Mensehandel: Dié Karoo-kinderhuis het jou hulp nodig

Sit jou voet neer se 16 dae-aktivisme teen mensehandel (Foto: Verskaf)

Sit jou voet neer se 16 dae-aktivisme teen mensehandel (Foto: Verskaf)

Mensehandel: ʼn Bedryf wat wêreldwyd vinniger groei as enige ander kriminele bedryf. Só vinnig dat Suid-Afrika, te danke aan skrikwekkende statistieke, onder een van die top tien Afrikalande gereken word.

Die probleem met dié kwessie is “volstruispolitiek”, meen Elanie Kruger, skrywer van die mensehandelboek Van skoolbank tot bordeelbed. Kruger, ook ʼn mensehandel-slagoffer, het vroeër in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê Suid-Afrikaners is grootliks oningelig en verkeer onder die wanindruk dat slawerny en mensehandel nie iets is wat in dié land gebeur nie – hulle draai as’t ware hul koppe van die probleem af weg.

Die Verenigde Nasies se Kantoor vir Dwelms en Misdaad (UNODC) het onlangs in ʼn verslag gesê seksuele uitbuiting is die algemeenste geïdentifiseerde vorm van mensehandel, gevolg deur gedwonge arbeid. Met ʼn waarde van om en by $32 miljard per jaar, is mensehandel die derde mees lonende onwettige handel naas wapens en dwelms.

Mensehandel is egter nie ʼn internasionale verskynsel nie: dit gebeur daagliks in Suid-Afrika. Volgens dié verslag word kinders van so jonk as nege jaar in prostitusie gedwing – alles die gevolg van mensehandel.

Daarom het die “Sit jou voet neer”-veltog vanjaar ʼn nuwe missie: Die veldtog wil 16 dae van bewusmaking teen mensehandel in Suid-Afrika bewerkstellig.

Verskeie nie-winsgewende organisasies, onder wie Women’sNet, Girl’sNet en 1000 Women’s Trust, het hande gevat met Anex (Activists networking against the exploitation of children) om vanjaar ʼn kinderhuis in Murraysburg te open as ʼn veilige hawe vir die kwesbare jeug van die Karoo.

Die nie-winsgewende organisasies gaan verder ook saam met vervoermaatskappye werk om die kwessie van mensehandel te hanteer om die N1 veiliger te maak. Claudia Burger, programdirekteur van Anex, het in ʼn verklaring gesê die veldtog wil spesifiek fokus op mensehandel langs die N1, omdat dié roete ʼn baie groter gevaar vir mense inhou as wat hulle besef.

Vakansiegangers word gemaan om enige klere en ander huishoudelike items aan die kinderhuis te skenk (Foto: Verskaf)

Vakansiegangers word gemaan om enige klere en ander huishoudelike items aan die kinderhuis te skenk (Foto: Verskaf)

“Baie mense sal geskok wees as hulle weet wat daagliks langs die besigste roetes in ons land gebeur. Kwesbare jeug, uit arm gemeenskappe, is dikwels die prooi vir smokkelaars omdat hulle die jongmense lok met beloftes van ʼn beter lewe in die groter stede. Baie arbeids- en sekshandelslagoffers besef dikwels nie eens hulle is misdaadslagoffers nie,” het sy gesê.

Die kinderhuis in Murraysburg sal aanvanklik ʼn tuiste vir 40 jongmense van die Eden-Karoo wees. Die naaste veilige hawe vir die jeug van die distrik is tans in George.

Burger meen die huis gaan ook ʼn hulpbronsentrum vir gesinne word. “Daar is ʼn groot behoefte aan alternatiewe sorg vir kinders wie se huislike omstandighede versleg tot ʼn punt waar die hof beveel dat hulle in spesiale sorg geneem moet word.

“Ons wil ouers help om die bande met hul kinders te herbou in ʼn omgewing wat vriendelik en ondersteunend is. Murraysburg is een van die armste gemeenskappe in die land en daar is baie gebroke families,” het sy bygevoeg.

ʼn Groep drawwers spring ook op 6 Desember weg om die afstand tussen Rawsonville en Beaufort-Wes af te lê in die hoop om skenkings en donasies vir die kindershuis en veldtog te werf. Hulle gaan na verwagting ook deur Touwsriver, Laingsburg and Leeu-Gamka draf.

Hoe kan ek help?

Die kinderhuis gaan ingerig word om soos ʼn huis vir die kinders te voel. Baie huishoudelike goedere word daarvoor benodig. Vakansiegangers wat dié vakansie langs die N1 reis, word gevra om skenkings aan die kinderhuis te maak. Jy kan ook ou kombuisware, boeke, speelgoed en klere by die BP Garage in Beaufort-Wes (170 Donkinstraat) aflaai. Daar sal ook van 6 – 10 Oktober ʼn stalletjie in Beaufort-Wes wees waar donasies afgegee kan word.

Ondersteun ook die drawwers langs die N1 deur donasies te maak.

Vir meer inligting, besoek die Sit jou voet neer-Facebook-blad en op Twitter.

Kontak ook vir Hannelie by 083 460 3710 en stuur ʼn e-pos na [email protected].

Lees meer oor die Sit jou voet neer-veldtog op Maroela Media.

Bron: UNODC, UNICEF SA,

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

E.K. ·

Fantasties projek – ek gaan beslis betrokke raak! Ek hoop tog so mense wat met vakansie gaan sal hier lees en ietsie aflaai by die betrokke punt. Versprei ook die woord aan almal wat op die roete gaan ry asb!

Theresa ·

Sou insiggewend wees om dan meer te weet van die onveiligheid by bv die N1. Kan iemand ‘n artikel skryf waarin daar meer detail gegee word. Waar spesifiek; hoe word mense genader deur die skuim? waar slaan hul graag toe? Is dit net jongmense? Tog sekerlik ook nie net meisies nie?? So ‘n uiteensetting kan behulpsaam wees en mense kan voorkomend optree.

Eend ·

Hierdie wrede misdaad neem toe omdat die wereld obsessief is met die “menseregte” van misdadigers. Hierdie handelaars en hulle kliente moet doodstraf kry, so eenvoudig soos dit. Probleem opgelos. Maar nee ons moet mos liberaal wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.