SA sjef in Amerika kom trou hier

Ivan en Linda Giani (Foto: Verskaf)

Die sjef wat Amerikaners se harte betower met Suid-Afrikaanse disse, het huis toe gekom om met sy Afrikaanse meisie te trou.

Maroela Media het verlede jaar berig oor sjef Ivan Giani wat tradisionele Suid-Afrikaanse kosse soos bobotie en melktert by ʼn restaurant genaamd Springbok in Houston, Texas, voorberei.

Deesdae werk Giani in Crested Butte, Colorado, by die Elevation Hotel and Spa.

Suid-Afrika het nie net vir Giani gehelp om smaakpalette tevrede te stel nie, maar ook om liefde te vind.

Linda Wasserman, ʼn professionele danseres in Suid-Afrika, het Giani per toeval deur gemeenskaplike vriende ontmoet en hulle liefde het vinnig vlamgevat.

Wasserman wou vir haar beste vriendin in Denver gaan kuier, asook graag gaan ski. Die plek waar Giani gewerk het, was naby ʼn ski-oord en ʼn vriend het hulle toe aan mekaar voorgestel.

“Ek het vir twee weke saam met Ivan geski, en daarna was ek veronderstel om terug huis toe te gaan. Maar toe ek moet teruggaan, het Ivan gevra of ek ʼn bietjie langer wil bly en saam met hom deur Texas toer. Ek het ingestem en my twee weke lange ‘trippie’ het toe twee maande lank geword!” het Wasserman gesê.

Ivan en Linda Giani (Foto: Verskaf)

Wasserman en Giani het mekaar by die lughawe gegroet sonder om te weet wanneer hulle mekaar weer sou sien. “Maar net ʼn week later, toe bespreek ek weer my vliegkaartjie Amerika toe!” het Wasserman laggend gesê.

Wasserman het weer vir drie maande Amerika toe gegaan en daar het hulle verloof geraak.

“Ons is albei in ons dertigs, en ons het van die begin af gesê ons gaan nie speletjies speel nie. Ons weet wat ons wil hê, en as dit die regte persoon is, dan weet jy dit. Nie een van ons wou ʼn langafstand-verhouding hê nie. Dis alles of niks,” het Giani gesê.

“Dit was absoluut iets wat ons albei gevoel het moet gebeur. Ek was nog nooit so seker van iets in my lewe nie,” het Wasserman gesê.

Giani het Wasserman se ouers vir die eerste keer op die dag voor die troue ontmoet.

“Ons het al oor Skype ontmoet, maar nog nooit in lewende lywe nie. Linda het my ouers ook maar nog net twee maal voor die troue gesien,” het Giani gesê.

Die Giani-troue (Foto:Verskaf)

Giani se ouers het saam na die troue in Suid-Afrika gekom, waar die twee families uiteindelik ontmoet het. Linda en Ivan het op 9 September getrou, en bring nou soveel tyd moontlik saam met hulle familie deur, voordat hulle terug Colorado toe gaan.

En ja, natuurlik was daar tradisionele Suid-Afrikaanse kos in oorvloed by die troue, op Giani se aanbeveling.

“Ons het baie lekker geëet,” het Linda gesê. “Daar was pampoenkoekies, groenboontjies, malvapoeding, biltong, en natuurlik ook spitbraai-lam.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.