NB-Uitgewers skenk groot boekeskat vir Kaapse Vlakte

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het Vrydag gesê ʼn onlangse skenking van bykans R3 miljoen se boeke deur NB-Uitgewers gaan verseker dat honderde laerskoolleerders op die Kaapse Vlakte weer kan boek lees.

Fedsas is ’n vrywillige vereniging van skoolbeheerliggame van openbare skole en staan die behoud en bevordering van gehalte-onderwys in dié skole voor.

Die skenking is gemaak aan die mobiele biblioteke wat Fedsas einde verlede jaar aan drie laerskole op die Kaapse Vlakte geskenk het. Dié projek is ’n inisiatief van Fedsas, in samewerking met Quali Books en die sangeres Nadine Blom.

Danie van Wyk, bestuurder van die Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust (SAOOT) in die Wes-Kaap, sê dié projek is bedoel om die lewe van kinders te verander. Hy sê hulle is dankbaar vir die onontbeerlike bydrae van organisasies soos NB-Uitgewers.

“Projekte soos hierdie het die steun van groot uitgewersmaatskappye nodig. Daarom beskou ons hierdie reuseskenking van NB-Uitgewers nie net as ’n belegging in die projek nie, maar in die toekoms van hierdie kinders,” het hy gesê.

Fedsas sê skole wat wel nog oor skoolbiblioteke beskik, sukkel dikwels om die boekvoorraad op datum te hou weens die koste daaraan verbonde.

“Die mobiele biblioteke bestaan uit ’n kabinet waarin die boeke van klaskamer tot klaskamer verskuif kan word. Dit vergemaklik dus ook beheer oor die boekvoorraad en bied ’n waardevolle hulpmiddel aan onderwysers,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.