Ongewone foto’s

portrait-pearlYolanda Wessels

Janelia Mould was nog altyd gefassineer deur fotografie. Op 11-jarige ouderdom het sy haar eerste mik-en-druk kamera gekry en die lewe deur ʼn lens begin bekyk. Maar dit was eers toe sy die Amerikaanse fotograaf Brooke Shaden se werk twee jaar gelede ontdek het, dat konseptuele fotografie met haar begin praat het.

Hoewel sy ʼn diploma in boekhouding deur Unisa verwerf het om die rekeninge te betaal en aan die lewe te bly, het haar hart bly hunker om iets te skep.

In 2015 het sy haar “boekhou neergelê” en voltyds haar kamera opgetel. “Aanvanklik was ek vreeslik oorweldig deur al die knoppies en opsies op my nuwe DSLR-kamera, maar ek het gou geleer waar ʼn wil is, is mos ʼn weg!”

Janelia vertel toe sy in 2015 op Shaden se werk afgekom het, kon sy haar dadelik vereenselwig met dié visuele kunstenaar se werk en was so geïnspireerd dat sy net geweet het, dít is wat sy wil doen. “Die oomblik toe ek haar werk sien, was dit asof die skille van my oë afgeval het en ek het net dadelik geweet ek wil dít verken.”

Sy het fotomanipuleringsagteware aangeskaf en dadelik met die hulp van YouTube-lesse begin om haarself te leer sodat sy haar kamera en die sagteware optimaal kan gebruik.

melancholy-series-dangling“Ek is eerstens ʼn kunstenaar en dan ʼn fotograaf.” Sy vertel ʼn storie en dra ʼn boodskap oor deur middel van konseptuele fotografie en bied die kyker ʼn blik op haar innerlike. “Al my beelde word saamgestel uit verskillende foto’s wat ek self skiet en daarna met behulp van fotomanipuleringsagteware saamgestel om een ‘storie’ te skep. Soveel as 99% van my werk is selfportrette, grotendeels omdat dit makliker is om myself as karakter te gebruik. Ek is ʼn introvert en dis bloot net makliker om myself as karakter te gebruik, want dit is presies wat dit is, ʼn karakter. Ek hou van surrealistiese tonele en probeer altyd iets skep met ’n kinkel en soek dan die gepaste bewoording wat my prent sal kompleteer.”

Haar beelde grens selfs aan bisarre, die ongewone. Die esoteriese, misterieuse, donkerkant van die lewe en van mense is iets wat haar aantrek en sy hou daarvan om die onverwagse uit te beeld in haar werk. Haar kostuums is meestal “vintage” en tydloos – die gevoel wat sy probeer skep, byna soos ʼn ou skildery. Haar werkproses is tydsaam. Een prent kan tussen agt uur tot vier dae neem om te voltooi. Sy maak gebruik van natuurlike lig, gewoonlik net voor sonop of net ná sononder.

melancholy-series-withering-awayHaar jongste foto’s, Series – A Girl called Melancholy, is ʼn reeks wat fokus op depressie en hoe dit mense affekteer. Die voorneme is om ʼn buitestander ʼn blik te gee op die emosies of gebrek daaraan wat ʼn depressielyer ervaar. Die doel is om ʼn stem te wees en bewusmaking te skep vir dié toestand. “Hierdie reeks is ʼn baie persoonlike projek omdat my eie lewe deur depressie geraak is. Die foto’s verteenwoordig my ervaring daarvan. So baie mense met depressie leef met ʼn masker op en daar is geen woorde om regtig die toestand aan iemand anders mee te verduidelik nie. Met dié foto’s hoop ek om op en visuele manier buitestanders se aandag daarop te vestig. Dis soveel meer as net ʼn hartseer gesig….”

Janelia en haar man snuffel graag in antieke en tweedehandse winkels rond en dit is gewoonlik dáár waar haar kreatiwiteit geprikkel word en sy inspirasie kry. “Ek is mal daaroor om tydlose beelde te skep, iets wat jou herinner aan ʼn tyd wat lank reeds vergete is. Ek het ’n ooraktiewe verbeelding – van ’n strandwandeling tot ’n liefdesgedig tot ’n opgefrommelde stuk papier kan my inspireer. My verbeelding volg die eb en vloed van kreatiwiteit en as die idees in oorvloed is, teken ek hulle in my dagboek aan en bêre hulle vir dae wanneer inspirasie skaarser is.”
Besoek gerus Cheekyingelosi.wixsite.com/cheekyingelosi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.