Die jeug se waardes

jeug-tieners-tekkies

Foto: Pixabay.com

Deur dr. Jeanette De Klerk-Luttig

Die ekonoom Christo Luüs skryf (Die Burger, 19 Mei 2014) baie insiggewend oor die faktore wat ’n land suksesvol maak. Sukses hang nie af van die hoeveelheid natuurlike hulpbronne waaroor ’n land beskik nie, ook nie van die ouderdom van ’n land nie, en dit is ook nie afhanklik van ras of velkleur nie. Die werklike verskil tussen lande lê gewoon by die ingesteldheid van die mense wat oor jare deur onderwys en kultuur gevorm word.

Volgens Luüs bly mense in arm lande arm omdat hulle nie die regte ingesteldheid of beginsels het nie. Dit kan verander word deur ’n goeie onderwysstelsel wat dit van jongs af by leerders tuisbring.

Die beginsels of kernwaardes wat vooruitstrewende lande se bevolkings rig, is: etiese, korrupsievrye optrede; integriteit; verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid; respek vir reëls, regulasies en die regte van ander; ’n kultuur van hardwerkendheid; werktrots en spaarsaamheid; die wil om verantwoordelikheid vir jou toekoms te aanvaar, asook stiptelikheid en gedissiplineerdheid.

Al dié beginsels kan saamgevat word in een begrip: ’n sterk karakter. So gesien, lê die sleutel tot ons land se sukses of mislukking in die geslaagdheid al dan nie van die karakteropvoeding van ons kinders. Sukses hang dus daarvan af of ouers en onderwysers kernwaardes soos respek, verantwoordelikheid, hardwerkendheid, integriteit en selfdissipline in ons kinders kan vestig.

Karakteropvoeding is egter kompleks en multidimensioneel en vind nooit in ’n vakuum plaas nie, maar in ’n netwerk van verhoudinge. Boonop kan konteks kernwaardes opeet voor ontbyt!

Kernwaardes

Sodat kinders hulle op ’n dieper vlak tot kernwaardes verbind, moet die volgende gebeur:

  • Hulle vereenselwig hulle met betekenisvolle ander wat die waardes uitleef.

Waardes word oorgedra in ’n web van betekenisvolle verhoudinge. Wanneer kinders kernwaardes in hul verhouding met hul ouers en onderwysers beleef, maak hulle dit hul eie en word dit deel van hul karakter. Die gehalte van die karakter van die volwassenes, asook die gehalte van hul verhouding met die kinders, is deurslaggewend vir die sukses van karakteropvoeding. Die werklikheid in ons land is dat, behalwe die ongeveer 5,2 miljoen weeskinders, daar kinders is wie se ouers negatiewe morele rolmodelle is; en ongelukkig is talle onderwysers negatiewe rolmodelle van onverantwoordelikheid, oneerbiedigheid en ongedissiplineerdheid.

In ’n eksperiment het die sielkundige Philippe Rushton aan 140 laerskoolleerders munte gegee wanneer hulle ’n speletjie gewen het. Hulle kon dit hou of vir arm kinders gee. Leerders het daarna gekyk na ’n video van óf ’n onderwyser wat baie selfsugtig opgetree het óf ’n onselfsugtige en mededeelsame onderwyser. Toe is vir albei groepe leerders gepreek oor die waarde van mededeelsaamheid.

’n Ander groep het net na die video van ’n onselfsugtige rolmodel gekyk, sonder enige preek.

Die groep wat na die selfsugtige volwassene gekyk het, was baie meer selfsugtig as die ander groepe wat ruim gegee het.

Toe die eksperiment twee maande later herhaal is, was die leerders wat sonder die preek die onselfsugtige optrede van die rolmodel gesien het, die onselfsugtigste van almal. Kinders leer mededeelsaamheid en omgee deur waarneming van rolmodelle en nie soseer deur woorde nie.

  • Kinders en jong mense het dus talle positiewe morele modelle nodig wat kernwaardes uitleef.

