[Foto’s] Bali: Eiland van hekse en heuning

Die Monkey Forest by Abut. Foto: Verskaf.

Die Apiewoud by Abut. Foto: Verskaf.

Bali is warm, arm en wild.

Dit is ʼn feesviering wat heeldag aanhou met toeriste wat koersloos loop en dwaal na die volgende plek waar hulle skoene kan uitskop op die strand en hulle voete kan laat vryf vir R15. Vryf, want dis nie masseer nie.

Dit is hope ongeskoolde mense wat soekend smeek na iemand om te sit vir ʼn “real Balinese massage”, sodat hulle vanaand geld het om huis toe te vat. Soms kry jy klein skatkiste vol silwer op die strand – dan moet jy koop, want die meeste van die silwer is eg. As jy verby die armoede kan kyk, sal jy agterkom Bali se mense is van die gelukkigste op aarde. Hulle is bedagsaam, mededeelsaam en vriendelik. As jy in ’n perdekar of tuk-tuk spring in die hoofstraat van enige klein stranddorpie – soos Kuta in die Suide – word jy geneem na ongekende plesier en ry verby mense wat langs die straat staan en waai en jou laggend nader nooi.

Bali is wakker, dit is heeltyd en dit is nóú. Dit is kleurvol en ryk aan liefde en omgee en hulle bedien jou van kop tot tone waar jy ook al gaan. Die Balinese vroue is boonop wonderlike kinderoppassers. As jy dus heeldag wil swem, eet en slaap, is dit gepas om ʼn villa te huur in plekke soos Semanyak of Balian. Dit is ver weg van die rumoer van die stranddorpies en baie meer plattelands.

Die villas is volop en pragtig, maar die belangrikste van als; jy betaal min en jy kry ʼn koloniale vakansie. Daar is gemiddeld vier helpers per huis. Dit sluit in: kokke, skoonmakers, huismeisies, drywers en kinderoppassers.

Die villas bied meestal ʼn blik oor die see, maar wees versigtig dat die webwerwe jou nie kul nie. Soms kom jy daar en dan is dit nie heeltemal wat jy verwag nie.

Die Indonesiërs kan kook! Hulle kook vir ure. Jy kry ʼn minimum van drie soorte vleis in verskillende souse met ʼn gewone aandete, en interessante groente (dit lyk dikwels soos seegras … maar is tog eetbaar).

Bali se strande is vol buitelanders, hoofsaaklik van Australië en Engeland. Die Duitsers hou mos nie so baie van die son nie, en Bali is nie heeltemal ʼn “Franse delikatessen” nie. ʼn Mens wonder of die Amerikaners weet waar Bali is …

As jy uitry deur uitgestrekte ryslande langs die see af, na die Weskus se kant toe, word die landskap mooier en meer spesiaal as die besige “partytjiedorpies”. Daar is beelde wat jou asem wegslaan, maar wat ʼn mens die meeste opval, is die geestelike ingesteldheid van die inwoners. Tempels word ʼn ingang na ʼn wêreld wat op poskaarte leef. Aanbidders dans en sing met klokkies om hulle enkels en wierook wat om hulle dartel; kaalvoet om en voor die tempels en in strate.

'n Restaurant in Ubut. Foto: Verskaf.

‘n Restaurant in Ubut. Foto: Verskaf.

So is Ubut een van die mees geestelike ervarings van Bali. In die bosagtige, groen dorpie met sy klein straatjies is daar byna daagliks ʼn spirituele uitvoering. Daar word gesing en gedans, geverf, gelag en geëet. Daar is iets misterieus aan Ubut, iets onheilspellends. Iets wat jou laat wonder en terselfdertyd opgewonde laat voel oor wat om elke draai en anderkant elke ingang en stegie skuil.

ʼn Ou tempel in die middel van Ubut wat as die Jalan Wanara Wana bekend staan, of in die volksmond sommer na verwys word as die Jalan Monkey Forest, is ʼn wonder van klip en sement, gemaal en gevou in gesigte van drake, apies en afgode. By tempelingange pryk reekse standbeelde van die heksweduwee Rangda. Volgens die mite is sy die leier van ʼn groep hekse wat gekant is teen alles wat goed is en ook teen die god van goedheid, Barong. Uitbeeldings van gevegte tussen Rangda en Barong staan die woude om die tempels vol om die eeue oue stories aan geslagte oor te dra. Rangda se borste hang tot onder haar maag, haar tong is ʼn meter lank en sy eet kinders. Die Balinese vier die mites in tradisionele dansseremonies wat uitbeeld hoe die gode met mekaar veg en hoe die goedheid altyd oorwin.

In die woud om die tempel speel apies verveeld in takke, krap vlooie uit die kleintjies en soek alewig na bang toeriste wie se handsakke, sonbrille en hoede hulle kan steel.

Die tempelingang – soos elke ander ingang van winkels tot kroeë in Bali – verwelkom jou met ʼn offerande, of bekend hier as Banten. Dit is klein bordjies met kos en blomme wat dank betoon aan die gode wat die bose beveg. In die apiewoud word al die offerande (of Banten) deur die apies omgestamp en opgevreet.

Naby die Weskus, op die Bukit-skiereiland, kan mense so effens weg van die besige strate op stringe en stringe pêrelwit strande gaan ontspan. Hier is geestelike ervarings effens anders as in Kuta en Ubut. In hierdie streek is verskeie weggesteekte tempels wat geskiedenis vasvang en ook waar mites uitgeleef word.  Die Pura Luhur Ulu Watu-tempel is een van hulle. Die tempel staan op die rand van genade aan die verste punt van ʼn reusekrans wat bo die woeste see uittoring. Langs die tempel is daar saans, wanneer die son sak, opvoerings van verskeie mites en stories, soos die Ramayana. Die Indiese gedig vertel die storie van die prins van die Kosala-koninkryk, Rama, en sy groot liefde vir Sita. Sita word deur die koning van die demone, Ravana, ontvoer en dit neem Rama op ʼn reis deur Indië op soek na sy Sita.

Bali is ʼn uitbeelding van stories, kleur, kuns en liefde. Van die romantiese verhale en rusplekke vir verliefdes tot ʼn palet van geskiedenis, taal, musiek en adrenalien. Een ding wat jy vir seker van Bali sal onthou – afgesien van die versengende hitte – is die mense se passie en waardering vir die alledaagse, die lewe en die liefde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Denise ·

Bali is n vakansie mekka maar hoekom sorg die plek nie vir sy inwoners nie dit help tog nie hulle is vriendelik en warm mense en hulle moet vakansiegangers smeek om van hul dienste gebruik te maak ek vra maar net !!!

M'Lady ·

Sal nooit enige land besoek wat hulle diere mishandel nie. Bali is een van baie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.