Wenke om doeltreffend te leer

photo-1471970471555-19d4b113e9ed-1Beste Susan

 Ek wil so graag my graad 8-dogter help om meer doeltreffend te leer. Dit voel vir my sy sit soveel tyd in en die resultate is net nie so goed soos sy verwag nie. Het jy enige wenke of studietegnieke?

 Baie dankie vir jou raad.

 Linda

 

Liewe Linda

Daar is baie studiemetodes en na gelang van die inhoud wat bestudeer moet word, moet mens kies watter een die beste gaan werk.

Die O-VLOK-H-metode word deur baie opvoeders en onderwysers aanbeveel as dié metode wat leerders kan gebruik om die meeste vakke te leer.

Kom ons kyk hoe dit werk:

 

Die O-VLOK-H-metode

 In hierdie metode staan die O vir oorsig, die V vir vrae stel, die L vir lees, die volgende O vir opsom, die K vir kontrole en die H vir hersiening.

Kom ons neem aan ons moet biologie studeer, en in besonder die volgende paragraaf aangaande selle:

In 1665 was Robert Hooke die eerste persoon om die term “sel” te gebruik. Hy het dit gebruik om die struktuur van kurk te beskryf.

 Die eerste persoon om selle deur die gebruik van ’n eenvoudige mikroskoop te identifiseer, was Leeuwenhoek, in 1674. Hy het gesien dat selle ’n kern en sekere ander eienskappe het.

 Tussen 1838 en 1839 het verskeie wetenskaplikes Leeuwenhoek se werk voortgesit en hulle navorsing het daartoe gelei dat die botanis Schleiden en die dierkundige Schwamm hulle selteorie bekend gemaak het. Al die biologiese wetenskappe is gegrond op hulle selteorie. Hulle het die sel as die fundamentele eenheid van lewe beskryf.

 Aangaande selle se funksionaliteit kan ons sê dat die meeste selle die volgende eienskappe besit:

 Die vermoë om op eksterne stimuli te reageer, soos byvoorbeeld spiere wat saamtrek en korter en dikker word. Senuwee-selle reageer ook op stimulering; wanneer ’n senu-sel geprikkel of gestimuleer word, kan dit ’n senu-impuls voortbring wat dan verder gestuur word.

 Die vermoë om te beweeg wanneer hulle gestimuleer word. Spierselle kan byvoorbeeld baie beweeg. ’n Ander voorbeeld is die haarselle in ons ore.

 Metabolisme: Metabolisme is die chemiese aktiwiteite in die selle wat nodig is om lewe in stand te hou. Ons onderskei tussen anabolisme wat die opbou van nuwe stowwe is en katabolisme, die afbreek van komplekse materiaal tot meer eenvoudige stowwe.

 Groei en self-multiplisering deur selverdeling vind plaas wanneer anaboliese prosesse in selle die kataboliese prosesse oorskry, wat daartoe lei dat die sel se massa en volume vermeerder; die sel groei dan.

 

Kom ons leer dit nou deur die O-VLOK-H-metode te gebruik:

Stap 1: Oorsig

 Lees oorsigtelik oor die gedeelte, wees op die uitkyk vir idees, feite, datums, ensovoorts en begin solank dink aan vrae oor die inhoud van die stuk.

Stap 2: Vrae

 Formuleer nou vrae oor die inhoud. Ek noem ’n paar voorbeelde van vrae en ek sit die antwoorde in hakies by, maar in hierdie stadium is dit voldoende om net eers die moontlike vrae te identifiseer.

Jou eerste vraag kan byvoorbeeld wees: Waaroor gaan hierdie deel? (Antwoord: Die eerste wetenskaplikes wat selle geïdentifiseer het en vier eienskappe van selle.)

Vraag: Wie het die term “sel” eerste gebruik? (Antwoord: Robert Hooke)

Vraag: Wanneer het Robert Hooke die term “sel” gebruik? (Antwoord: 1665)

Vraag: Wie was die eerste persoon om ’n sel onder ʼn mikroskoop te bestudeer en afleidings te maak? (Antwoord: Leeuwenhoek)

Vraag: Wat sê hierdie deel vir my aangaande selle? (Antwoord: Dat hulle sekere eienskappe besit.)

Vraag: Wat is die vier eienskappe van selle in hierdie deel van die werk? (Antwoord: Hulle reageer op stimuli, hulle beweeg, hulle metaboliseer en hulle groei.)

Stap 3: Lees           

Jy het nou die gedeelte oorsigtelik gelees en vrae gestel oor die inhoud. Jou volgende stap is nou om dit aktief te lees. Aktief lees beteken lees met die bedoeling om die kennis te verkry waarmee jy jou vrae wat jy in stap 2 gestel het, te beantwoord. Wees versigtig om nie passief te lees nie; wees betrokke by die inhoud wat jy moet leer. As dit jou help om sleutelwoorde te onderstreep terwyl jy lees, doen dit in potlood. Jy kan ook sleutelwoorde in rympies gebruik, of in ’n storietjie laat ineenskakel sodat jy dit beter onthou.

Stap 4: Opsom

 Jy kan nou opsê of neerskryf wat jy gelees het. Baie leerders hou daarvan om hulle antwoorde op die vrae wat hulle gestel het in stap 2, neer te skryf, maar ander hou weer daarvan om dit op te sê, byvoorbeeld:

  • Wie was die eerste wetenskaplike wat ’n sel deur middel van ’n mikroskoop geïdentifiseer het? Leeuwenhoek.
  • Tussen watter jare is sy werk voortgesit? 1838 en 1839. Ensovoorts.

Maak seker dat jy hierdie vrae in jou eie woorde beantwoord, want deur dit te doen, maak jy die inligting jou eie. Leerders wat van teken hou, sal dalk verkies om die inligting grafies op te som, prentjies te teken, of kleure te gebruik wat hulle assosieer met sekere feite. Wees gerus kreatief! Tabelle, breinkaarte en vloeidiagramme kan ook gebruik word.

Stap 5: Kontrole

Maak seker al die inligting is opgesom/opgesê.

Stap 6: Hersiening

Gaan weer deur die werk, gaan deur die vrae wat jy geformuleer het en maak seker jy ken die werk. Neem nou ’n stuk papier en skryf ʼn toets sonder om na die werk te kyk.

Indien jy nog vashaak, herhaal stappe 5 en 6. Jy kan die inligting wat jy vergeet weer aktief gaan lees, en weer neerskryf of opsê. Herhaal tot jy weet jy ken jou werk.

Linda en dogter, ons het nou net ’n kort stukkie leerinhoud behandel, maar langer paragrawe en hoofstukke kan op dieselfde manier geleer word. Baie leerders verkies om lang gedeeltes in hanteerbare stukke op te breek en so te leer. Onthou egter om jou werk op logiese plekke te verdeel deur nie die eenheid van die stuk te verbreek nie. Maak ook seker dat jy jou opskrifte ken EN weet wat die toepaslike inhoud is wat onder die opskrifte val, sodat jy in die toets of eksamen die regte antwoorde op die vrae kan gee.

Alles van die beste.

Groete

Susan oor Skoolkwessies

Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae aan [email protected]. Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ʼn skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ʼn opvoedkundekenner en erkende skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar praktiese ondervinding. Sy het ʼn BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ʼn BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde- en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 26 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webwerf met meer as 580 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za.

 

 

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.