[Video] Ma van seun met ongeneeslike siekte: ‘Dís hoekom ek hoop het’

Die jong Aidan (Foto: Facebook)

ʼn Johannesburgse ma sê haar “geloof in die mensdom” is dié week herstel nadat lede van die metropolisie haar agtjarige seun, wat aan ʼn ongeneeslike en seldsame siekte ly, “op die hande gedra het”.

Melissa Botha het aan Maroela Media vertel haar seun, Aidan, is op 18 maande met die seldsame Costello-sindroom gediagnoseer. Dié sindroom affekteer groot dele van die liggaam – in Aidan se geval het hy onder meer ʼn gat in sy hart, leerprobleme en ook ʼn stryd met sy gewrigte. Persone met dié sindroom staan onder meer ʼn groot kans om mettertyd kanker te ontwikkel.

Aidan moet dus elke drie maande skanderings ondergaan en hy kan ook nie skoolgaan in ʼn normale model C-skool nie. Botha sê benewens dié uitdagings is hy skerp en boonop baie liefdevol.

Sy vertel die gesin was onlangs genoop om geruime tyd op die OR Tambo Internasionale Lughawe deur te bring aangesien haar ma, op wie hulle gewag het, se vlug vertraag was. Botha sê Aidan, wat nog altyd passievol is oor die polisie en veral opgewonde raak wanneer hy “die blou ligte sien en sirenes hoor”, het metropolisielede opgemerk terwyl hulle vir haar ma gewag het.

“Hy het gesê: ‘Gaan, mamma! Gaan! Ek wil daarheen gaan!’ Ons het na hulle gestap en hy het homself sommer aan die polisie voorgestel. Ek dink dit was vir hulle ʼn aangename verrassing – ek dink nie mense stap sommer na die polisie toe en begin hulle vra oor hulle koeëlvastebaadjies en sirenes nie,” vertel sy.

Die jong Aidan in die metropolisie se motor (Foto: Facebook)

Botha sê die polisie het toe aangebied om Aidan na een van die metropolisielede se motors te neem sodat hy kon sien hoe dié motor binne lyk.

“Dit was wonderlik om te sien hoe sy gesig van opwinding en geluk gloei – hulle het hom toegelaat om die sirenes te druk en in die motor te sit. Ek het ʼn video daarvan geneem wat intussen soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei het. Hy was gaande daaroor, hy wou nie sommer uitklim nie.”

Paramedici van ER24 het Aidan in Oktober verlede jaar in ʼn loeiende ambulans na ʼn hospitaal vervoer. Aidan het in sy paramedikus-uniform aangemeld en was vir die dag die jongste lid van ER24 se nooddienste. Paramedici het ook vir hom ʼn geskenkpakkie gegee.

Sy sê haar geloof in die mensdom word op ʼn daaglikse basis herstel. Haar wens is dat ander mense ook mense se goedheid – soos dié van die polisielede – kan raaksien.

“Ek dink ons almal wil net in ʼn wêreld leef wat meer geduldig is teenoor mense. Ek is bevoorreg om meer as gereeld die goedhartigheid van mense te sien. Ek sien die ongelooflikste deel van die mensdom wat ander mense nie noodwendig dikwels sien nie. Ek wens hierdie video herinner mense dat daar nog baie goedheid in mense is.”

Die jong Aidan saam met die metropolisie-beamptes (Foto: Facebook)

Die gesin was vroeër vanjaar in Orlando in die VSA gewees waar hulle ʼn konferensie oor Costello-sindroom bygewoon het. Hoewel dié sindroom ongeneeslik is, leer ʼn konferensie soos dié lyers en hul ouers heelwat oor hóé om met lyers te werk en hoe om die toestand op die beste moontlike manier te hanteer.

“Tydens dié konferensie het ons ook die geleentheid gehad om Disneyland te besoek. Dit was wonderlik om hierdie pad saam met hom te stap en meer te leer oor die uitdagings wat ons tans het en die uitdagings wat ons nog gaan ervaar.

“Ons beplan om in 2019 Baltimore toe te gaan vir nóg een van dié konferensies. Ek weet my seun gaan altyd aan dié sindroom ly, maar as ek sien hoeveel lewens hy aanraak en as ek elke keer daardie glimlag op sy gesig sien, weet ek daar is ʼn groot doel met hom.”

Vir meer inligting oor Aidan besoek die Raising Aidan Facebook-blad.

Posted by Raising Aidan on Saturday, October 14, 2017

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

omgee-harkie ·

ag dis ‘n mooi gebaar van die metro polisie se kant. Sien daar is nog mense wat omgee…al is hulle deesdae min :-)

Maretha ·

Kan nie anders om te sê dat die my hart bly gemaak het nie, ek het vanoggend gehoor toe sy op ‘n Radio stasie praat en sy was net so opgewonde soos die ou seuntjie – op die ou end van die dag is dit al wat ‘n Mamma wil hê dat jou kinders gelukkig moet wees en hierdie is so ‘n mooi ou spesiale seuntjie, ‘n tikkie mooi by die allerdaagse lelik in ons lewens …

Ouma ·

Ag dit is nou weer ‘n lekker goedvoel storie! Daar is nog soveel goed in die meeste mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.