VVOS-seminaar vir kleuteronderrig ʼn groot sukses

Hettie Britz by die VVOS se seminaar.

Hettie Brittz by die VVOS se seminaar (Foto: Jonathan Branders)

Meer as 1 000 onderwysers het die afgelope naweek die vereniging vir voorskoolse opvoeding en sorg (VVOS) se tweejaarlikse seminaar by Unisa bygewoon. Die oogmerk met die seminaar was om opvoeding en versorging van kleuters te bevorder deur die onderwysers met die nodige inligting toe te rus.

Marthie Stoltz, voorsitter van dié vereniging, sê vanjaar se seminaar was ʼn groot sukses.

Een van die sprekers, Hettie Brittz, het onderwysers onder meer geestelik versterk in ʼn reeks gesprekke wat sy aangebied het. Daar was ook toeligting oor die reëls en wette van ʼn kleuterskool se buitespeelarea.

Ander sprekers was onder andere Karyna le Roux, ʼn kinderkinetikus, en Isabelle Venter, ʼn bobaasstorieverteller.

“Isabelle het al in verskeie biblioteke stories voorgelees en sy het so ʼn opwindende manier om ʼn storie te vertel,” verduidelik Stoltz. “Sy woon in Dallas, maar ons het gehoor sy kom hier in Suid-Afrika kuier en het haar toe genooi om by ons seminaar die onderwysers te kom toespreek.”

Al die onderwysers by die kursus (Foto: Mia Ecroignard)

Die skrywer van die boek ‘Waar Bome Groei’ saam met die onderwysers (Foto: Jonathan Branders)

Stoltz vertel die vereniging bestaan al 74 jaar. “Dit het destyds ontstaan as die Transvaalse vereniging vir kleuteropvoeding. Vanjaar het mense wat vroeër deel was van hierdie vereniging ons seminaar bygewoon en hulle was verbaas oor die goeie bywoning.” Onderwysers, dagmoeders en studente kan lede word van VVOS en toerusting ontvang vir die uitvoering van hul taak.

“Ons is baie bevoorreg om so baie belangstelling te hê. Ons sien die honger wat die mense in die beroep het en ons het uitstekende terugvoer gekry van dié wat daar was.”

Verskeie onderwysinstellings soos Aros, Centurion Akademie, Unisa en die Universiteit van Johannesburg was vanjaar eregaste by die seminaar.

Almal wat hierdie seminaar bygewoon het, het VVOS se tydskrif, Kleuterklanke, ontvang, wat temabeplanning en hulpbronne vir lesse uiteensit. Elkeen het ook ʼn gratis storieboek, Waar bome groei, ontvang.

VVOS bied reg deur die jaar landswyd werksessies aan.

Vir meer inligting besoek die VVOS-webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.