Sosiale media en kinders: die moets en moenies

kinders-sosiale-media-01

Foto: Mindmake.com

Sosiale media het die wêreld oneindig verryk, maar dit kan ’n gevaarlike plek wees as jy sommer net kop eerste in die onbekende induik.

Gielie Hoffman, geestesbreier en leierskapskonsultant, het verlede week tydens die maandelikse Cool Chats-ouerskapsforum in Raslouw, Centurion, met ouers gesels oor hoe om hul kinders voor te berei vir die wêreld van Facebook, WhatsApp en Instagram.

“Ons is eintlik almal maar nog in ons kinderskoene as dit kom by sosiale media, en die handboek vir die gebruik van hierdie apps is ongelukkig nog nie geskryf nie. Ek dink egter ouers kan die beste rolmodel vir hul kinders wees as dit by die gebruik van sosiale media kom. Vra jouself wat deel jý op sosiale media, met wie is jy vriende en wat doen jy veral in ’n oomblik van woede?” het Hoffman gesê.

Hy het ouers aangemoedig om deurentyd met hul kinders te gesels en ʼn ooreenkoms vas te stel oor kinders se aanvaarbare gebruik van sosiale media.

“So lank as wat jy vir jou kind se WiFi en toestelle betaal, het jy die reg om minstens een keer ʼn week te kyk na watter soort apps jou kind gebruik en hul aktiwiteite aanlyn na te gaan. Ek sê nie jy moet noodwendig hul boodskappe lees nie, maar om dit vir jou kind te gee en net nooit weer daarna te kyk nie, is baie onverantwoordelik.”

sosiale-media

Foto: Childrensministryonline.com

Die “hoekom” van sosiale media

Hofmann sê dit is belangrik dat ouers nadink oor hoekom hulle en hul kinders op sosiale media is en wat hulle van hulself daarop wil wys.

Hy meen egter daar is ʼn paar goed wat ononderhandelbaar is wanneer ouers en kinders sosiale media gebruik:

  • Dink mooi oor waar jy jou selfoonnommer en fisieke adres beskikbaar stel.
  • Wie gee jy toegang tot jou profiel en hoe streng is jou privaatstellings op sosiale media? Hoe strenger hoe beter.
  • Reguleer jou vriendekring. Met kinders is die goue reël dat jy net ʼn “friend request” op sosiale media aanvaar as jy die persoon reeds in die regte lewe ken.
  • Sit maar eerder jou “geo-location” af wat aandui waar ʼn foto geneem is of waar jy jouself tans bevind.
  • Leer jou kinders om nie hul wagwoorde en intekenbesonderhede met enige iemand te deel nie.
  • Gebruik maar eerder jou eie naam en van vir ’n gebruikersprofiel. Vreemde gebruikersname kan suggestief wees en die verkeerde mense na jou kind lok.
  • Besef dat “likes” ʼn emosionele kwessie kan word waar kinders amper verslaaf kan raak aan die hoeveelheid “likes” wat hulle op sosiale media ontvang – gesels met jou kind hieroor.

Die realiteit van kuberboeliery

“Ouers moet besef dat ʼn geboeliery deesdae al meer aanlyn plaasvind en ek dink ons moet ons kinders eerstens leer om nie die boelie te wees nie.”

Hy het die volgende paar riglyne aan ouers voorgestel:

  • Moenie foto’s deel wat ander mense in ʼn slegte lig stel nie. Vra eerder altyd of die ander persoon op die foto gemaklik sal wees daarmee as jy hierdie foto van hulle op sosiale media deel.
  • Wees baie bewus van die soort kommentaar wat jy lewer. Baie goeie vriende kan dalk maklik met mekaar skerts, want hulle ken mekaar se sin vir humor en die konteks, maar dit kan ongelukkig vinnig aanlyn verlore gaan en in iets leliks ontaard.
  • Wees versigtig om inligting aanlyn te deel. Dink byvoorbeeld twee keer voor jy sê “ek gaan by my maatjie in saal so-en-so in die hospitaal kuier” – dit is dalk net te veel besonderhede.
  • Moet asseblief nie teen iemand saamspan nie, veral nie op WhatsApp-groepe nie. Jou kind moet weet hy of sy kan sê hulle stem nie saam met iets wat gesê is op groepe nie, maar dit hoef nie in ʼn bakleiery ontaard nie. Jy kan altyd ook die groepie verlaat as jy wil.
  • Moenie leuens versprei nie.

As jou kind op sosiale media geboelie word, kan hy of sy die volgende doen:

  • Moenie ʼn boelie antwoord nie – stop die gesprek en onttrek. Onthou, ʼn boelie soek reaksie.
  • Hou bewyse van die geboeliery – maak byvoorbeeld skermskote daarvan.
  • Jou kind moet weet hulle kan met hul ouers kom gesels as hulle geboelie word. Dit is baie moeilik vir ʼn kind, maar dit kan so eenvoudig wees soos om vir jou ouer ʼn boodskap te stuur wat net sê dit het gebeur.
  • Verduidelik vir jou kind dat die moontlikheid bestaan dat hy of sy aanlyn geboelie kan word, hoe hulle dit moet hanteer en wat hulle moet sê as dit gebeur.
  • Jy mag ʼn boelie blok, “unfriend” of “unfollow” – dit is een van die wonderlike nuttige dinge van sosiale media.

