Leer so ‘n tweede taal in ‘n japtrap aan

Seun-hou-nie-van-huiswerk

Foto: Dreamstime.com

Hallo Susan,

My 14-jarige seun is tans in gr. 8. Hy sukkel met Engels as tweede taal en het tot dusver Engels net-net deurgeskuur. Ons gaan iets moet doen om hom te help want anders gaan hy beslis druip. My man het sy werk verloor en ons het dus nie geld om te spandeer nie.

Dankie,

Mariaan

Dagsê Mariaan,

Om ’n tweede taal aan te leer is ’n goeie ding want dit bevorder ’n mens se breinkrag. Navorsers aan die Universiteit van London het die brein van 105 mense bestudeer, waarvan 80 tweetalig was. Die navorsers het tot die gevolgtrekking gekom dat die aanleer van ’n nuwe taal ons grysstof op dieselfde manier verander as wat oefening ons spiere bou. Die aanleer van ’n tweede taal kan egter ’n groot uitdaging wees en, vir sommige, selfs ’n struikelblok op die pad na sukses.

Behalwe vir die voordele wat dit vir ons brein inhou, is dit belangrik dat ons kinders Engels magtig raak. Engels is tans die taal wat die meeste gebruik word, met meer as 1,8 miljard gebruikers wêreldwyd. Dis die taal wat gebruik word in die wetenskap, die tegnologie, internet en sport. Enige persoon se kans om akademies en in die werkplek suksesvol te wees, word geweldig verhoog indien hy of sy Engels behoorlik magtig is.

Om ’n tweede taal te kan aanleer verg dieselfde stappe as die aanleer van ’n eerste taal:

  1. Ons moet die taal behoorlik verstaan
  2. Ons moet daartoe in staat wees om die taal te praat
  3. Ons moet leer om te lees en te skryf in die taal

Verstaan die taal

Die enigste manier om taalvaardig te raak is om voldoende geleenthede te kry om die taal te hoor. Daar moet ook genoeg herhaling van dieselfde woorde, frases en grammatikale strukture wees.

’n Praktiese manier waarop ’n mens ’n kind kan blootstel aan genoeg geleenthede om ’n taal te hoor is deur hom te laat luister na opnames of stories in daardie taal. Sulke opnames of stories moet nie langer as tien minute wees nie. Maak ’n opname van die storie en maak seker jy lees dit so duidelik moontlik. ’n Ander alternatief is om ’n gepaste storie aan te koop. Dan het ’n mens net ’n CD-speler, iPod of MP3-speler met ’n outomatiese terugspeelfunksie nodig.

Hierdie opname, in julle geval ’n Engelse een, moet nou daagliks vir ten minste ’n uur vir jou seun gespeel word. Dis egter nie nodig dat hy stilsit en daarna luister nie; skep eerder ’n agtergrond van taal daarmee sodat hy met ander aktiwiteite kan voortgaan terwyl die opname in die agtergrond speel. Stel die volume sodat die woorde duidelik hoorbaar is, maar nie so hard dat dit steurend is nie. Hierdie opname kan byvoorbeeld in die agtergrond speel terwyl hy soggens gereed maak om skool toe te gaan, en op pad na die skool. Na min of meer ses weke kan dieselfde prosedure gevolg word, maar met ’n nuwe storie. Laat jou seun aanhoudend daarna luister, weereens vir ten minste ses weke.

 Praat die taal

Moedig jou kind aan om ’n  Engelse vriend te kry sodat daar iemand is met wie hy Engels kan praat.

Lees en skryf die taal

Maak klein kaartjies met die Engelse woord op die een kant en die Afrikaanse vertaling agterop. Die woord immediately sal dan byvoorbeeld op die voorkant staan, met die woord onmiddellik agterop. Laat jou seun eers net vyf sulke woordkaartjies bestudeer en voeg elke keer vyf nuwe woordkaartjies by wanneer hy die vorige vyf bemeester het. Met “bemeester” bedoel ek die betekenis ken, die woord kan lees en korrek kan spel. Hersien gereeld sy kennis van die ouer woordkaartjies.

Die bevordering van ’n kind se kognitiewe vaardighede, veral ouditiewe prosessering en ouditiewe geheue, sal die proses om ’n tweede taal aan te leer aansienlik versnel.

Mariaan, ek vertrou hierdie advies sal jou kind help om suksesvol te wees.

Alles van die beste.

Susan oor Skoolkwessies

Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae na [email protected]

Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ’n skuilnaam as jy verkies om anoniem te bly.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ’n opvoedkundige spesialis en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar se praktiese ondervinding. Sy het ’n BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ’n BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 22 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webtuiste met meer as 450 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Koos ·

1.8 biljoen gebruikers? onmoontlik. Onthou dat ‘n “billion” in engels is ‘n miljard in afrikaans . Daar is tans ongeveer 7 miljard mense op aarde waarvan waarskynlik 1.8 miljard engels magtig is. Ek vermoed ‘n biljoen in afrikaans is gelykstaande aan ‘n trillion in engels.

Sune van Heerden ·

Dagsê Koos

Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.