Gewildste bestemmings vir 2016 bekend gemaak

Foto: Allan Watt, Kaap Agulhas, Lighuis (Foto verskaf deur Lekkeslaap.co.za)

Foto: Allan Watt, Kaap Agulhas, Lighuis (Foto verskaf deur Lekkeslaap.co.za)

[promosie-artikel]

LekkeSlaap.co.za het die gewildste bestemmings vir 2016 bekend gestel.

Het jy al gewonder hoe gewild jou tuisdorp of gunsteling-vakansiebestemming is? Of watter plekke die afgelope jaar gewilder geraak het? Of dalk is jy op soek na ’n nuwe bestemming om by jou emmerskoplysie te voeg? Die gewag is verby ─ Lekkeslaap.co.za het met meer as 2000 van ons akkommodasie-eienaars regoor Suid-Afrika gesels om uit te vind watter dorpe en provinsies in 2016 meer besoekers gelok het en ons vertel jou waarom jy óók by hulle ‘n draai moet gaan maak.

Suid-Afrikaanse Toerisme, Warmlugballonne, Noordwes (Suid-Afrika) (Foto verskaf deur lekkeslaap.co.za)

Suid-Afrikaanse Toerisme, Warmlugballonne, Noordwes (Suid-Afrika) (Foto verskaf deur lekkeslaap.co.za)

Akkommodasie-eienaars in die onderstaande dorpe het in ons meningspeiling laat hoor dat hulle bestemmings in 2016 meer gewildheid gewerf het:

  1. Simonstad
  2. Agulhas
  3. Paarl
  4. Robertson
  5. Danabaai
  6. Struisbaai
  7. Montagu
  8. Prins Albert
  9. Pietermaritzburg
  10. Hoedspruit

Simonstad, Agulhas en die Paarl is toonaangewende bestemmings weens die legio doendinge en besienswaardighede wat hulle bied.

Simonstad se prentjiemooi uitsigte oor Valsbaai sal jou soos ’n toeris in jou eie land laat voel. 86% van Simonstad se akkommodasie-eienaars meen dat hulle besighede in 2016 meer suksesvol was. Die Suid-Afrikaanse Vlootbasis en die oulike  Afrika-pikkewyne wat Boulders-strand as hulle tuiste gekies het, is net twee van die groot trekpleisters. Avontuurlustiges kan verskeie voetslaanpaaie aanpak, soos die Signal School Steps na die bekende vlootbrak, Just Nuisance, se graf en die wandelpad na die wondermooie Admirals Waterfall. Simonstad is ook die laaste dorp voor die wêreldbekende Kaappunt Natuurreservaat wat enigeen se asem sal wegslaan.

Agulhas is ’n móét vir natuurliefhebbers en die plek waar die Indiese- en Atlantiese Oseaan mekaar ontmoet. Die beeldskone omgewing bied eindelose fotogeleenthede en besoekers kan by die baken wat Afrika se mees suidelike punt aandui, foto’s neem. Die historiese rooi en wit Kaap Agulhas-vuurtoring is die tweede oudste werkende vuurtoring in Suid-Afrika en daar is ’n museum en ’n pragtige uitsig van bo af. Volgens Kaap Agulhas Toerisme besoek derduisende mense jaarliks Afrika se mees suidelike punt sedert die vuurtoring in 2013 heropen is. 85% van akkommodasie-eienaars in Agulhas het 2016 as ’n suksesvoller besigheidsjaar ervaar. Net om die draai van Agulhas is ons nommer 6, Struisbaai, wat spog met spierwit strande. ’n Besoek aan die hawe, waar jy vars vis by die plaaslike vissermanne kan koop, is beslis die moeite werd.