Hulle het ’n groot behoefte aan sportmanne en -vroue sonder voete van klei; sangers en akteurs met nie net talent nie, maar ook karakter; afrigters en onderwysers met morele moed; en politici en sakeleiers wat integriteit het. Kinders het waardes “met ’n vel om” nodig om dit te kan internaliseer. Daarom moet ons meer op positiewe morele rolmodelle fokus en hulle onder die vergrootglas plaas, op die TV en op die voorblaaie van tydskrifte.

  • Positiewe gedrag moet raakgesien en versterk word, en daar behoort negatiewe gevolge te wees vir gedrag wat lynreg met kernwaardes bots.

Karakterbou gaan veel meer oor die versterking van positiewe gedrag en houdings as die straf van die verkeerde. Ongelukkig word baie meer tyd en energie aan die moeilikheidmakers in die klas bestee as aan die leerders wat kernwaardes uitleef.

Die ironie is dat daar (tot op die hoogste vlak in ons land) dikwels nie negatiewe gevolge vir wangedrag is nie. Dit is asof die spreekwoord “keuses het gevolge” vervang is deur “misdaad betaal”. In slegs 3% van die diefstalgevalle wat aangemeld word, word iemand ná twee jaar veroordeel. In baie skole gaan die oneerbiedige optrede van leerders teenoor onderwysers ongestraf verby, en word verantwoordelikheid dikwels nie gevestig nie omdat leerders nie verantwoordbaar gehou mag word nie.

  • Kinders behoort vroeg betrokke te raak by morele debatte oor dit wat hulle sien, hoor en beleef.

Kinders moet gesien én gehoor word. Hulle moet kans kry om hul morele stem in gesprekke met ouers en onderwysers te ontwikkel en hul menings oor morele kwessies te formuleer, sodat dit krities geëvalueer en bespreek kan word.

  • Die ideaal is dat kinders en jong mense verskillende geleenthede sal kry om gedrag in te oefen waardeur waardes vasgelê word.

Aristoteles het gesê: “Ons is wat ons herhaaldelik doen.” ’n Sterk werksetiek word ontwikkel deur van jongs af gereeld hard te werk. Wanneer jong mense byvoorbeeld by ’n sopkombuis aktief besig is om kos te maak en uit te deel, leer hulle meer oor armoede, omgee en empatie as in enige formele les.

  • Waardes kan net suksesvol gevestig word indien daar in kinders se basiese behoeftes voorsien word.

Die feit dat die behoefte aan kos, veiligheid, liefde en aanvaarding, respek en ’n skoon en estetiese omgewing by soveel kinders in ons land nie aandag geniet nie, maak die vestiging van kernwaardes baie moeilik. Is dit vir ’n honger kind oneties om kos te steel, en besef ons die groot invloed wat ’n lelike en vuil omgewing op moraliteit het?

As ons nie die kernwaardes wat vir sukses nodig is, in ons huise en skole gevestig kry nie, sal ons verder op die ranglys van mededingendheid afgly; sal armoede, werkloosheid, korrupsie en wetteloosheid toeneem en ’n groot deel van die ongelooflike potensiaal in ons mooi land nie ontwikkel nie.

Kgalema Motlanthe, ons vorige adjunkpresident, het reeds gewaarsku:

“Values are never a given. They have got to be developed, worked upon, and consolidated on an ongoing basis. Because if at any given time we as a society or as sections of society become complacent about them, we run the risk of losing them.”

Gebeur dít dalk reeds?

  • Jeanette de Klerk-Luttig is betrokke by die Kantoor vir Morele Leierskap aan die Universiteit Stellenbosch, van waar sy skole en organisasies help om kernwaardes te vestig.
  • Die artikel word met erkenning aan die skrywer en Die Burger-dagblad geplaas waar die artikel eerste gepubliseer is.  

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Meer oor die FAK

Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en ons trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder. Vir meer inligting oor die FAK of om uit te vind hoe om by die organisasie aan te sluit skakel 012 301 1777 of stuur ’n e-pos aan fak@fak.org.za of besoek www.fak.org.za.

