
Ek hoop baie mense sal die gebruik. Dis vir my erg as mens hoor hoe die mense deesdae hul taal meng, selfs in ons kerke is dit dit al erg hoe die woorde gemeng word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.