Drie oefeninge om jou kind se kreatiwiteit te verbeter

Foto: dreamstime.com

Foto: dreamstime.com

Hello Susan

Ek is bekommerd omdat my kinders nie kreatief genoeg is nie. My oudste seun is ses jaar oud. Hy en ʼn maatjie het gister in die agterplaas gespeel. Sy maatjie het gemaak asof hy ʼn dinosaurus is en al wat my seun kon sê is, “daar is gʼn dinosaurusse nie.” Hy speel nooit kamma-kamma nie, om die waarheid te sê, hy speel selde. Hy kyk so ʼn bietjie TV. Sy jonger broer is ook so. Wat’s fout?

Annelle

 

Liewe Anelle,

In die vorige rubriek het ons tot die gevolgtrekking gekom dat kreatiwiteit, net soos musikale of atletiese vermoëns, verbeter kan word deur opleiding en gefokusde oefening. Een van ons lesers het twee boeke voorgestel wat jy kan gebruik om jou kinders se kreatiwiteit te bevorder. Soos belowe, deel ek drie oefeninge hier, wat ook van hulp sal wees vir jou, sowel as ander mammas.

Die eerste oefening leer kinders om kreatief te dink op ʼn konkrete vlak, die tweede op ʼn skematiese vlak en die derde op abstrakte vlak. Gee jou seun die skematiese een nadat hy kreatiewe denke op konkrete vlak bemeester het en doen daarna die abstrakte vlak wanneer hy kreatiewe denke op skematiese vlak baasgeraak het.

Oefening 1

In hierdie oefening moet die een of ander objek beskryf word, byvoorbeeld ʼn groot vierkantige Lego blokkie. Neem die blokkie, wys dit vir hom en vra: “Kan jy hierdie blokkie vir my beskryf?” Hy moet soveel eienskappe van die blokkie as moontlik opnoem. As hy vassteek, kan hy deur goedgemikte vrae gelei word, byvoorbeeld:

  • “Hoe lyk die kante?”
  • “Hoe lyk die sye?”
  • “Hoe lyk die hoeke?”
  • “Hoeveel hoeke is daar?”
  • “Hoeveel kante is daar?”
  • “Hoeveel sye?”
  • “Is die blokkie groot of klein?”
  • “Is dit lig of swaar?”

Nadat hy die blokkie beskryf het, moet hy probeer om dit wat hy objektief waargeneem het, toe te pas. Dit kan gedoen word deur vrae soos die volgende aan hom te stel:

  • “Wat kan alles met so ʼn blokkie gedoen word?” (Byvoorbeeld, die kante kan gebruik word om reguit lyne te trek; patroontjies kan daarmee op klei of deeg gedruk word; iets kan binne-in gehou word, byvoorbeeld sand of water of voëlsaad; ensovoorts.)
  • “Indien jy iets aan die blokkie sou byvoeg of verander, wat sal jy dan daarmee kon maak?” (Byvoorbeeld, deur ʼn stukkie spons in die holte te druk, kan ʼn speldekussinkie gemaak word; deur die blokkie warm te maak en uit te rek, kan ʼn reghoek gemaak word; ensovoorts.)
  • “Van watter ander materiaal, behalwe plastiek, kan sulke blokkies gemaak word?” (Byvoorbeeld, hout, glas, klip, klei, ensovoorts.)

Enige ander voorwerp kan gebruik word en op dieselfde wyse hanteer word, byvoorbeeld ʼn potlood, ʼn pen, ʼn papierklemmetjie, ʼn vuurhoutjiedosie, ensovoorts.

Oefening 2

In die vorige oefening is die een of ander konkrete voorwerp gebruik vir beskrywing. In hierdie oefening word skematiese voorstellings gebruik, byvoorbeeld ʼn vierkant, ʼn sirkel, ʼn driehoek, ensovoorts.

Teken byvoorbeeld ʼn sirkel op ʼn stuk papier en begin, net soos in die vorige oefening, eers met ʼn beskrywing. Hy kan byvoorbeeld sê dit is ʼn sirkel, dit is rond, dit bestaan uit ʼn krom lyn sonder enige einde, die radius is oral ewe lank, ensovoorts.

Hierna kan jy hom vra wat hierdie skema alles kan voorstel. ʼn Sirkel lyk byvoorbeeld soos ʼn bal, die aarde, die son, ʼn bord, ʼn piering, die boonste rand van ʼn koppie, die letter O, ensovoorts.

Oefening 3

Die doel van hierdie oefening is om abstrakte denke te bevorder. Jy moet dus slegs ʼn verbale beroep op die kind se ervaringswêreld doen. Geen konkrete voorwerpe of selfs skematiese voorstellings word gebruik nie.

Voorbeelde is soos volg:

  • “Noem soveel dinge op as wat jy kan, wat rooi (of enige ander kleur) is.”
  • “Noem soveel dinge op as wat jy kan, wat rond (of vierkantig, ensovoorts) is.”
  • “Noem soveel moontlik dinge op wat ʼn mens kan bly (of kwaad, ensovoorts) maak.”
  • “Noem soveel moontlik verskillende wyses op waarop iemand kan optree as hy kwaad word.”
  • “Met watter emosies assosieer jy die kleur rooi?” (Of enige ander kleur.)
  • “Wat kan jy alles met klippe (of enige ander objekte) doen?” (Byvoorbeeld, dit kan dien as ʼn papiergewig, juwele van kan sekere klippe gemaak word, ʼn huis kan met klippe gebou word, ensovoorts.)
  • “Indien jy op ʼn eiland gestrand sou wees, wat sal jy alles kon doen om verbygaande skepe se aandag te trek?” (Byvoorbeeld ʼn groot vuur maak, jou hemp uittrek en dit in die lug waai, hard skree, ensovoorts.)

Beste wense,
Susan oor Skoolwessies

 

Vra vir Susan oor Skoolkwessies:
Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae aan [email protected]. Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ʼn skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.

Meer oor Susan:
Susan du Plessis is ʼn opvoedkundekenner en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar praktiese ondervinding. Sy het ʼn BA Honneursgraad in Sielkunde, sowel as ʼn BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 26 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webtuiste met meer as 510 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sandra ·

Dankie vir die praktiese artikel, ek kan sommer sien hoe dit n verskil maak!

John ·

Annelle, ek kies jou seuns enige tyd. Hulle klink vir my baie meer in pas met die werklikheid; regte seuns wat nie ‘n poppie sal gryp en agter mammie se rokpante wegkruip sodra ‘n bang muis verby skarrel nie. Vertrou die gene wat die Skepper hul toebedeel het. Hulle is ook nie van die vroulike geslag soos jy nie. Jy is anders en het in jou kleintyd soos ‘n dogtertjie gespeel. Ontspan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.