Hanteer eksamenstres só

Eksamen_kind_skryf.jpg

Foto: smh.com.au

[promosie-arikel]

Kinders van graad 4 tot graad 12 is gedurende eksamentyd onder geweldige druk, maar dit is nie net hulle wat spanning ervaar nie! Ouers stres ook oor hulle kinders se prestasie.

Alledaagse stres is ʼn normale deel van menswees, maar navorsing dui daarop eksamen-spesifieke stres ontstaan omdat onderwysers en ouers heeltemal te veel klem lê op die belangrikheid van eksamens. Boonop voel kinders dikwels dat hulle nie die nodige hulpbronne – soos studievaardighede of vakkennis – het om die eksamenproses doeltreffend te hanteer nie.

As ouer mag jy dalk instinktief voel jy wil alle struikelblokke uit jou kind se weg ruim, maar uitdagende ervarings soos eksamens is noodsaaklik vir die ontwikkeling van jou kind se interne vaardighede en hulpbronne en sal hom met die selfvertroue en emosionele herstelvermoë toerus om toekomstige uitdagings baas te raak.

Daar is natuurlik baie wat jy kán doen – verseker dat jou kind gesond eet, genoeg slaap en behoorlik vir die eksamens voorberei. Jou werk as ouer is egter ook om jou kind te help om stres en sy eie emosies doeltreffend te beheer.

Hoe kan jy help?

  • Verduidelik aan jou kind dit is normaal om stres te ervaar: Stres is ongemaklik, maar normaal wanneer ons ʼn uitdaging aanpak. Moenie probeer om jou kind teen die uitdaging te beskerm nie.
  • Leer jou kind om nie bang te wees vir mislukking nie: Hoewel dit belangrik is om seker te maak jou kind is gefokus, toegewyd en goed voorberei vir die eksamen, loop dinge soms skeef. Wanneer dit gebeur, maak seker jou kind weet sy waarde word nie aan sy prestasies gemeet nie. ʼn Bietjie perspektief help ook. Ja, die eksamen is belangrik, maar jou kind se hele lewe hang nie daarvan af nie (al mag dit op die oomblik so voel).
  • Moenie neul nie: Moenie neul as jy bekommerd is oor sy vlak van hersiening (of gebrek daaraan) nie. Al wat gaan gebeur is sy stresvlakke en sy teenstand gaan toeneem en hy gaan uiteindelik nog minder leer.
  • Weerstaan die versoeking om hom om te koop: Aansporings soos kontant vir goeie uitslae gaan net die druk op jou kind verhoog.
  • Moenie jou eie bekommernisse op jou kind terugkaats nie: Dit gaan net sy angstigheid vererger. Probeer eerder om na jou kind te luister en sy bekommernisse te absorbeer deur hom van sy vermoëns te verseker en hom gerus te stel.

Om jou kind te help om eksamenstres baas te raak, gaan uiteindelik oor jul albei se ingesteldheid teenoor dié uitdaging! En sou dinge nie uitwerk soos julle gehoop het nie, kan jy hom help om die uitkoms konstruktief te benader.

Artikel geskryf deur Danielle Barfoot, Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.