[Foto’s] Steve word pa: ‘Die wonder slaan my asem weg’

Steve en Janine Hofmeyr (Foto: Facebook)

Steve Hofmeyr se grootste droom vir sy pienkvoet – die kleine Romy-Lee wat Maandagoggend gebore is – is eenvoudig: Om eendag soos haar ma te wees, soos haar pa te baklei, onvoorwaardelik lief te hê soos haar oumas en uitbundig te lag soos haar boeties.

Só vertel die gewilde Afrikaanse sanger nadat hy en sy vrou, Janine, se kleinding skuins ná 08:00 gebore is.

Die sanger het aan Maroela Media vertel hy en Janine is omtrent bewoë en het nog nie een oomblik ophou glimlag nie. Hy sê elke enkele oomblik van haar lewe gaan nou met foto’s en video vasgevang word.

“Ek dink nie ek het tyd gehad om te dink met die vorige kinders nie. Dié keer het ek ʼn traan in die oog elke keer wanneer ek na haar kyk. Ek het foto’s van elke stap – die wonder daarvan slaan my asem weg,” vertel hy trots.

Romy-Lee, die sanger se sesde kind, het Maandagoggend wéér sy lewe verander, nes elkeen van sy vyf ander kinders ook, vertel hy.

Die klein Romy-Lee saam met Janine (Foto: Facebook)

“[Haar geboorte het my lewe verander] omdat ek verander en ouer word en anders na kinders kyk. Dis vir my vandag ʼn veel meer intense gebeurtenis. Dalk omdat ek dinge soms oordink, filosofies raak en minder wegskram van my emosies. Ek dink ek weet wie ek gaan blameer as ek al minder produktief en aktief raak. ʼn Prinsessie wat my om haar vingertjie gaan draai.”

Die sanger het voorheen aan Maroela Media vertel dit is vir die gesin ʼn riem onder die hart dat hulle soveel ondersteuning van aanhangers kry. Steve sê hulle is behoorlik oorval met boodskappe van gebede en seënwense tydens Janine se swangerskap.

“Die omtrek van my eintlike ‘familie’ is asembenewend. Ek ontmoet hulle saans by konserte, vir drie dekades reeds. Hulle bid vir my en my gesin, hulle berei spyse voor, hulle brei komberse al van 2016 af en ek lees in hul oë dat hulle werklik omgee. God seën my nie net nie, Hy trek my voor. Al lankal. Ek is steeds die dankbaarste Boere-Suid-Afrikaner in die Melkweg,” sê hy.

Die sanger, wat veral uitgesproke is oor Suid-Afrika se huidige politieke klimaat, sê hy woon juis nog in dié land omdat hy hoop het vir “gewone Suid-Afrikaners”. Elke geboorte – ook dié van sy Romy-Lee – is ʼn geleentheid vir ommeswaai in die land.

“Ek is hoogs skepties en pessimisties oor ons land, sy politiek korrekte beleid, die Marxistiese narratief en ons kastige leiers,” sê hy streng. “Maar ek kon lankal immigreer en sal nie, juis oor Suid-Afrikaners. Gewone Suid-Afrikaners. Ons is goeie mense. En ek moet daaraan vashou. Wanneer ek my bek rek, is dit gewoonlik slegs wanneer vir my gedemonstreer word dat my kultuur se oorlewing, my behoefte aan ʼn vrye mark, my vryspraak en trots asook my kinders se toekoms in die verkeerde mense se hande is.”

Watter rol moet ʼn ouer dus in die lewe van sy kinders vertolk? “Sodra jy jou laaste universiteit prysgegee het, sodra jou volksgebruike en Afrikanerskap taboe is op jou radiostasies en in jou pers, sodra jou geestelike handhawing gekortwiek word en jou kinders gestraf word vir dinge waarvan hulle niks weet nie, is die laaste agente van jou-manier-van-lewe, jou ouers.”

Die klein Romy-Lee (Foto: Facebook)

Vir nou is die politieke bestel egter die laaste waarop hy fokus – om die waarheid te sê, hy kan op niks anders as sy vrou en kleinding fokus nie, vertel hy. “Janine het nog nie ophou glimlag nie. Die nege maande was vir haar ’n plesier en die geboorte [ʼn keisersnee] ’n voorreg. Ons bid al lank vir dié enetjie. Ek stel Romy-Lee die week aan die res van die familie voor. Ons verkies dit om nie besoekers in die hospitaal te kry nie.”

Daar is wel een ding wat deur haar lewe vir die gesin belangrik is én deurentyd belangrik gaan bly, sê hy. Dít is die volgende: “Om nie tyd te mors nie. Om elke oomblik as ’n geleentheid te sien. Om God ook in klein detail te herken. Om altyd dankie en asseblief te sê. Om ouer mense, kinders, diere en musiek uit te sonder as Godsgesante.”

Hofmeyr het vyf ander kinders, Charissa (28), Armand (26), Devon (22), Sebastian (14) en Benjamin (12). Hy en Janine is in Januarie 2014 getroud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Geluk ·

Baie geluk julle twee! As sy enigsins net n tikkie van haar ouboet Armand se mooi maniere kry gaan julle bars van vreugde!

Yolande ·

Steve neem groot asb n foto met al 6 jou kinders bymekaar toe man! Mens sien hul nooit saam nie!

hester van niekerk ·

ag rerig johanna ek dink nie hy mors sy tyd of gedagtes aan nr 1 wat eintlik n 0 is nie.geluk steve en janine

Corne ·

So kosbaar! Ek en my kosbare man het vyf kinders. Verstaan die groot trots in jou/jul hart! Enriched! Enjoy!!!

Siestog ·

Baie geluk julle. Jy’s ‘n yster ou Steve. Mag sy baie geluk en vreugde bring vir haar. Ek dink die boeties en sussie gaan lekker pop speel.

trots afrikaans ·

Eerstens : veels geluk Steve en Janine !
Tweedens: Romy Lee? Wanneer gaan ons weer ons kinders afrikaanse name begin gee. Ai.

Mariaan ·

Baie baie geluk Steve en Janine, met die geboorte van julle pragtige volmaakte pereltjie ! Grootste geskenk van Bo en julle verdien al die geluk innie wereld! Bly vir julle! Geniet haar elke oomblik……!

Ano ·

Hoop die man gaan nou geld bele in ‘n vasektomie! Genade tog!

jo-ann ·

#ano …uhmmmm dude….Hy betaal sy dues…….
Al het hy nog tien…sorg…SORG HY!!

MyGrootPa ·

Mens hoef net na die wonder van nuwe lewe te kyk om te besef dat daar ‘n liefdevolle God is.

Suzette Kuhn ·

Baie geluk Steve en Janine….Kinders is ‘n geskenk van die Here! Mag sy vir julle en julle gesin baie vreugde en plesier bring! Julle het so lank gewag vir haar, daarom is sy ekstra spesiaal!

Hanna ·

Baie geluk julle twee. Mag sy vir julle groot vreugde bring. Ano jy is net jaloers. Steve kan maar spog hoop sy word ook eendag n Super Ster !!!

Priscilla ·

Baie Geluk Steve & Janine. Jul verdien geluk. Mag jul absoluut net vreugde beleef. Dis absoluut n geskenk van bo om n bondeltjie vreugde vas te hou.

Kopskud ·

Dankie, Ploegskaar!!
Ek wil niks van die man hoor of lees of sien of weet nie. Hy maak van elke woord ‘n maaltyd en dan swing die gepeupel aan sy lippe. Ek wonder net of al die ander sy asem ook so weggeslaan het.
In die land van die blindes……….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.