Studiefonds skep hoop vir duisende studente

student-biblioteek-studeer-unsplash-pixabay

Helpende Hand se Studiefondssentrum het reeds duisende studente gehelp om te studeer. Foto: Unsplash/Pixabay.com

Solidariteit Helpende Hand se studiefondssentrum het vanjaar ʼn rekordgetal van R40 miljoen bestee om studente aan universiteite reg oor Suid-Afrika met finansiële hulp vir hul studie by te staan.

“Ons het hierdie jaar meer aansoeke as voorheen ontvang, maar ons is ook bevoorreg om meer studente as ooit te kon help,” het Stefan Pieterse, hoof van die studiefondssentrum, gesê.

Volgens Pieterse is die rede vir die groot aantal aansoeke ʼn swak regering, ʼn sukkelende ekonomie, werkloosheid en swart ekonomiese bemagtiging. Tog glo hy daar is hoop vir jong mense wat wil gaan studeer en ʼn blink toekoms wink vir dié studente.

Die studiefondssentrum spog met ʼn terugbetalingskoers van 98% op rentevrye studielenings waar ander organisasie wat beurse aan studente verskaf sukkel om ʼn terugbetalingskoers van 2% te handhaaf.

“Ons sukses lê in studente se bereidwilligheid om die hulp wat aan hulle verleen is terug te betaal,” het Pieterse gesê.

Hy meen die sogenaamde verlore middelklas van studente wat te ryk is om vir studiehulp en beurse te kwalifiseer is ʼn groterwordende werklikheid in Suid-Afrika. “Ons sien dit in die soort aansoeke wat ons ontvang, meestal van studente wie se ouers gewone mense met ʼn middelkas-inkomste is. Hulle kan eenvoudig net nie die hoë koste van tersiêre studie bekostig nie,” het Pieterse gesê. Hy meen dit is te verstane as jy reken ʼn jaar se koste vir die gemiddelde kursus beloop tussen R36 000 en R40 000. “As ʼn mens geld vir verblyf, kos, vervoer en handboeke inreken kan ʼn vierjaarkursus ʼn ouer maklik tot R400 000 uit die sak jaag.”

Pieterse het gesê sy volgende doelwit met die studiefondssentrum is om dit uit te brei sodat dit binnekort 5 000 studente per jaar kan help om verder te studeer. “Dit sal bekendstaan as Projek 5 000 en dit sal in die afsienbare toekoms van stapel gestuur word. Ons glo dit sal ʼn beduidende effek op Suid-Afrika ekonomie hê wanneer ons kan verseker dat 5 000 mense per jaar die arbeidsmark met tersiêre kwalifikasies kan betree.”

Belangstellendes kan die Studiefondssentrum se webwerf besoek om uit te vind hoe om ʼn studiefonds te stig vir studente of om ʼn bydrae tot die sentrum te maak.

Studente wat in 2018 wil gaan studeer kan tot en met 30 September 2017 aansoek om ʼn rentevrye studielening doen deur die Studiefondssentrum se webwerf te besoek.

  • Luister gerus bo aan hierdie berig na ʼn onderhoud waarin Stefan Pieterse, hoof van Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum, met Esté Meyer Jansen gesels oor die sentrum se suksesse en waarom hy enigiemand sou aanmoedig om in studente se toekoms te belê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marita ·

Ek studeer met ‘n Helpende Hand lening. Daarsonder sou dit nie vir my moontlik gewees het nie. Julle het geen idee hoe dankbaar ons as ontvangers van die lenings is nie.

MCH ·

Dit is met groot dankbaarheid dat mens artikels soos hierdie lees. Solidariteit gee broodnodige uitkoms aan gewone mense wat bes moontlik op moedverloor se vlakte was betreffende hul kinders se opleiding. Dit neem voorwaar n ingryping soos die om uit die spiraal van magtelose ontoereikende middele te kom. Dit is matelose dankbaarheid wat mens vul wanneer die konstruktiewe werk onder ons mense oor vele te terreine heen gadegeslaan word. Die impak kan nie verreken word nie. Gooi daarby beperkte middele en jy staan verwonderd oor die resultaat van die werk. Dankie Solidariteit, baie dankie. Mag jul werk dertig, sestig en honderdvoudig vrug dra.

Karel Kat ·

My seun is tans besig om af te studeer by Sol-Tech. Die hulp wat ons van Helpende Hand gekry het, was deurslaggewend gewees in ons vermoë om hom verder te kon laat studeer.
Daarvoor sal ons altyd dankbaar wees teenoor Solidariteit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.