ʼn Mens se ouers

Argieffoto (Foto: peterjamesanthony, Pixabay)

Deur Juliana Coetzer

In September 2012 skryf Anne-Marie Taylor op haar blog: “Dit is ʼn f*-op as mens se ma dood is.” Tot vandag, vyf jaar daarna, is die storie al meer as honderd duisend keer gelees en steeds word die blog besoek. Sy het ʼn diep aar raakgeboor wat by almal van ons ʼn emosie ontlok: Wat as jou ma nie meer daar is nie? Die mens wat tussen jou en die wêreld staan, die een wat jou beskerm teen die lewe se swaar, waar jy jou kop kan gaan neerlê teen ʼn warm bors, die een wat vir jou bid en by wie jy huil. Die een wat die minste eet sodat die kinders genoeg het en haar geld opoffer ter wille van die gesin se behoeftes. Dit is inderdaad ʼn ontsettende verlies as die toevlug nie meer daar is nie. Jy is op jou eie. ʼn Vreesaanjaende gedagte.

Iemand het eendag by sy pa se begrafnis gesê: “Dit voel of dood in ʼn ry afgaan en as jou pa dood is, is jy mos outomaties die volgende een. Niemand staan meer tussen jou en die onvermydelike nie.” Die een met wie jy oor finansies kan praat, belang het in jou huis en ryding en raad gee uit sy eie ervaring. Die een wat jou nog durf aanpraat. Die voorsiener van sekuriteit. Die een wat trots is op jou en dit in sy oë wys en jou aanmoedig om die beste van jou lewe te maak. Skielik is hy stil, maar bly sy stem in jou kop agter.

Wanneer hulle nie meer daar is nie, is jy die grootmens, by die diepkant ingegooi.

Maar wat as jou ouers nie dood is nie? En jy een oggend besef hulle is nie meer dieselfde nie. Hulle is daar, maar ook nie heeltemal nie. Geleidelik het jy deur die jare gesien hoe hulle liggame verander. Hier ʼn skeet en daar ʼn kromming. Plooie is meer en velle hang losser. Hare word grys en val uit. Asynlappies op die voorkop maak plek vir sterker medikasie. Geleidelik het die spiere strammer geword en jou ma buk nie meer so vroulik soos voorheen nie. Jou pa raak gouer moeg.

En dan word dit meer ernstig: Wanneer jy langs hulle stap, hou hulle aan jou arm vas en klim trappe moeiliker. Iemand wat nooit graag dokter toe gegaan het nie, het nou afsprake by ʼn spesialis. Stories word oor en oor vertel. Jou ma raak al hoe stiller in die geselskap; “kan nie meer so goed hoor nie, my kind”. Jy kom agter jou pa liplees. Oë word jaarliks getoets en die lense is al hoe dikker. Die geheue raak al hoe swakker en feite word vergeet. Jy word weer en weer gevra na inligting wat jy oor en oor moet herhaal. Kos word steeds gemaak, maar speserye ontbreek en is eenvoudig. Jy bring al hoe meer tyd langs ʼn hospitaalbed deur met knie- en heupvervangings en pasaangeërs.

Jy verloor jou ouer op ʼn ander manier as deur dood. Jy kan niks meer met hulle deel nie, want hulle raak gespanne vir jou onthalwe of verstaan net glad nie.

“Ek voel ʼn bietjie ontneem, sy is skielik nie meer my ma nie, al lewe sy nog,” vertel iemand.
“Ek moet nou na my pa omsien, die sterk, onafhanklike man wat altyd voorgeloop het en na wie almal opsien,” sê ʼn ander.

Die rolle is omgeruil en kinders begin na ouers omsien. Sterk en soms moeilike ouers, raak al hoe meer kwesbaar en afhanklik. As kind betree jy ʼn stadium wat al hoe meer van jou eis, jy word die toeskouer van verlies wat oor ʼn tyd verloop. Elke dag, maand of jaar ʼn bietjie meer. Jy word gekonfronteer met jou eie emosies van wanhoop, hartseer en kwaad. ʼn Ouer wat met ʼn ernstige siekte gediagnoseer word, het die onderskraging van sy familie nodig terwyl kinders self hul eie besige lewens moet balanseer. Die een wat voorheen na jou behoeftes omgesien het, is nou die afhanklike.

Indien kinders hul ouers se fisiese en kognitiewe agteruitgang as ʼn verlies beleef, kan hulle daarvan seker wees dat die ouers dieselfde, indien nie erger daaroor voel nie. Om te beleef hoe jy detail van jou lewe vergeet is vir enigeen ʼn verleentheid en ʼn bekommernis veral as daar skielik gate in jou geheue is wat jy om die dood nie kan invul nie. Jy besef jou liggaam wat stadiger word, is ʼn frustrasie vir kinders wat in die vinnige fase van hul lewe is en jy kry skaam omdat jy soos ʼn remskoen voel. Jy probeer dit wegsteek dat jy nie meer aan die ekskursies kan deelneem nie en bly stil oor jou skete, want jy wil nie ʼn las wees nie.

“Ek kan nie meer onthou nie,” het my ma eendag gesê.
“Dit is okay ma, ek kan ook nie meer aldag onthou nie,” het ek geantwoord.

