Delmarie wil suksesvol wees én balans handhaaf

Delmarie Jonker

Delmarie Jonker

Hoërskool Garsfontein het nóg ʼn uitblinker opgelewer wat in agt vakke onderskeidings ingepalm het. Delmarie Jonker het A’s vir Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, rekeningkunde asook ingenieurs grafika en -ontwerp.

Haar pa, Roelof, is ʼn produksiebestuurder en haar ma, Amanda, is ʼn tuisteskepper.

Sy wil graag medies gaan studeer, maar wag nog vir keuring. As alternatief wil sy biologiese wetenskappe studeer.

Delmarie speel ook viool, hokkie en lees graag. “As ek dit tyd het, lees ek graag,” sê sy. Sy laat val ook sy het ʼn groot liefde vir musiek in enige genre.

Haar suksesresep is goeie beplanning. Aan matrieks geen sy dié raad: “Maak ʼn tydrooster wat al die aktiwiteite vir die maand toon, dit stel jou in staat om op hoogte te bly van wat aangaan in jou lewe. Só skakel jy ook onnodige stres uit.” Sy erken ook haar prestasies is genade van God.

Sy beskryf haarself as “ʼn eenvoudige buiteblad van ʼn interessante boek. Meeste mense sal my as ʼn skaam, teruggetrokke persoon beskryf. Die mense wat my goed ken, sal my weer as ʼn meer sosiale en omgee-mens beskryf. Ek is beslis skaam en teruggetrokke, totdat ek jou beter ken en jou vertrou… Ek wys nie maklik my emosies nie, maar dit beteken nie ek is gevoelloos of onsensitief nie. Ek wil ander mense help, eerder as om hulp van ander te ontvang.”

Ons wou weet wie haar inspireer. Sy antwoord: “My tannie Wilna. Sy is ʼn suksesvolle pediatriese chirurg en het ʼn pragtige gesin. Ek wil medies studeer en suksesvol wees in my werk asook ʼn gesonde gesinslewe handhaaf.”

Haar gunsteling-aanhaling is:

If you don’t live for something, you’ll die for nothing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.