Jou gesig spreek boekdele


Marthie se boek. Foto: Facebook/ Marthie Maré.

Marthie se boek wat die wetenskap van Fisionomie verduidelik. Foto: Facebook/ Marthie Maré.

ʼn Mens se gesig spreek boekdele oor jou persoonlikheid, die manier hoe jy ʼn probleem benader en selfs hoe jy dink. Met die regte vaardighede is dit moontlik om baie inligting van ʼn persoon te gesig te bekom, deur bloot na hom te kyk.

Marthie Maré van Face Profile SA is ʼn fisionoom (ook bekend as ʼn gesigontleder) wat hierdie vaardighede het. Sy ontleed gesigte deur na die struktuur, vorm en grootte van iemand se gelaatstrekke te kyk en na aanleiding van daardie ontleding kan sy iets oor die betrokke persoon se persoonlikheid en denkwyse sê.

“Ek kan aspekte van ʼn persoon se karakter opsom, soos sien wat die persoon se denkwyse is deur te kyk na die vorm van die voorkop, of ek kan sien hoe gefokus die persoon op detail is deur die verspreiding van die hare en die wenkbroue. Elke gelaatstrek verteenwoordig ʼn aspek van jou persoonlikheid. Dis ʼn ongelooflike stelsel wat vir jou baie inligting in ʼn kort tyd gee.”

Marthie sê hierdie wetenskap is baie akkuraat en die ontleding vind stap-vir-stap plaas. ʼn Volledige ontleding vat ongeveer ʼn uur, waarin sy na elke aspek van jou gesig kyk en al hierdie dele met mekaar integreer omdat elke deel mekaar beïnvloed.

Die ontleding kyk verby lyftaal, hoe jy praat, jou gesiguitdrukking en selfs grimering. Marthie sê sy kan selfs ʼn ontleding doen deur na ʼn foto te kyk.

“Dit moet ʼn huidige foto wees. Met ʼn ou foto, wat byvoorbeeld vyf jaar gelede geneem is, kan ek steeds die ontleding doen, maar dan gaan die ontleding pas by hoe die persoon vyf jaar gelede was.”

Sy meen daar sal beslis ʼn verandering wees in die ontleding soos wat die jare verbygaan, omdat ʼn mens elke dag groei en die manier hoe jy leef speel ook ʼn rol speel.

“Die hele idee agter fisionomie is om mense te leer om mekaar beter te verstaan en natuurlik ook erkenning te gee daaraan dat mense anders dink en doen as jy.”

Luister na die podsending om te hoor hoe Marthie een van Maroela Media se joernaliste ontleed.

Besoek Face Profile SA se webtuiste vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Pieter ·

Hierdie is n pseudo wetenskap, nie wetenskaplik nie, ek is teleurgesteld dat Maroela wat so kredietwaardig is die parktyk dekking gee.

Dan ·

Ons is terug in die middel-eeue toe daar geglo was dat die aarde plat is en mense as misdadigers gekenmerk kan word aan hoe hul gesigte lyk. Beide blyk toe allemintige fabels te wees en laasgemelde kon tot vandag op geen wetenskaplike grondslag bevestig word nie. Hierdie snert van gesigsontleding is bloot ‘n goedkoop advertensie, maar ‘n groot deel van ons mense gaan dit soos soetkoek opeet. Dit is nou dieselfde mense wie glo dat Hofmeyr, die DA, Orania, Casper de Vries, Afriforum, Dowwe Dolla en dies meer, die Afrikaner uit die moeras waarin hy huidiglik versink is, gaan haal. Leef lekker voort in jul droomwêreld hierdie is presies die tipe snert wat jul sal fassineer.

E ·

My bybel sê die oë is die venster tot jou siel.
Net dit.
As daar nog verse is wat uitbrei op ander gesigsdele sal ek dit glo.

Monique ·

Dis weereens wonderlik om te sien dat mense weereens negatiewe kommentaar lewer op iets waarvan hulle niks weet nie. Het een van julle ooit hierdie boek opgetel en gelees? Hierdie is nie ‘n pseudo wetenskap nie en word deur die CIA ook gebruik.

Pieter ·

Monique, wie gee jou die reg om te sê ons weet niks nie? Wie sê Ek is nie n mediese spesialis nie? Jy moet nie aannames maak nie, of net als glo wat jy hoor nie, dit kan jou sleg benadeel.

Marthie Maré ·

Pieter, ek is die skrywer van Legkaart van jou gesig. Elkeen is natuurlik geregtig op sy/haar opinie oor enige onderwerp. Ek was aanvanklik (veral terwyl ek dit nagevors het) self skepties oor fisionomie. Daar is in my opinie ‘n hele klomp snert al daaroor geskryf. Mense is ook geneig om dinge soos die Sjinese Siang Mien (face reading) met fisionomie te verbind/verwar, wat hul siening daaroor beïnvloed. My mening is dat fisionomie ‘n kragtige stelsel is wat ‘n mens prakties in jou daaglikse lewe kan gebruik om ander beter te verstaan. Dit help om konflik te vermy en verhoudings en kommunikasie te bevorder. Begrip + verdraagsaamheid = liefde en vrede. Jy is welkom om my te kontak by [email protected] indien jy enige navrae of kommentaar het. Groete Marthie

Pieter ·

More Marthie, ek het jou boek al in ‘n boekwinkel gesien, so vinnig deurgeblaai en was baie beindruk met die aanbieding. Dit is nie maklik om my te oortuig nie maar ek sal dit ‘n kans gee.

WONDER NET ·

Daar is ook die woorde wat se ‘ don’t judge a book by its cover”

Riaan ·

Ja ek het aanvanklik gedink dis net nog ‘n gewoordvleggery die – kamma my gesig lees. Tot sy myne gelees het. En vir my goed van myself vertel het wat ek baie beslis NOOIT vir haar gese het nie. Toe kry ek die boek ook en lees dit deur – dit was ‘n baie goeie oefening. Ek het baie van myself geleer hiermee. So ja, mense sal maar altyd goed afmaak as kaf as hulle te doen kry met goed wat buite hulle verwysingsraamwerk val – maar moenie dit sondermeer so afmaak as jy nie eers die moeite gedoen het om ten minste ‘n afspraak te maak met haar en eerstehandse ervaring daarvan op te tel nie. Kry maar gerus al die inligting voor jy ‘n oordeel fel van agter jou rekenaar.

Marthie Maré ·

Dankie Riaan, dit was ‘n voorreg om jou te leer ken. Mense wonder soms of ek nie heldersiende is wanneer ek sekere karaktereienskappe uitlig/aanspreek nie. Dis ‘n algemene, maar ook natuurlike reaksie omdat die ontledings so blootstellend akkuraat is.

Catherine Williams ·

Ek was aanvanklik skepties en het die boek gelees. Dit het baie vir my beteken in my interpersoonlike verhoudings en ek kyk met nuwe oë na die mense om my. Ek verstaan hulle beter. En dit is wat saak maak vir my. Ek sal graag meer wil lees oor hierdie onderwerp en veral in Afrikaans.

Marthie Maré ·

Dankie vir jou kommentaar, Catherine. Daar is ‘n paar interessante tydskrifartikels op my webtuiste (www.faceprofilesa.co.za) in Afrikaans beskikbaar. Ek is ook tans besig om ‘n opvolgboek te skryf waarin ek praktiese gevallestudies ook insluit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.