Toer 21 is eersdaags op jou voorstoep

Toer 21

Foto: Verskaf

In 2016 kry alle Afrikaanse hoër- en laerskoolonderwysers die geleentheid om van Suid-Afrika se beste professionele opleiding in die onderwys te ervaar. Die SOS bied ʼn dinamiese middagseminaar oor twee dae aan wat fokus op die professionele ontwikkeling van alle Afrikaanse onderwysers, maar veral wiskunde-onderwysers en onderwysers wat Afrikaans as moedertaal onderrig.

Toer 21 sal gedurende 2016 21 dorpe en stede landwyd besoek om onderwysers eerstehands in te lig en op te lei. Die eerste twee middagseminare het reeds op 26-27 Januarie in Pretoria plaasgevind, waar 144 gretige onderwysers opgedaag het.

“Ons almal by die skool is baie positief oor albei sessies.  Ek het vir my hoof kom sê hy moes eintlik na die leierskapsessie gegaan het. Dit was vir my baie lekker om na hierdie uitsonderlike man te luister. Ek hoop nie my aanbiedings steek af by al die ander talentvolle mense nie,” sê mev. A. van Rensburg, departementshoof by die Laerskool Louis Leipoldt in Pretoria.

Tydens die middagseminare word onder meer aandag gegee aan rekenaaropleiding in Word, Excel en PowerPoint, terwyl opleiding in Wspel, die gebruik van tegnologie in die klaskamer en blootstelling aan toeps wat Helpende Hand ontwikkel het (veral vir die grondslagfase) ook op die program is.

Wiskunde-opleiding wat verband hou met spesifieke inhoud, soos byvoorbeeld breuke, verhoudinge en eweredigheid, asook GeoGebra, word ook ingesluit. GeoGebra is dinamiese sagtewareprogramme wat onontbeerlike is vir wiskunde-onderwysers.

Opleiding in Afrikaans as moedertaal vind ook plaas en fokus op assessering (met wenke oor hoe om assesserings skeppend en vinnig af te handel), ʼn bespreking oor letterkunde en wenke vir die opstel van vraestelle, asook die nasien van letterkunde-vraestelle.

As deel van die seminare gaan Kobus Neethling se breinprofielontledings ook gedoen word om onderwysers te help om suksesvolle heelbreinonderwysers te wees. Die seminare bied praktiese tegnieke aan, asook didaktiese aanbevelings wat onderwysers in hul beroep en persoonlike lewe kan toepas.

ʼn Leierskapsessie word vir skoolhoofde, adjunkhoofde en departementshoofde aangebied, wat ’n forum bied om uit die kennis en ervarings van vorige skoolhoofde te put om onder andere uit te vind wat effektiewe skoolhoofde anders doen, hoe moeilike ouers hanteer word en hoe belangrik professionaliteit in die onderwys is.

Psigometriese toetse teen baie billike pryse en opleiding in die vervaardiging of bou van apps (selfoontoepassings) sal vir leerlinge aangebied word.

Die koste verbonde aan die bywoning van die seminare beloop R100 per dag, maar lede van die Vereniging vir Afrikaanse Wiskundeonderwysers (VAW) en die Genootskap van Regte Afrikaanse onderwysers (GeRAT) kan dit gratis bywoon. Besoek www.helpendehand.co.za vir meer besonderhede.

Die eerste rondte seminare is reeds aan die gang. Die datums wanneer van die dorpe besoek gaan word, is:

  • 9-10 Februarie – Worcester
  • 9-10 Februarie – Stellenbosch
  • 8-9 Maart – Richardsbaai
  • 14-15 Maart – Upington
  • 25-26 April – Nelspruit
  • 9-10 Mei – Potchefstroom
  • 11-12 Mei – Vryburg
  • 23-24 Mei – Kroonstad
  • 25-26 Mei – Bloemfontein
  • 27-28 Mei – Kimberley

Vir meer inligting oor Toer 21, kontak asseblief vir Hugo Vermeulen op 012 644 4390 of stuur ʼn epos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.