“Dit is belangrik dat ons vir ons kinders leer hulle moenie ʼn toekyker wees van ʼn geboeliery nie. Hulle hoef nie noodwendig op daardie oomblik teen die boelie op te staan nie; dit kan so eenvoudig wees soos om ná die tyd ʼn persoonlike boodskap van bemoediging vir die vriend te stuur wat geboelie is.

“Ek dink ʼn kind moet besef hul vriend gaan deur ʼn moeilike tyd en hy of sy kan nie ná ʼn boelie-geval reg dink nie, maar jou kind kan intree vir hom of haar.”

Hoffmann het ouers gevra om asseblief nie ʼn boelie-voorval op ʼn ouerskapsgroepie te probeer hanteer nie, maar ook gewaarsku dat ouers nie só ʼn voorval moet los om maar net self uit te werk nie. “As jou kind jou vertel van ʼn maatjie wat geboelie word, het jy ook die reg om daardie ouer van die voorval in te lig.”

kinders-speletjies-selfoon-tv

Foto: Pixabay.com

Slimfone en tablette vir tjokkers

Op ʼn vraag van ʼn ouer oor wanneer ʼn kind ʼn slimfoon of tablet mag kry, het Hoffmann aanbeveel dat ouers eers moet nadink oor hoekom hulle dit vir hul kind wil gee.

“Is dit omdat jou kind toegang tot jou moet hê, of toegang tot sy sosiale vriendekring of die internet? Bill Gates het gesê sy kinders het nie hierdie soort toestelle voor 14-jarige ouderdom ontvang nie omdat hulle toegang tot die internet by die huis het.”

Hoffmann het ook aanbeveel dat geen toestelle tydens aandete toegelaat moet word nie. Hy dink ook dit is ʼn goeie idee om vir sekere tye van ʼn gesinsvakansie toestelle te verbied sodat almal net weer kontak met die werklike lewe kan maak.

“Ek dink ook nie dit is onredelik om die WiFi teen ʼn sekere tyd in die aand af te sit nie,” het Hoffmann gesê.

Goeie beginsels van ouerskap

Hofmann het ʼn artikel uit die Harvard Business Review aangehaal oor beginsels wat steeds vir goeie ouerskap in die digitale era geld:

  • Jy moet tyd saam met jou kind deurbring, selfs al is dit tyd waar julle in stilte saam is. Dit is die plek waar jy ʼn veilige hawe skep vir oop gesprekke.
  • Jy bly jou kind se eerste rolmodel en jou kind gaan by jóú leer hoe om op te tree en sekere goed te doen.
  • Watter waardes wil jy as ouer aan jou kind oordra? Wat doen jy om te verseker hierdie waardes word wel oorgedra?
  • Die meeste van ons is in die top-1% van bevoorregtes, selfs in die moeilike tye van vandag. Ons vlakke van dankbaarheid is egter laag en kinders dink dit is ʼn reg wat hulle toekom. Leer hulle dat sekere goed nie ʼn gegewe is nie en om altyd dankbaarheid te toon.
  • Jy as ouer moet perspektief aan jou kind gee. Kinders word daagliks met boodskappe gebombardeer en hulle neem dit net so in. In gesprekke met jou kind moet jy hulle leer om te redeneer en sekere goed te bevraagteken.

Hoffmann meen ouers moet aanvaar sosiale media is hier om te bly. “ʼn Mens kan nie ʼn tsoenami met een hand stop nie, maar dit is nie noodwendig altyd net ʼn euwel nie. Lê reëls vir die gebruik daarvan vas, en moenie ʼn vakuum rondom die gebruik hiervan toelaat nie, want dit laat die deure oop vir enige iemand om in te beweeg.

“Onthou, jy as ouer wil maatreëls in plek sit sodat jou kind op die ou einde sélf die regte besluite kan neem oor hul sosialemediagebruik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Annalize Herbst ·

Die regs click funksie is afgeskakel so ons kan nie die boodskap copy en stuur vir almal om te weet nie. Wat ‘n ideale manier om die boodskap onder vriende te versprei as met Whatsapp nie. So kan kinders wat geboelie word ander kinders help. Baie goeie berig. Dit moet regtig meer mense bereik.

Danie ·

Hierdie lys van wenke en waarskuwing is opgestel uit die ervaring van ander mense. Soms kry mens die gevoel dat baie mense verkies om die ander mense te wees uit wie se foute geleer kan word. Dit is een of ander prestasie om deel van die ander te wees. Dit is belangrike wenke. Volg dit. Dit is onnodig om deel van die ander te word. Hier geld die spreekwoord: “Eerder bang Jan/San as dooie (of vermiste) Jan/San”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.