Die direksie van die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (Nati) het pas bekendgemaak dat Cornelia Faasen aangestel is as die eerste uitvoerende hoof van dié organisasie.
Nati is ʼn nie-winsgewende organisasie wat die Dagbreek Trust van stapel gestuur het om Afrikaanse teater en toneel op ʼn volhoubare grondslag te bevorder en te ondersteun.
Nati verseker dat daar vir die eerste keer in dekades ʼn beter toekoms wink vir Afrikaanse teater- en dramapraktisyns. Die kernfokus is om jaarliks vier produksies van nuwe en bestaande dramatekste te ontwikkel, wat dan by ’n Afrikaanse kunstefees sal debuteer, maar daarna na drie ander feeste sal reis om ook deel te word van hul toneelaanbod.
Faasen is tans direkteur en adjunk-dekaan: Studentesake by die Universiteit van die Vrystaat. Ná die meestersgraad wat sy in drama aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het, het sy uitgebreide ervaring opgedoen op verskeie terreine in die uitvoerende kunste, waarvan verskeie op uitvoerende vlak was.
Sy het onder meer op die KKNK se keuringskomitee en kykNET se Fiëstas-toekenningspaneel gedien en was betrokke by verskeie teaterproduksies op verskeie kunstefeeste.
“Ons is verheug dat Cornelia ons aanbod aanvaar het. Haar uitgebreide ervaring en kennis van die uitvoerende kunste het ʼn sterk indruk op die direksie gemaak. So ook haar passie vir Afrikaanse teater en toneel,” het Tim du Plessis, voorsitter van Nati se kerndireksie, in ʼn verklaring gesê.
“Haar agtergrond en ervaring rus haar uitstekend toe vir die taak om nou die leiding te neem met die vestiging en bestuur van Nati. Sy geniet aansien in die bedryf terwyl die ervaring in algemene bestuur en projekte wat sy by die UV opgedoen het haar goed te staan sal kom in die nuwe amp,” het hy gesê.
Faasen begin na verwagting in Junie in haar nuwe pos.
Sterkte en vorspoed vir die pad vorentoe.