Die skoolprojek-strikvraag

boys-286245_640.jpg

Foto: pixabay.com

[promosie-artikel]

Danielle Barfoot

As jou kind met ’n projek by die huis opdaag of hy ’n meesterstuk uit macaroni of ’n skouspelagtige model van die sonnestelsel moet skep, ontstaan ’n belangrike vraag: Hoe betrokke moet jy raak?

As ouers wil ons graag ons kinders help omdat ons wil hê dat hulle goed moet presteer en omdat ons hulle selfbeeld ’n hupstoot wil gee. Boonop is dit soveel vinniger om die werk self te doen! Ons het immers beter navorsings-, kuns- en skryfvaardighede.

Maar die doelwit van skoolprojekte is om te bepaal hoe ’n kind vorder en wat hy weet, en die oogmerk is om hom toe te laat om foute te maak én nuwe vaardighede aan te leer. Kinders moet eerder leer om projekte self te doen, selfs al is dit aanvaarbaar om perfekte projekte wat deur ouers geskep is in te gee, al beteken dit hy kry ’n C in plaas van ’n A.

Deur enige deel van ’n projek namens jou kind te voltooi, ontneem jy hom van die geleentheid om daardie spesifieke kennis of vaardigheid aan te leer. Navorsing toon dat ouers wat te veel beheer uitoefen as dit by skoolwerk kom, hul kinders eintlik minder geïnteresseerd en minder bekwaam maak. Studies dui selfs daarop dat beherende ouerskap met laer vlakke van motivering en swakker selfbestuur verband hou; kwessies wat nie net by kinders se ontwikkeling en welstand aansluit nie, maar wat ook bydra tot hulle sukses as gelukkige, funksionerende volwassenes.

Beteken dit dat jy jou kind sy eie gang moet laat gaan? Beslis nie! Jy moet net weet hoe en wanneer om te help, asook wanneer om terug te staan.

Wanneer jou kind met ’n projek by die huis aankom:

  • Kyk na wat die projek vereis en help jou kind om te beplan wanneer hy elke deel gaan voltooi. Moenie die hele projek vir hom beplan nie.
  • Stel sleutelwoorde voor vir aanlyn-navorsing. Moenie die navorsing namens jou kind doen nie.
  • Voorsien die nodige materiaal en gereedskap om die taak te voltooi. Moenie inmeng tensy volwasse vaardighede of toesig benodig word nie.
  • Wys spelfoute of onduidelike inhoud uit. Moenie sy foute regmaak of sy werk oorskryf nie.
  • Neem waar en gee raad. Moenie enigiets doen wat hy vir homself kan doen nie!

Projekte bied ’n uitstekende geleentheid om kinders te leer om vindingryk te wees, om op die poging eerder as die uitslae te fokus, en om die belangrikheid van behoorlike tydsbestuur te beklemtoon. Deur jou kind toe te laat om die werk self te doen, kan hy ook ’n paar belangrike lewenslesse leer, soos:

  • As ek hard werk, kan ek my doelwitte bereik.
  • Dit was moeilik, maar ek het dit reggekry!
  • Ek het dalk nie dié keer sukses behaal nie, maar ek gaan weer probeer.

As jy werklik jou kind wil bemagtig om ’n onafhanklike en selfonderhoudende volwassene te wees, kan jy begin deur hom toe te laat om sy eie huiswerk en projekte aan te pak. Wanneer hy klaar is, prys sy poging! Dit mag dalk nie perfek wees nie, maar dit sal presies wees wat dit veronderstel is om te wees: die werk van ’n kind!

Artikel verskaf deur Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.