Vandag is ek jammer oor my onsensitiewe reaksie, want nou voel ek baie nader aan waar sy was toe sy haar bekommernis uitgespreek het.
Dalk moes ek gesê het: “Dit is seker nie ʼn lekker gevoel nie.”

Want as iemand so reageer op my, sal dit my die geleentheid gee om te sê: “Dit maak my bekommerd. Ek wil nie voel of daar gate in my lewe is nie.”

Maar dit is so dat ons eers leer wanneer dit te laat is, wanneer ons die ouderdom aan ons eie lyf begin voel.

Wenke vir kinders
– Aanvaar dat jou ouers nie meer dieselfde is nie. Hul gesondheid en kognisie sal verander.
– Doen dinge stadiger en wees geduldig.
– Verwag minder op ʼn emosionele vlak. Ouer mense kan nie baie spanning hanteer nie en voel maklik hulpeloos wanneer hulle nie soos voorheen, kan help nie.
– Aanvaar hul frustrasie met hul omstandighede. Oudword is nie maklik nie en laat mense bang en uitgelewer voel.
– Laat hulle steeds hul eie keuses maak en so lank as moontlik outonoom optree.
– Vra hulle raad. Dit laat ʼn ouer van betekenis voel.
– Tree met respek op sodat hulle steeds hul waardigheid behou.
– Wys jou dankbaarheid. Ouers wil weet of hulle goeie ouers was.
– Stel belang al het hulle dalk nie veel te vertel nie.
– Luister opreg al het jy die storie 100 keer gehoor. En moenie die ouer afjak omdat jy moeg is om na die herhaling te luister nie.
– Tyd aan ʼn ouerwordende persoon is die grootste geskenk.

“I look in the mirror and the person I see
Is someone who used to be me
That person was strong and healthy, rarely ill
And her energy was endless, she never sat still.
The one day she disappeared behind my face
And a stranger took her place
I’m living in a body I no longer know,
And a pain from within me has begun to grow
.”
-Gabrielle Kruger

10 Kommentare

Valie ·

Niks is soos n ma wat vir haar kinders bid nie, n ma wat kan vlieg sonder vlerke en altyd bo haar omstandighede uitstyg, en n ma wat altyd in haar weduwee kruik nôg ietsie kry om te gee. .

Marisa ·

Wat ‘n voorreg om jou ouers so naby jou elke liewe dag/week/maand/jaar te hê dat jy kan stres oor hulle ouer word. My ouers het saam hulle eie paadjie geloop en ek glo nie enige een het opgelet na ‘ouer word’ nie. Alles het net doodnormaal die normale paadjie van die lewe geloop. Wat wel nie lekker was nie, was die heel laaste stadiums van hul lewens, en ons skielik nie anders kon as om kennis te neem dat dinge nie meer dieselfde is nie. Dis vir my baie erger om my EIE afdraande paadjie te moet loop.

Eish ·

For the nine months I carried you, holding you inside me – no charge.
For the nights I sat up with, doctored you and prayed for you – no charge.
For the time and tears and the cost through the years – no charge.
When you add it all up, the full cost of my love, is no charge.

Ria ·

My ouers is albei in hulle vroeë 70tigs.
Hulle bly in ‘n gevaarlike deel van SA op ‘n plaas.
Hulle wil niks weet van verkoop en trek nie…my pa het al 2 beroertes gehad wat sy spraak en beweging bietjie aangetas het.
My ma is ‘n kort klein vroutjie wat uit ‘n generasie kom waar vrouens nog nie besef het om onafhanklik te lewe nie.
As ek voorstelle maak van by my kom bly, lag my ma net.
My broer vlieg nou uit Australië sodat ons saam hulle kan oortuig van hulle kwesbare situasie.
Waar begin ‘n mens?

Jaun ·

Dis nie almal se pa’s wat voorgeloop het en iemand was om op staat te maak nie. Sommige van ons se pa’s het geleef asof jy nie bestaan nie. Die kere wat hy die moeite gedoen het om jou te bel en te sien oor die verloop van jou kinderlewe kan jy op jou hande tel. Maar nou dat hy oud, sieklik en afgeleef is, nou verwag hy en die familie jy moet die minste wees … ‘n Ouer wat leef en nooit sy liefde, trots, belangstelling vir sy kind uitgespreek het nie, laat daardie kind met ‘n doodsheid. Waarskynlik erger om te wonder of jy geliefd is as wanneer jou ouer dood is en jy weet jy het vir hulle als beteken.

Eish ·

Dit is dalk n goeie geleentheid om daardie verlore tyd terug te wen deur die wraakmonster nek om te draai deur uit te reik.
Die sesde gebod is die eerste met n belofte, en dit het ook nie voorwaardes gekoppel aan wanneer jy jou ouers moet eer nie, dit sê eer jou vader en jou moeder…
Onvoorwaardelik, sonder oordeel en in liefde.

pbotha ·

Wat n ongelooflike raakvat artikel is hierdie. Somtyds voel die kinders so ellendig ver verwyderd van jou as ouer. Somtyds verteer die verlange na nabyheid jou hele psige. Dan besef jy maar weer eens…oudword is nie vir sissies nie. Oudword is ook alleenword. Oudword is afgetakelword. Mens bid dat jou kinders dit sal verstaan. Jy is so dem aangewese op hul liefde en aandag. Tye het verander… wees ons genadig Heer.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.