Gateway to Space: Binnekort in SA te sien

 ’n 1:10-skaalmodel van die eerste modulêre ruimtestasie. Die Sowjetse Mir-projek het bewys dit is moontlik om groot, permanente eksperimentplatforms in die Aarde se wentelbaan te bou. (Foto verskaf)

’n 1:10-skaalmodel van die eerste modulêre ruimtestasie. Die Sowjetse Mir-projek het bewys dit is moontlik om groot, permanente eksperimentplatforms in die Aarde se wentelbaan te bou. (Foto verskaf)

Ná ’n suksesvolle uitstalling in Europa is die uitstalling, Gateway to Space, binnekort in Suid-Afrika te sien.

Het jy al gewonder hoe dit voel om in die ruimte te wees? Dié uitstalling handel oor die mensdom se reis na die ruimte en is noukeurig saamgestel met die hulp van die US Space and Rocket Centre, ’n amptelike Nasa-besoekersentrum. Dis werklik ’n uitsonderlike ervaring waar jy selfs die geleentheid sal kry om aan ’n maanklip te vat!

Meer as 60 ruimte-aantreklikhede, onder meer ’n regte maanklip, ’n lewensgrootte replika van die Mir-ruimtestasie se kernmodule, ’n Sputnik 1-model en die kans om ’n model van die Apollo-kapsule te sien, vorm deel van die uitstalling.

Gateway to Space: Die Uitstalling, word aangebied deur Huisgenoot, YOU en Drum en bring vir die eerste keer die groot avontuur van ruimteverkenning na Suid-Afrika. Ervaar die wonder en drama van die mens se reise na die ruimte – vanaf 1903 en tot in die toekoms, wanneer die mens na Mars sal reis – saam met ’n uitsonderlike versameling ruimte-instrumente, -artefakte en die ruimtetuie wat drome uit die ou dae verwesenlik het.

Dit is die 1:4-skaalmodel van die Apollo-kapsule (Foto verskaf)

Dit is die 1:4-skaalmodel van die Apollo-kapsule (Foto verskaf)

“Die uitstalling word in 20 houers verskeep vanaf Boedapest (waar dit op die oomblik is), wat dit die grootste uitstalling maak wat tot dusver na Suid-Afrika gekom het,” het Minette Ferreira, woordvoerder van Media24, gesê. Wêreldwyd het al amper 1 miljoen mense na die uitstalling gestroom.

“Een van die menigte hoogtepunte is ’n replika van die Russiese ruimtestasie Mir se kernmodule, wat teen ’n helling staan om die effek van hoogte bo die aarde beter uit te beeld. Jy kan binne rondloop en ook ’n model van die vlieënierskajuit van so ’n stasie sien,” het sy bygevoeg.

Nog opwindende aantreklikhede by die uitstalling is vier oorspronklike ruimtepakke, die oorspronklike Multi Axis Trainer (MAT)* wat ruimtevaarders gebruik om voor te berei op hul ekspedisie, ’n kykie na hoe ’n regte ruimtetoilet lyk, die kos wat ruimtevaarders eet en ’n model van die Orion-kapsule, wat ontwerp is vir toekomstige ruimtevaarte na Mars.

Die lewensgroot gesplete vlugdekstel toon die tipiese vaartbeheerarea van ’n ruimtetuig.  (Foto verskaf)

Die lewensgroot gesplete vlugdekstel toon die tipiese vaartbeheerarea van ’n ruimtetuig. (Foto verskaf)

Van die jongspan wat hierdie items vir die eerste keer teëkom, tot die ouer geslag wat al geleef het toe die eerste mens op die maan geloop het, sal die Gateway to Space-uitstalling elkeen in die familie se verbeelding aangryp. Spesifieke tydgleuwe sal in werking wees vir besoekers om deur die uitstalling te stap en ’n reis deur die ruimte te ervaar, sowel as om ’n paar ekstra interaktiewe sessies te geniet. Kaartjies is beperk; bespreek dus vroegtydig om teleurstelling te voorkom.

Die uitstalling word van 1 Junie tot 31 Julie 2016 in die Sandton-konferensiesentrum aangebied.

Kaartjiepryse
Enkelkaartjie (volwassene): R180
Enkelkaartjie (kinders tussen 18 maande en 18 jaar): R120
Gesinskaartjie: R520 vir ’n gesin van vier.
Skoolpakkette is ook beskikbaar, en sluit ’n gratis kaartjie vir ’n volwassene in vir elke bespreking van 20 skoolkinders. Stuur ’n e-pos na [email protected] vir nog inligting of om te bespreek.
Alle kaartjies (behalwe skoolpakkette) is beskikbaar by Computicket.
Vir nog inligting oor dié opwindende uitstalling, gaan na www.gatewaytospace.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.