Só raak jy wiskunde baas

kinders_wiskunde.jpg

Foto: Imgarcade.com

Vir sommige kinders (en ouers) is wiskunde ʼn nagmerrie en ʼn mens voel sommer moedeloos wanneer jy dié vak net nie onder die knie kan kry nie.

Karelien Kriel, ʼn onderwyser wat al tien jaar in wiskunde spesialiseer en wat ook al ʼn handboek op die gebied geskryf het, meen hoe ʼn kind oor wiskunde voel, is baie belangrik. “Die grootste fout wat ouers kan maak is om oor en oor te sê: ‘Ek kan nie wiskunde doen nie’.”

Sy sê kinders word van dan van kleins af gekondisioneer dat sy ouers nie wiskunde kan doen nie en daarom kan hy dit ook nie doen nie. Sy beveel aan dat ʼn mens eerder iets moet sê soos: “Ek weet nie nou hoe om hierdie som te doen nie, maar kom ons gaan kyk gou of ons die antwoord kan opspoor.” YouTube kan ook van hulp wees, voeg sy by.

Ondersteuning kan ook op ander maniere plaasvind en Karelien sê selfs iets soos ʼn broodjie en koeldrank kan help. “ʼn Mens se brein werk nie so lekker op ʼn honger maag nie. Boonop gaan jou kind voel jy ondersteun hom, want jy is daar en jy gee om.”

Sy meen jy moet ook na jou kind luister. “As hy op hoërskool eerder nie wiskunde wil doen nie omdat hy dit glad nie geniet nie, en meer aandag aan sy ander vakke wil gee – gaan dink daaroor na en gee hom ʼn kans om sy saak te stel.” Sy sê sommige ouers dwing hul kinders om aan te hou met wiskunde en dan dop hulle dit op die ou end en verloor hul matrikulasievrystelling – en kan dus nie aan ʼn universiteit studeer nie.

Wenke:

  • Dis belangrik vir jou kind om eerder dieselfde huiswerkoefening oor en oor te doen totdat hy elke vraag kan regkry sonder enige hulp van jou af.
  • Wanneer jou kind sy huiswerk die volgende dag in die klas merk, het hy nou die antwoorde om mee te kan oefen. Daarom moet hy eintlik die vrae wat hy van die vorige dag se huiswerk verkeerd gekry het, oor en oor oefen totdat hy dit kan regkry.
  • Moet nooit oefeninge doen waarvan jy nie die antwoorde het of waarvan jy nie die antwoorde by die onderwyser kan kry nie. Dit is nutteloos en ʼn mors van tyd.
  • Die belangrikste vir jou kind is om in die klas te luister en sy huiswerk elke dag te doen.
  • Dring daarop aan dat jou kind elke periode sy huiswerk in sy huiswerkboek skryf. Hier kan jy maar ʼn beloning aanbied as hy elke dag vir die hele week sy huiswerk in die huiswerkboek geskryf het.
  • Met toetse is die grootste fout wat jou kind kan maak, om net “oor die werk te kyk”. Hy moet eers al die reëls gaan leer en dan moet hy daadwerklik somme begin uitwerk – ja, al het hy al klaar die werk gedoen, moet hy weer ʼn paar somme van elke soort oefen voor die toets.
  • Alle opsommings of reëls moet in kleur omring word (ek verkies sommer ʼn wolkie) of ge-highlight As jy iets beter verstaan deur ʼn prentjie te teken, doen dit.
  • Wanneer jy kleur en prentjies saam met wiskunde gebruik, gebruik jy jou linker- én regterbrein. Dit help jou beter verstaan en onthou. Daar is niks erger as ʼn wit-en-swart wiskundeboek nie – ek hol sommer weg! (Jou kind ook!)
  • Jy moet vir jou kind ʼn ekstra boek koop of dalk ʼn lêer waarin hy sy leerwerk kan sit. As ouer moet jy seker maak dat jou kind wel somme geoefen het voor die toets. Een blad vol is nie altyd genoeg nie. Gaan kyk elke halfuur wat aangaan en vra hoe ver hy al is. As hy kla hy verstaan nie gebruik Google, YouTube of bel ʼn vriend.
  • As jou kind vertel juffrou het nooit daardie werk in die klas verduidelik nie – neem dit met ʼn knippie sout. ʼn Onderwyser sal hom nie laat toets skryf oor werk wat nié in die klas gedoen is nie. Daar mag dalk moeiliker vrae wees wat lyk asof hy dit nie gedoen het nie, maar elke toets het ʼn uitdagende vraag aan die einde – en dit moet een wees wat jy nog nie voorheen gesien het nie. Onthou, standaarde in die skool moet hoog gehou word.
  • Oefeninge en toetse word gewoonlik opgestel sodat die eerste derde baie maklik is en almal dit kan doen. Die tweede derde is bietjie moeiliker, maar nie ʼn te groot uitdaging nie en die laaste derde is lekker moeilike vrae. Dit word nie sommer reguit gevra nie en baie keer moet jy meer stappe doen of twee reëls saam gebruik om dit te kan doen.
  • Wanneer jy dus weer ʼn huiswerkoefening oordoen, maak seker jy kies vrae uit die begin, middel en einde van die oefening.

Besoek gerus mathlitshop.com vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.