Weldoeners maak harte, beursies oop vir dié matrieks

Matriekafskeid

Argieffoto (Foto: Unsplash, Pixabay)

Minstens 24 minderbevoorregte matrieks van Pretoria kan nou, danksy weldoeners, die matriekafskeid van hul drome kry.

Maroela Media het vroeër berig oor ʼn weldoener van Pretoria wat ʼn 18-jarige meisie se droom om haar matriekafskeid by te woon, waar gemaak het.

Die weldoener, wat anoniem wil bly, het aan Maroela Media vertel sy het “toevallig” van Ronel se petalje op Maroela Media te hore gekom na aanleiding van ʼn storie oor ʼn bruid van Kanada wie se rok, net voor haar troue, tydens ʼn brand verwoes is. Sy sê sy was onmiddellik geroer deur dié storie. Ronel se ouers, wat in Kuruman woon, is nadelig getref deur mynafleggings en kon gevolglik nie haar matriekafskeid bekostig nie.

“Ek kan nie vir jou sê waarom ek besluit het om betrokke te raak nie,” het die weldoener gesê. “Gewoonlik loop ek sirkels om sulke gevalle want ek verpersoonlik dit en kan myself nie op ʼn afstand hou nie. Maar die Here het dit op my hart gedruk om betrokke te raak.”

Sy het intussen ʼn rok, grimering en vervoer vir Ronel gereël. Dié storie het intussen gesneeubal.

“Mense het van wyd en syd in die kommentaarveld gevra hoe hulle betrokke kan raak. Daar was ook ander ma’s wat gesê het hulle kort ook hulp,” het sy gesê.

Verskeie weldoeners soos grimeerkunstenaars, naeltegnici en haarkappers, motorhandelaars en selfs organisasies soos Solidariteit Helpende Hand het intussen kragte gesnoer om vir minderbevoorregte kinders ʼn matriekafskeid te verseker. BMW het intussen ook motors aangebied om die kinders na die onthaal te vervoer.

“Die eerste groep van 20 meisies en vier seuns van ʼn skool in Pretoria gaan eerskomende Saterdag die klere aanpas. ʼn Man het selfs sy gastehuis aangebied waar die matrieks kan gereedmaak vir hulle afskeid voordat hulle na die onthaal vervoer word.”

Sy sê dit bly egter vir haar belangrik dat die meisies en seuns hul waardigheid behou. “Mense maak hulle harte en beursies oop om ʼn matriekafskeid vir dié kinders moontlik te maak. Maar ons wil vir die kinders iets spesiaal doen – ʼn nuwe rok of ʼn nuwe das,” het sy gesê.

Die groep weldoeners gaan binnekort bepaal hoeveel leerders van ʼn ander skool ook hulp benodig. “Kinders is sku om vorentoe te kom omdat hulle skaam kry. Maar met verloop van tyd sê meer mense hulle kort hulp. Ons kan dit nie alleen doen nie – daarom vra ons almal se hulp.”

Vir meer besonderhede skakel 071 879 9995 of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

wil my susie help ·

Goeie middag. Is hier regtig niem*,d wat ons kan help nie , ons bly nou we’ll in vryheid in natal , my ma sit sonder werk , my pa is oor lede, ek is al een wat werk my susie se matriek afskeid is. 29 september. 2016. Enige hulp sal wardeur word my salaris. Is klein maar ek probeer help waar. Ek kan maar kan ogelikkig nie als self doen nie. Ek kry skaam om te vra maar kan regtig nie anders nie

Met Liefde ·

Soos ek altyd sê, ek belowe niks maar kom ons kyk hoe ons jou ook kan help. Sit jou kontak besonderhede vir my op dan kontak ek jou in volgende week.

Magda ·

Baie dankie aan almal wat hulle harte oopmaak vir die kinders.

Anoniem ·

Dit is wonderlik dat mense nog bereid is om hulle harte so oop te maak, ons fokus baie graag op al die negatiewe van die allerdaagse lewe, en om so iets te lees laat mens sien dat daar wel nog so baie positief is om op te fokus. Is daar moontlik bank besonderhede sodat mens ‘n finansiele bydrae kan maak?

Jolandie ·

In Pretoria is die Matriekafskeid Projek op Facebook. Seuns en meisies wat hulp nodig het, kan gerus die jong dametjie kontak wat dit alles reel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.