Onderwysers leer ‘speel’

Foto: Verskaf

Altesaam 430 B.Ed-grondslagfasestudente (in hul tweede en derde jaar) het die voorreg gehad om ʼn leerervaring met die “Six Bricks Workshop” te hê. Foto: Verskaf

Aros (Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies) in Waverley, Pretoria, het ʼn besondere leerervaring gehad tydens ʼn werksessie wat deur Linda Smith van Care for Education en Hands on Tech, aangebied is.

Altesaam 430 B.Ed-grondslagfasestudente (in hul tweede en derde jaar) het die voorreg gehad om ʼn leerervaring met die “Six Bricks Workshop” te hê.

Die fokus hiervan is om “speel” en “leer” te herdefinieer deur slegs ses Duplo®-blokke te gebruik. Ons weet dat kinders optimaal leer wanneer hulle aangemoedig word om hul sosiale en akademiese vaardighede te ontwikkel deur te verken, interaktief op te tree, te skep en te speel. Speel is kinders se “werk”, en deur spel ontwikkel hulle kernleervaardighede – selfregulering, kreatiwiteit, nuuskierigheid en speelsheid.

Gedurende die werksessie het studente ervaar hoe om perseptuele vaardighede, taalvaardighede en wiskundevaardighede te ontwikkel deur met driedimensionele voorwerpe te werk. Luistervaardighede, kreatiwiteit, woordeskat, tel, groepering, getalbewaring, aftrek, kleurherkenning, sentrale fiksasie, perifere bewustheid, visuele diskriminasie, vergelyking, volgorde, bilaterale integrasie, kernspierontwikkeling, balans, middellynkruising, agtergrondbewustheid, gehoorgeheue en lateraliteit is slegs ʼn handjievol van die leerervarings wat deur Linda aangeraak is.

Die verrassing was dat Lego™ die Duplo®-blokke aan die studente geskenk het en Aros is baie dankbaar vir die skenking van digby R20 000. Die studente het ʼn geskrewe samevatting van hierdie leerervaring gegee en baie van hulle noem dat hulle reeds hierdie blokke op ʼn een-tot-een-grondslag met kinders toepas. Ongeveer 80% van die studente werk by skole of as au pairs, en die boodskap is duidelik: “Care for Education en Hands on Tech maak van die teorie ʼn praktyk, en lewer ʼn duidelike onderwysboodskap.”

Besoek Aros se webwerf vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.