Wat ouers moet weet oor kinders se loopbane

Argieffoto

Hierdie rubriek is deel van ‘n reeks rubrieke wat Gielie Hoffmann publiseer oor “Wat ouers moet weet…” Lees gerus alle rubrieke deur Gielie Hoffmann op Maroela Media. – Red

Dis die tyd van die jaar waar graad 9’s klaar hulle vakkeuses gemaak het en matrieks begin uitsien na ʼn nuwe lewe wat wag ná skool. Graad 11’s is weer deeglik bewus daarvan dat hulle eindjaarpunte uiters belangrik is vir universiteitsaansoeke, veral daar waar keuring ter sprake is.

Gegewe hoe belangrik jou aanvanklike keuse van naskoolse studie is, word daar eintlik bitter min tyd daaraan spandeer. Geen wonder nie dat baie studente jaarliks van kursus verander, ophou of klaarmaak met die wete dat hulle in die verkeerde rigting geswot het.

ʼn Groot rede hiervoor is die magdom loopbane wat vandag beskikbaar is asook die gaping tussen dit wat universiteite bied en dit wat beskikbaar is in die arbeidsmark. Al hoe minder loopbane volg ʼn lineêre pad, bv. studeer medies en word ʼn dokter, of studeer regte en word ʼn prokureur.

Ek help tans vriende wie se dogter nou matriek skryf om haar oorbruggingsjaar te vul met betekenisvolle internskappe. Akademies kan sy keuring kry vir enige rigting; die belangriker vraag is of sy regtig presies weet wat sy wil gaan swot en wat sy daarna kan gaan doen.

Meeste ouers en onderwysers se blootstelling in hierdie verband is natuurlik beperk. Mens weet nie wat jy nie weet nie. Daarmee saam kan ʼn universiteitsbrosjure ook net soveel inligting gee. En selfs voorligtingsielkundiges moet voortdurend moeite doen om te weet wat aan die gebeur is in die ekonomie, anders is hulle raad in terme van aanleg, persoonlikheid en belangstelling beperk en nie prakties relevant nie.

Argieffoto

Ons moet aanvaar dat iemand op 17, 18 nie hoef te besluit wat hulle vir die res van hulle lewe wil of gaan doen nie. Die keuse is meer waar hulle die pad gaan begin. Is dit die Ekonomiese Bestuurswetenskappe? Of die Geesteswetenskappe? Nuutste navorsing wys dat iemand in elk geval maklik meer as sewe keer van beroep gaan verander in hul leeftyd; sommige millenials kry dit reeds reg in hulle 20’s alleen. Daarmee saam gaan jy êrens vir jouself moet werk.

So, wat staan ouers te doen?

• Hê ʼn deurlopende gesprek oor wat jou kind geniet om te doen, dit waarin hulle vaardig is, dit wat hulle prikkel en waar dit moontlik van waarde kan of gaan wees in die breër ekonomie eendag;
• Gee hulle soveel as moontlik blootstelling in terme van beroepe; laat hulle met studente, jong werkendes, entrepreneurs en bestuurders in hul veld van keuse praat, sodat hulle ʼn verskeidenheid van opinies kry.
• Waar moontlik, laat hulle naweke of vakansies of dan die jaar ná skool tyd spandeer in die betrokke werksomgewings. Meeste mense en maatskappye sal op een of ander wyse jou kan akkommodeer. Dis belangrik dat hulle sien watter werk beland op daagliks iemand se tafel en hoe hulle lewe lyk in terme van ure, kollegas, druk, vergoeding ens.
• Doen moeite om te verstaan wat ʼn graad behels in terme van inhoud; kyk verby vakname en vind uit watter vaardighede gaan ontwikkel word wat in aanvraag gaan wees na universiteit. ʼn Handboek alleen is nie genoeg nie. Hoe word die vak aangebied? Watter kenners word betrek?
• Natuurlik het ouers verwagtinge. Wees versigtig hoe jy dit kommunikeer aan jou kind. Dit kan hulle beperk of antagonisties maak teenoor die beroep. Dis belangriker dat hulle weet dat jy hulle sal ondersteun nadat al die huiswerk gedoen is.

Dis dan ook natuurlik belangrik dat mens aandag gee aan die vaardighede wat belangrik in die werksplek is, ongeag die rigting wat gekies is. Om ʼn werknemer te word wat gesog en geliefd is.

Argieffoto

Die Wêreld Ekonomiese Forum voorspel dat die volgende eienskappe van kritieke waarde gaan wees teen 2020, of soos hulle dit noem, vir die Vierde Nywerheidsrevolusie:

• Komplekse probleemoplossing
• Kritiese denke
• Kreatiwiteit
• Mensebestuur
• Samewerking met ander
• Emosionele intelligensie
• Oordeel en besluitnemingsvermoë
• Diensgerigtheid
• Onderhandeling
• Kognitiewe aanpasbaarheid

Wêreldwyd word ʼn Geesteswetenskappe-graad weer al hoe belangriker, juis omdat baie van hierdie vaardighede gekweek word in daar kurrikulums. Dis nie vreemd om te sien dat ʼn besturende direkteur van ʼn maatskappy voorgraads filosofie geswot het en toe ʼn MBA gedoen het nie. Vakke soos sielkunde, sosiologie, politieke wetenskap en kreatiewe skryfkunde het waarde in enige besigheid.

Die klem lê al hoe meer op watter vaardighede jy leer en nie watter kennis jy opdoen nie. Dis welbekend dat kennis vandag gedemokratiseer is danksy die internet; almal kan enigiets uitvind.

Met universiteitstudies wat al hoe duurder word, is dit genoeg rede alleen om beter te dink oor jou kind se pad vorentoe. Belangriker egter is dat dit ʼn wesenlike invloed gaan hê op hulle geluk en voorspoed vir die res van hulle lewens.

*Die “Wat ouers moet weet”-reeks word moontlik gemaak met die vriendelike samewerking van Akademia –  eersteklas hoër opleiding en opvoeding in Afrikaans.

Gielie Hoffmann

Meer oor die skrywer: Gielie Hoffmann

Gielie Hoffmann doen as leierskapskonsultant leierontwikkeling by skole en universiteite. Daarmee saam help hy sportspanne en atlete om geestelik voor te berei.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

Een kommentaar

Theresa ·

Dankie vir ‘n raadgewende artikel, Gielie. Mens kan nooit te veel leer oor hoe om gereed gemaak te word vir toekoms-loopbane nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.