Betowerende boomskuilte

trogon-house-forest-spa-photos-exterior-hotel-information As jy jou eie tjokkers onderdak het, moet bontstaan om al die eendjies (en katte) in ‘n ry te hou én teen stywe sperstrepe woeker aan jou beroep, gaan jy waarskynlik ook ‘n dag beleef waarin jy soos ‘n goeie moedertjie jou seunskind se sportklere vir hokkieoefening wil was, maar met ‘n bliksemstraal besef dat jy katpille in die wasmasjien gegooi het. Jy is op die punt om die katte waspoeier te voer, wanneer jy tot my sinne kom. (Die ietermago’s alleen weet wat jy als in vanaand se lensiesop gefoeter het…) Dis dan dat jy met ‘n knal besef jy het ‘n ruskans nodig. Dis immers twee jaar en twee maande vandat jy en jou man laas alleen iewers uitgeslaap het! En terstond bespreek jy ‘n romantiese wegbreek na Trogon House.

Tussen die kusdorpe van Plettenbergbaai en Stormsriviermond is ‘n strook wat bekend staan as The Crags. Hier vind jy van die Suid-Kaap se voorste wynplase, topklas restaurante en snuffelwinkels wat alles van plaaslike bokhaarprodukte tot keramiek verkwansel. Neem die afdraai na Animal Alley met sy beroemde Elephant Sanctuary, Birds of Eden en Monkeyland, ry 1km verder op ‘n grondpad en… siedaar! Trogon House.

38513973

So ontdek ek en my man, Gerrit, op een goeie Vrydag die betowerende boomskuiltes. Of eerder: die groot, luukse boomvillas gebou in ‘n oerwoud. Wonders van klip en hout. Enorme glasmure wat die natuur na binne nooi. Deur die glaspanele in die plafon kan jy bedags die voëls en saans die sterre bewonder. Die pilare is boomstompe. Die teksture is aard, die dekor ‘n soort afro barok met ‘n mengsel van antieke meubels en interessante artifakte wat die eienaars meer as ‘n dekade geneem het om te versamel tydens hulle reise regoor Afrika. Lieflike leersofa’s, ingevoerde sy, raar houtkerfwerk, ‘n ou statebybel, ‘n klavier met inlegwerk. Vars lelies op die tafel.

Die ses suites is verdeel in twee identiese villas wat aan mekaar verbind is deur ‘n plankpad wat op stelte deur die inheemse woud kronkel. So stap ons verby die mooie boma waar daar op sterverligte nagte vuur gemaak word en jy jou kan verkyk aan die flikkervliegies en luister hoe die bosuil roep na sy maat. Die plankpad eindig in wat waarskynlik die kleinste luukse spa in Afrika is, kompleet met ‘n stoomkamer, jacuzzi, vuurherd en kerse.

Hier is ‘n swembad op die houtstoep, donker soos ‘n bergpoel, maar dis te koel om te swem en daarom kuier ons skemertyd oor ‘n koppie koffie met ‘n uitsig oor die mistige vallei. Berge agter, oumansbaard en kalanders in die voorgrond. Die skarkalenrooi ondervlerk van ‘n Knysna loerie flits deur die takke. Paddatjies tjirpsing met trillende kele. Met Monkeyland as bure, weerklink die onheilspellende geroep van lemurs en brulape deur die mistigheid. (Brulape is die luidrugtigste diere op aarde, herinner ons mekaar en lag lekker. Sien, tien jaar gelede het ons kamp opgeslaan in die Peruaanse Amasone. Die roep van ‘n trop brulape het vanaf die oorkantse oewer weergalm. Manos roep die donderstorm, het ons gids vol ontsag gefluister. En wragtag, toe kom die malreën. Gitswart wolke. Een grootse gebliksem. My matras het gedryf!)

Maar nie by vanaand nie. Romantiek en avontuur word sommer vinnig een as mens met ‘n bottel rooiwyn voor die kaggel inskuif. Pampoensop, lamsvleis, geurige groente, kaaskoek – ‘n heerlike drie-gangmaal. Ja-nee, tyd om daardie maseer-olie uit die tas te haal…

trogon-house-bridge-480Die volgende oggend luister ons na die stilte en kyk hoe die dag wakker word. Die vroegste sonstrale verlig die vallei, die misversluierde woud lig haar sluier en onthul ‘n bosdruif – ‘n pad vir die blouape. ’n Knysnaloerie klouterspring deur die digte blare. Ons lê uitgestrek in die groot bad terwyl ons uitkyk oor dié woud. ‘n Leeftyd verwyder van die vakansieskares, maar steeds naby aan die strande en dorpies van die Tuinroete. Veilig in ‘n wegkruipplek van suiwer Afrika sjiek.

Ai, seg ons vir mekaar, eendag moet ons tog die seuns hierheen bring, hulle sal mal wees hieroor. Dadelik bars ons uit van die lag. Ouers is darem sulke whimps!

Doending

* Vir onvergeetliek oerwoud-verblyf, skakel Trogon House by 044 534 8191. Besoek die webwerf: www.trogonhouse.co.za

* Slegs 1km vanaf Trogon House is Birds of Eden: die grootste vryvlug voëlpark ter wêreld. Wandel in die inheemse woud met sy watervalle en hangbrug. Duisende voëls wat vroeër in aanhouding geleef het, deel dié hemelse habitat met ‘n troppie blouduikers. Birds of Eden het ‘n rits internasionale toekennings vir ekotoerisme ingepalm, onder andere die Skål International Sustainable Tourism Award vir Best Major Attraction; Best Animal Welfare Initiative en wenner van die World Responsible Tourism Award.

Skakel hulle by 044 534 8906, www.birdsofeden.co.za

* Monkeyland is direk langs Birds of Eden. Hulle het dieselfde eienaars en werk op dieselfde beginsel: Hondede ape (altesaam elf spesies) wat gered is uit laboratoriums, sirkusse of van ‘n droewige bestaan as troeteldiere, kry hier die kans om vry te leef – sonder hokke of aanraking van mense. ‘n Gids neem jou vir ‘n uur deur die woud en bo-oor ‘n lieflike hangbrug tussen die takke. Daar is ‘n kombo-pakket vir toegangskaartjies na die twee parke. Skakel 044 534 8906, www.monkeyland.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Denise ·

Carina dit klink nou wragtig na n belewenis wat mens net kan geniet en wardeer !!!!! En wat ek hier gelees het het julle elke oomblik geniet!!!! Baie romanties!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.