Wat ouers moet weet: Jou kind en vriende

vriendskap-kinders

Foto: Unsplash/Pixabay.com

Hierdie rubriek is deel van ‘n reeks rubrieke wat Gielie Hoffmann publiseer oor “Wat ouers moet weet…” Lees gerus alle rubrieke deur Gielie Hoffmann op Maroela Media. – Red

Vriende bly een van die grootste, enkele invloede op die lewe van ʼn tiener. Vir baie tieners is vriende ʼn vreugde in hulle lewe, vir baie ouers is daardie einste vriende ʼn kopseer. In my eie vormingsjare het ek gebaat by vriende wat die perfekte kombinasie van ontspanning, ondersteuning en onderliggende kompetisie na die tafel gebring het. Waar almal altyd groepsdruk beskou as iets uitsluitlik negatief, is daar ook groot voordeel daaraan, mits jy omring is met die regte tipe vriende vir jou.

Vir ouers bly dit die uitdaging: hoe maak ek ʼn kind groot wat die regte vriende sal kies? Maar nog belangriker, hoe maak ek ʼn kind groot wat die regte tipe vriend is?

Om hierdie pad suksesvol aan te pak is dit dalk goed om te verstaan hoekom vriendskappe nodig en van waarde is. Hier word jy geleer om:

• te ontspan, aan te pas, opofferings te maak, jou opinie uit te spreek en om spanning te hanteer;
• te kommunikeer, saam te werk aan iets en daardie moeilike stap vir baie, toe te tree tot ʼn nuwe groep mense of sosiale situasie;
• ondersteuning van ʼn emosionele aard te ontvang en te bied;
• verhoudings te vorm wat belangrik sal wees in die vorm van toekomstige professionele en persoonlike verhoudings.

ʼn Kind wat geen vriendskappe het nie mis dus uit op belangrike sosiale ontwikkeling wat meestal nie op ʼn ander wyse gesimuleer kan word nie. En omdat skool ʼn sosiale omgewing is waar daar voortdurend met ander leerders interaksie is, is dit ʼn leemte wat ook skade kan aanrig.

Behalwe dit hou vriendskap natuurlik vreugdes in waarby alle kinders sal baat. Vriendskappe gee jou die geleentheid om:

• met ʼn diverse groep mense te sosialiseer en gemaklik te word daarmee;
• jou sin vir humor en lewensuitkyk te ontwikkel;
• onafhanklikheid te ontwikkel en nie altyd staat te maak op ouers of onderwysers nie;
• jou emosies te leer ken en dit ook dan effektief te leer kommunikeer;
• deel te voel van iets groters as jou eie lewe en jou identiteit te verryk.

Argieffoto (Foto: Pexels, Pixabay)

Iets wat belangrik is om uit te lig is dat kwaliteit altyd meer belangrik is as kwantiteit as dit kom by vriendskappe. Vir die volwassene maak dit sin maar vir die tiener is dit soms ʼn frustrasie. Dit is belangrik vir tieners om die onderskeid te verstaan: minder maar goeie vriende is doodreg.

Twee goed wat natuurlik hier ʼn rol speel is ouderdom en persoonlikheid. In sekere lewensfases is kinders gemakliker in ʼn groot groep sonder dat daar ʼn beste vriend of vriendin is; in ander fases word weer meer waarde geheg aan ʼn beste vriend of vriendin. Net so het jou persoonlikheid ook ʼn invloed: party geniet dit om deel van ʼn groter groep te wees en ander verkies dit om liewers naby ʼn enkele persoon te wees. Dis belangrik om hierdie twee faktore in ag te neem as daar gekyk word na ʼn kind se vermoë om vriende te maak.