Deel van: Meningsvormers, Ouerskap

5 Kommentare

Liza ·

Dit gebeur beslis reeds, die jeug staan bakhand en wil net ontvang sonder om vir enige iets te werk. Kinders word ingestop en die ouers stel baie slegte voorbeelde vir hul kinders. Ek moes aanhoor hoe ‘n ma vir haar dogter wat detensie gekry het as gevolg van die feit dat sy by die skool gerook het en gevang is se “Jy moet sorg jy word nie gevang nie” Regtig! Basiese beginsels van goeie maniere en integriteit bestaan nie meer nie….en dit is oral dieselfde. Jongmans is slapgat en die meisies is losser as ‘n tuinhekkie! Red nou ‘n nasie!

eish ·

Voorwaar n raakvat artikel! Ongelukkig is die sleepsel Afrika reeds verby die “point of no return” Die enigste opsie oor is om op mikrovlak, dws gesinsverband, te red wat te rede is. Verder om jou kroos se skool baie, baie versigtig te kies en buitengewoon betrokke te wees daarby. Die lewenswyse kan slegs sinvol uitgeleef word waar Christelike beginsels die grondslag vorm anders ontbreek die motivering vir nastrewing in n omgewing waar jongmense gebombardeer word met n alternatiewe lewenstyl. Dit verskaf ook die drakrag soda uit die beskermde omgewing uitbeweeg word. Dis n ” tall order”. Sterk wees!

Wouter ·

Kinders leer by hul ouers. Partykeer ook verkeerde maats en keuses. Daar is twee dinge wat ñ kind MOET weet. Dat haar/sy ouers mekaar liefhet en dat hul veilig moet voel. En as hul iets aanvang wat nie jou goedkeuring wegdra nie, praat die probleem aan. Nie haar karakter nie. Kinders grootmaak is nie die voltap van ñ emmer nie, maar die aansteek van ñ vuur.

E ·

Ek stem dat daar by die huis die meeste waardes geleer word, maar dink bietjie uit ń kind se waarneming. Hulle word by die skool geleer van human rights en Geskiedenis het nou verander na Ghandi ens. en die onderdrukking van mense deur hul eie ouers. Hul word gereeld herinner dat hul baie versigtig moet wees en nie rasistiesse aanmerkings mag maak nie. Daar breek dalk ń bakleiery onder die seuns uit dan moet arme mnr. vinnig die boetties in sy kantoor spreek om tog hulself in te hou want eintlik mag hul niks sê nie anders is daar groot moeilikheid vir hulle en homself by die departement. Groot furstrasie vir almal. In die aande dan hoor hulle pa en ma kyk nuus en sien die hoof van ons land al giggelende oor ernstige sake lag! Pa’s kla alewig oor die werksomstamdighede en dat die besigheid maar swak is. BEE is goed wat hul ken en pa se furstrasie en skelwoorde moet asb net nie by skool uitblaker anders…
Neewat dis nie die kinders se skuld nie dis die grootmense. Kyk die swak voorbeeld kom van bo. Steel, bedrog, rasissme, moord, eiewaan, geldgierigheid…
Vandag word hul in hokkies groot met games xbox ens. want dit is tog te gevaarlik in die strate. Geen meer fietsry, toktokkie en al daai lekker stoute dinge wat ons as kinder mekaar mee vermaak het nie
Shame moet net nie jul bekkies verbypraat nie
Geen vryheid meer vir ons kinders!! Dis ń skande.

René Erwee ·

So pragtig en verstaanbaar verwoord. Ek los tans af in ‘n onderwyspos en daar is feitlik in elke klas elemente wat jou entoesiasme, die lig in jou oë blus. Die meerderheid is lieflike kinders wie se tyd en aanprysing geroof word deur die minderheid. Die liggaamshouding en ongesproke negatiwiteit intimideer onderwysers en goeie leerders. Ouers sal geskok wees om te sien hoe daardie negatiewe leerders hul opvoeding vertrap, of die gebrek daaraan gestand doen.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.