[Foto’s] Ou Kaïro: Terug in tyd

Ou Kaïro Foto: Thomas Dreyer (verskaf aan Maroela Media)

Ou Kaïro Foto: Thomas Dreyer (verskaf aan Maroela Media)

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Egipte en Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Ons ry met die metro van Kolleyet El Barnatstasie in Heliopolis, ‘n voorstad van Kaïro. Die kaartjie kos 1LE (een Egiptiese pond of R0.70) vir so ver as wat jy wil ry. Die trein is skoon en leeg. Ons begin gesels met ‘n jong man, Ashar, wat vlot Engels praat. Hy is ‘n mediese verteenwoordiger wat die dag af het. Hy is baie hulpvaardig en vriendelik. Toe hy hoor ons is op pad Ou Kaïro toe, bied hy aan om ons te help op die metro se stasies. Hy ry saam met ons tot by ons laaste aansluiting. Ons moet treine wissel by die Attaba- en Sadatstasies. By Attaba en Sadat wemel dit van mense. Letterlik strome mense wat teen mekaar die roltrappe op- en afry 200 meter onder die grond.

Ons wag vir ons aansluiting en dadelik begin ‘n ouer Egiptenaar met ons gesels. In gebroke Engels, maar baie vriendelik. Hy beduie ons moet opklim toe ons trein kom. Die trein is tot barstens toe vol. Jy moet indruk om plek te kry. Almal doen dit en niemand gee om nie. Dié binne in die trein skuif maar net nader aan mekaar. Ons ry tot by Sadatstasie waar ons weer treine moet wissel. Die volgende trein is minder vol en ons klim af by El-Malek El-Salehstasie. Ons is die enigste Europeërs in sig en almal neem van ons notisie en glimlag vriendelik. “Welcome in Egypt…”, hoor ons.

Ou Kaïro Foto: Thomas Dreyer (verskaf aan Maroela Media)

Ou Kaïro Foto: Thomas Dreyer (verskaf aan Maroela Media)

Ons stap uiteindelik Ou Kaïro binne. Die stegies is smal en vuil. Orals is mense. Volwassenes, kinders, ou mense. In die “hoofstraat” is dit perdekarre en donkiewaens wat meel en groente en gasbottels en hoenders aanry. Die strate is vol groente- en vrugtestalletjies. Die groente en vrugte is verbasend mooi en groot. Ons koop naartjies en dit is stroopsoet. Die aarbeie en blomkool is van die grootste wat ons nog gesien het. Alles uit die vrugbare grond langs die Nylrivier.

Ons probeer dadelrolletjies koop by ‘n bakkery, maar die bakker verstaan ons nie en wuif ons weg met ‘n klomp Arabiese woorde. Hy verstaan nie ‘n woord Engels nie. Dieselfde gebeur by ‘n kosstalletjie. Ons stap maar aan en koop naartjies by ‘n vriendelike ou Egiptenaar se “groentewinkel” en dadelrolletjies by kinders in ‘n ander bakkery. Orals is bakkerye wat brood en gebak bak en verkoop. Een bakkery se oond staan op die sypaadjie. Sesamesade en dadels is ‘n belangrike bestanddeel. ‘n Man met ‘n perdekar verkoop gebakte warm soetpatats wat hy in ‘n stofie op sy perdekar gaarmaak. Die kinders gaan blykbaar nie skool toe nie, want hulle werk in die bakkerye en groete- en vrugtestalletjies. Hulle bestuur perdekarre en donkiewaens, laai goedere op en af en verkoop brood en groente.

In die straat is dit net tuk-tuk taxi’s, perde- en donkiekarre en motors. Toeters blaas en mense koop en verkoop. Hier het die tyd stilgestaan. Ek sien nêrens ‘n selfoon nie. Ook nie ander toeriste of Europeërs nie. Die mense is baie arm en leef in hulle eie wêreld. In die koffiehuise sit die mans en kuier. Drink stroopsoet Turkse koffie en rook waterpype.

Ons koop koffie in ‘n koffiehuis by ‘n vriendelik ou Egiptenaar. Ons beduie oor en weer en kom reg met ons bestelling. 5LE (R3.50) vir ‘n Turkse koffie wat met ‘n glas water bedien word. Buite rammel die perdekarre en toetende tuk-tuks verby. Almal lyk gelukkig en tevrede. Sonder Engels en sonder selfone.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Niccy ·

Dit klink idilies…. sou graag dit permanent kon beleef het. Net die rustigheid en ook die saamwerk!

Elma Crafford ·

Het hulle ‘n facebook blad oor waar hulle orals heen reis. Wil ook op reis gaan met ‘n beperkte begroting.

Jane ·

Hulle het ‘n facebook blad. “lifeafter60”. Alhoewel die naam Engels is, is die blad se inhoud in Afrikaans. Ek volg hulle daarop, Hulle is van plan om ‘n groot deel van Europa te toer en begin komende Dinsdag met Griekeland. Hulle kom eers einde Oktober terug SA toe.

Hestie ·

Baie mooi geskryf! Mag ek die voorreg hê om eendag in hulle voetspore te volg…

Riana ·

Wat ‘n voorreg om so iets te kan beleef! Hoop ons kan eendag in julle voetspore volg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.