Soos hulle ouer word, moet hulle besef:

• dat hulle goeie vriende moet wees maar ook dat vriendskappe goed vir hulle moet wees. Vriendskap is nie iets wat seer, ongemak en teleurstelling op ʼn gereelde basis veroorsaak nie;
• dat hulle nie met almal vriende hoef te wees nie. Sekere kinders is bloot klasmaats, ander is spanmaats, party is kennisse en sommige ontwikkel dan tot vriende. Jy kan oor die weg kom met almal maar jy hoef nie vriende te wees met almal nie;
• dat verskillende vriende verskillende rolle in jou lewe gaan vertolk. Sommiges gaan jou ondersteun in ʼn tyd van nood, ander gaan jou vermaak, party gaan reghelp waar jy onseker is. Wees gemaklik daarmee dat almal nie alles vir mekaar kan wees nie;
• dat jy moontlik nou besig is om vriende te maak vir ʼn leeftyd. Meeste volwassenes hou vriende oor van sekere lewensfases en die belegging wat jy maak as tiener kan een wees waarby jy lewenslank baat.

As jou kind sukkel om vriende te maak is dit altyd natuurlik goed om bietjie ondersoek in te stel. Daar kan baie redes wees. Soos bo genoem bly dit vir baie kinders ʼn uitdaging om ʼn toetrede te maak tot ʼn sosiale omgewing. Leer hulle van vroeg af die volgende vaardighede:

• wees vriendelik, oop en toeganklik in ʼn nuwe omgewing. Maak dit maklik vir ander om na jou uit te reik;
• neem die inisiatief en groet ander mense se eerste, stel jouself voor en doen moeite om ʼn paar ander se name te onthou;
• leer om belang te stel in ander en vrae te vra. So kry jy ʼn vastrapplek en wys jy jou goeie intensies;
• daar is altyd waarde daarin om iemand te komplimenteer op ʼn opregte wyse.

Natuurlik het baie ouers vrese oor vriende: die invloed wat ʼn ander kind op myne sal uitoefen; of my kind die regte besluit sal kan neem in sekere situasies; en of my kind ʼn gesonde verhouding sal kan hê met iemand van die ander geslag sonder dat dit ontwikkel tot iets meer.

Argieffoto (Foto: Unsplash, Pixabay)

Handige riglyne hier bly altyd die grense wat gestel word om kinders te beskerm. Hierdie grense kan insluit:

• die plekke wat besoek mag word;
• die aktiwiteite waaraan deelgeneem mag word;
• die tye waartydens daar gesosialiseer mag word;
• die ouderdom van wie teenwoordig mag wees.

Die beste teengewig vir hierdie potensiële gevare bly natuurlik die waardes wat jy vir jou kind leer. Deur jou voorbeeld in terme van gedrag en keuses, asook gesprekke wat julle voer, gee jy jou kind toerusting om moeilike situasies te hanteer en te navigeer. Dit is soms onmoontlik om hierdie situasies te vermy. Maar daar kan nog steeds goeie besluite geneem word in hierdie situasies.

In hierdie opsig bly dit natuurlik altyd goed vir jou as ouer om ingelig en betrokke te wees. Weet altyd die volgende:

• waar jou kind gaan wees;
• die kontakbesonderhede van jou kind se nabye vriende en hulle ouers;
• wat ʼn spesifieke kuier gaan behels.

Vriendskappe en die breër sosiale omgewing hou baie voordele en vreugdes in. Wees slim, pro-aktief en betrokke in jou kind se ontwikkeling hiermee.

Meer oor die skrywer: Gielie Hoffmann

Gielie Hoffmann doen as leierskapskonsultant leierontwikkeling by skole en universiteite. Daarmee saam help hy sportspanne en atlete om geestelik voor te berei.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sluvyn ·

Ek’t op skool vriende en vriendinne gehad wat n paar jaar ouer as ek is, selfde ouderdom en jonger as ek, vandag 12 jaar na skool, is ek nogsteeds vriende met meer van my ouer vriende/vriendinne, redelik met die jonger enes ook, minder met die van my eie ouderdom. Getrou met n ouer vriendin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.