Fedsas baan weg vir skoolbeheer-opleiding

skool klaskamer skoolhoof

Argieffoto

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) se eerste leerderberaad in die Wes-Kaap die afgelope week word beskou as ʼn belegging vir die toekoms van skoolbeheer-opleiding.

Fedsas is ’n vrywillige vereniging van skoolbeheerliggame van openbare skole en staan die behoud en bevordering van gehalte-onderwys in dié skole voor.

Dié leerderberaad het onlangs in Kaapstad plaasgevind en is bygewoon deur 98 leerders van 41 skole in die Wes-Kaap. Die leerders dien almal as lede van skoolbeheerliggame. Dié leerders verteenwoordig skole in verarmde gemeenskappe sowel as stedelike en plattelandse gebiede.

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van Fedsas, het gesê dié beraad was so suksesvol dat daar reeds besluit is om dit ʼn jaarlikse projek te maak.

Die doel van die beraad was om leerders bewus te maak van hul rol en funksie as lede van die beheerliggaam, maar ook breër in terme van die leierskapsrol wat hulle in die skool vertolk.

“Te oordeel na die terugvoering wat ons van leerders ontvang het, het die beraad beslis in hierdie doel geslaag. Een van die leerders van die Lentegeur Sekondêre Skool in Mitchells Plain is só geïnspireer deur die beraad dat sy besluit het om deeltyds te begin werk ten einde haar droom te verwesenlik om universiteit toe te gaan.”

Die aanbieder was die leierskapskenner, Manie Botha, wat met sy interaktiewe aanbieding die beste uit die leerders na vore gebring het.

Ander sprekers het die skrywer en radiopersoonlikheid Heindrich Wyngaardt, Cheryl Allen van die Wes-Kaapse onderwysdepartement en Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas, ingesluit. Die sangeres Nadine Blom het die leerders vermaak.

“Om op hierdie manier in leerders se toekoms te belê, is nie net tot voordeel van elkeen wat aan die beraad deelgeneem het nie. Dit is ook ’n belegging in die toekoms van onderwys in Suid-Afrika, want hierdie leerders het nou reeds op ’n jong ouderdom blootstelling aan en ervaring van skoolbeheer en -bestuur,” het Deacon gesê.

Fedsas stel reeds ondersoek in na die moontlikheid om die opleiding uit te brei na ander provinsies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.