Oom Herrie se kerrie: Om gepottebak te word

potter-1139047_640Herman Toerien

Vanoggend kort voor die radiodiens speel hulle die ou bekende lied, “Doen met my soos U wil, Heer, U wil met my”.Oom Herrie was bietjie ver om te hoor of die res van die woorde nog dieselfde is as kleintyd toe dit so ’n diep neerslag op oom Herrie se hart kom maak het.

“Pottebakker met my die klei” – dis die deel wat so diep tot oom Herrie spreek.

Die nostalgie slaan op die daad terug na die CSV se stranddienste by Kleinbrak, met tannie Ada agter haar traporreltjie wat ook op oom Smutsie se preekstoel plek moes kry. En ook daar in die kinderkerk ’n hanetreetjie van die Moederkerk in Stellenbosch is die lied dikwels gesing.

Onvergeetlike oomblikke, soos die wintie-miljoenêr wat een Desember die huis langs Kleinbrak se kerkie gehuur het, en onder die kerkdiens luidrugtig die afstandbeheerde motortjies getoets het wat Kersvader seker vir sy kinders gebring het. Dat die kerk se sykante opgeslaan moes word om plek vir almal te maak, het ook nie gehelp nie. ’n Paar jong manne het alle misverstande uit die weg gaan ruim …

Hoeveel mense het werklik die krag om te aanvaar wat met hulle gebeur?

Maar vandag roep die lied meer as nostalgie op. Hoeveel mense het werklik die krag om te aanvaar wat met hulle gebeur? Beginnende met oom Herrie self. ’n Bietjie meer as ’n jaar gelede stel die dokters vas oom Herrie het sommer twee soorte kanker gelyk, heeltemal onverwant aan mekaar. Die kanker is twee dinge, maar die behandeling is perde van ander kleure. Baie pyn? Nee. Maar ’n gesukkel om te loop, ja, en ook ’n gesukkel om te slaap. Dis minstens een keer per maand bloed trek, soms buisies vol. En beenmurgbiopsies is in geen geselskap maklik nie.

Die een kanker is so goed soos opgeklaar, en die ander (wat ongelukkig ongeneeslik is) word nog goed teruggewerk. Word na ander kankergevalle gekyk, het ’n mens groot rede tot dankbaarheid. En die afgelope weke soek die Herries na ’n verklaring oor hoekom ons jongste soms ná sy judo-oefeninge agteroor slaan, so uit soos ’n kers. Hy is outisties en het groot agterstande. Jare gelede het hy ná ’n fietsrybyeenkoms (waar hy sy pa ver gewen het) ook so agteroor geslaan.
Gat agter die kop. Onderweg huis toe wil hy weet: “Hoekom ek slaap?”
Ná besoeke aan die kardioloog en neuroloog is ons nog niks wyser nie. Nou weer ná die kardiologie-besoek steeds niks, terwyl hy eers heelwat later ’n afspraak by die neuroloog het.

En dis hoe die Here hom gepottebakker het – met ’n paar splintervermoëns, soos om mooi kleure in sy skilderwerk te kan aanwend, en omtrent enigiets uit keramiek te maak. Mev. Herrie vra hom wanneer dit was toe die oom die plakkers op sy bors gesit het, en hy sê sonder aarseling 2011. Oom Herrie gogga daai een, maar mev. Herrie se bankstate bevestig dit was toe dat hy sy eerste besoek aan die kardioloog gebring het.

Aldag was die pad na ’n hemelkind nie maklik nie. Maar die hele pad, as ’n mens die ander outistiese kinders sien, ook dié wat minder aangetas is, ruil ’n mens Jandré vir geen geld met enige ander kind nie. Oom Herrie is so dankbaar die Here het mev. Herrie ’n regte engel gepottebakker. En so ook ons oudste, Nic.

Oom Herrie is so dankbaar die Here het mev. Herrie ’n regte engel gepottebakker. En so ook ons oudste, Nic

Ja, soms kom die dag dat ’n mens seker diep aan die dink gaan wanneer gesing word: “Maak met my net soos U wil.” Ons bid vir wat ons wil hê, en die Here verhoor, maar nie noodwendig soos ons wil nie, want Hy weet beter.

En net gister het oom Herrie seker die afste dag gehad sedert hy siek geword het. Selfs die honde het kort-kort kom kyk, en so ’n rukkie in die kamer gelê voor hulle na hul gebruiklike lêplekke by mev. Herrie is. Sy is immers die een wat hulle kos gee. Vandag gaan dit weer strate beter.
“Wees positief” het mense vir oom Herrie gesê toe hy die nuus gekry het van die kanker. En oom Herrie was besonder geseënd dat dit byna deurgaans die posisie was. En waar die swart wolk kom plek maak het, is hy gelukkig gou weg.
Maar terug na Kleinbrak en die miljoenêr. Pa Jan was die teenpool van ’n wintie, maar tog het hy in sy agterkop ’n iets gehad oor ’n sekere soort sportmotortjie. Een aand kom die Herries tuis, en daar staan presies so ’n peperduur sportmotortjie voor die motorhuis geparkeer.

Die Herries kan dus self nie hul eie ryding bêre nie. Ons kinders wil opsluit ander kinders bymekaar gaan maak en die blink karretjie die garage indra, en toesluit. En ons eie kar voor die deur trek. Pa wil egter niks weet nie. Die volgende dag is die karretjie weg. Die miljoenêr het by die bure gekuier en sommer besluit die parkering by ons is beter …

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke