Afrikaanse Wikipedia: Geloofwaardig en betroubaar

Foto: Pixabay.com

Foto: Pixabay.com

Hoe weet mens of die inligting op Wikipedia geloofwaardig is? Wie sien dit na en kyk dat nie sommer enige Jan Rap en sy maat die inligting kan verander nie? Dié vrae word gereeld aan Keren van den Berg, projekbestuurder by Maroela Media, gevra.

“Dit is vir ons belangrik dat mense weet die inligting op Wikipedia is goed nagesien en dat daar ʼn hele keuringsproses agter die skerms is voor enige inligting gepubliseer word,” sê Keren. “Mense hoef nie bekommerd te wees dat sommer enigiemand hulle artikel kan verander nie. Wanneer inligting by ʼn artikel gevoeg word, sal dit eers nagesien word deur ʼn administrateur.”

Deon Steyn, direksielid van Wikimedia ZA en administrateur vir Afrikaanse Wikipedia, sê daar is ʼn streng keuringsproses voor artikels gepubliseer word. Deon, wat ook self bydraes lewer, het al duisende artikels nagegaan.

“Bronne moet verskaf word – mens kan dadelik sien as iets sommer nonsens is,” sê Deon. Bronne word goed deurgegaan en Deon meen hoewel die nasienproses streng is, moet dit mense nie afskrik om ʼn bydrae te lewer nie.

“Die administrateurs gee baie raad aan mense wat artikels skryf – daar is ʼn spesifieke skryfstyl waaraan jy gou gewoond sal raak. Die skryfstyl is feitlik en koud, maar ons gee baie terugvoer sodat jy presies weet wat benodig word.”

Daar is reeds ongeveer 45 000 Afrikaanse artikels op Wikipedia, maar Deon sê daar is steeds ʼn tekort aan sekere onderwerpe.

“Ons kort artikels oor tegnologie – oor hoe, byvoorbeeld, ʼn antenna werk. Daardie tipe artikels is nogal moeilik om te skryf. Bydraes oor ons sportsterre, wetenskap en finansies is ook nodig.”

Vir Deon is sy betrokkenheid by Wikipedia ontspannend en hy geniet dit om elke dag iets nuuts te leer.

“Mens moet toegewyd wees en jy moet regtig ʼn verskil wil maak. Daar word nie meer Afrikaanse inligtingsboeke gedruk soos oor byvoorbeeld skepe of naaldwerk nie. Dit is hoekom ek betrokke is.”

  • Besoek die Afrikaanse Wikipedia se webwerf vir meer inligting oor bydraes.
  • As jy betrokke wil raak, stuur gerus ʼn e-pos na [email protected]. Laat weet wat jou gebied van kundigheid is en waaroor jy graag sal wil skryf.
  • Maroela Media het ook drie opleidingsvideo’s beskikbaar gestel oor hoe om Afrikaanse artikels vir Wikipedia te vertaal en te skryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet Badenhorst ·

n Vootstel: Maak die Tegnologie hoof wyer met :En Ekologie.
Daar is wye belangstelling in Natuur en Landbou Wetenskappe en Navorsing.
Wildboerdery, Kommando Wurms, Mikro Organismes, Geen Bewerking ens.
Al bg. is net so Wetenskaplik as Nuwe motors.
My inset.
Piet Badenhorst

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.