Bespreek nou by Oude Denneboom in die Paarl op LekkeSlaap.co.za

Bespreek nou by Oude Denneboom in die Paarl op LekkeSlaap.co.za

Die Paarl se gewildheid kan toegeskryf word aan die feit dat hierdie historiese dorp oorgenoeg vermaak aan ’n ieder en ’n elk bied. Híér meen 84% van akkommodasie-eienaars dat hulle besighede in 2016 meer kliënte akkommodeer het. As die pêrel in die Kaapse Wynlande se kroon, is die Paarl deurspek met bekroonde wynplase, elkeen met ietsie anders, soos ’n toprestaurant, speelplek, piekniekgeleentheid, mikrobrouery, interessante wynparing of handwerkprodukte. Boonop spog die dorp se silhoeët ook met die ikoniese Afrikaanse Taalmonument en Amfiteater waar verskeie vertonings elke jaar aanskou word. Annelize Stroebel, Paarl Wyn en Toerisme se bemarkingsbestuurder, sê dat die gewildste bestemmings in die Paarl tot 300 000 besoekers per jaar lok! Te danke aan die 12 kilometer lange hoofstraat wat die langste in Suid-Afrika is en bespikkel is met ’n verskeidenheid koffiewinkels, historiese argitektuurskatte, galerye, antiekhandelaars en winkeltjies, voel die dorp nooit oorvol nie. Van fynbosryke roetes en bekende gedenkwaardighede tot verskeie dierparke, die Paarl het álles, en is net ’n entjie se ry vanaf nóg besienswaardighede in Stellenbosch, Franschhoek en Kaapstad.

Die bekoorlike Robertson word omring deur luisterryke berge, wingerde en vrugteboorde. Dit is in die hartjie van die wynroete met vele spogwynplase waar vakansiegangers kan aanklop én is die tuiste van feeste soos Wacky Wine waar besoekers die vallei se “vrugte” kan beproef. Roete 62, wat deur Robertson loop, neem jou na talle dorpe wat beslis ook ’n besoek werd is. Die bekende Breederivier vloei deur die streek en idilliese bootritte is dié beste manier om die omgewing te verken. Dit is die perfekte plek om af te skakel en jou in die natuur te dompel.

Die dae wat Danabaai bloot as ’n buurt in Mosselbaai beskou is, is verby. Hierdie bewarea in die hartjie van die Kaapse blommeryk bied topklas natuurskoon naby Diasstrand, Pinnacle Point, twee winkelsentrums en verskeie restaurante. Dit is ’n stiller, meer ongerepte alternatief vir die deurgetrapte vakansiebestemmings in die omgewing.

Bespreek nou by die Montagu Country Hotel op LekkeSlaap.co.za

Bespreek nou by die Montagu Country Hotel op LekkeSlaap.co.za

Die historiese dorpie, Montagu, het verskeie buitelug-doendinge en besoekers kan dié omgewing op ’n unieke manier verken agterop een van Montagu Trekkerritte se trekkers of in een van American Dream Cars se klassieke motors. Die dorpie spog met historiese geboue en argitektoniese wonders. Montagu se warmwaterbronne is ook baie gewild en is ’n ideale bestemming vir die hele gesin.

Prins Albert skuil op die rantjie van die Groot-Karoo aan die voet van die Swartberge. Aangesien hierdie bekoorlike dorpie se ekonomie op landbou en toerisme geskoei is, is dit ingestel op besoekers se behoeftes. Die vars plaaslike produkte, feeste, kookkursusse, begeleide staproetes, joga-klasse, sterrekyktoere, museums, kuns en teatervermaak, toon duidelik waarom Prins Albert ’n groot gunsteling onder Suid-Afrikaanse vakansiegangers is.

Pietermaritzburg is in die hartjie van die Natalse Middelande en spog met pragtige koloniale geboue, nasionale monumente, die Voortrekker Museum en een van Suid-Afrika se groot kunsgalerye, die Tatham Art Gallery. Die stad is in ’n asemrowende vallei, omring deur groen heuwels, en bied al die geleenthede van ’n stad. Besoek gerus Pietermaritzburg dié vakansie om te sien waarom soveel Suid-Afrikaners dit as ’n vakansiebestemming kies.

Bespreek nou by die Marula Bush Lodge in Hoedspruit op LekkeSlaap.co.za

Bespreek nou by die Marula Bush Lodge in Hoedspruit op LekkeSlaap.co.za

Hoedspruit is ’n natuurliefhebber se droom en trek heelwat vakansiegangers omdat dit naby verskeie natuurreservate, die Krugerwildtuin en rehabilitasiesentrums vir beskermde spesies is. Indien jy ’n groen hart het, is Hoedspruit die ideale plek om jou vakansievoete heen te rig.

Ons meningspeiling het ook die volgende provinsies uitgelig as die topbestemmings in 2016. Noordwes was in 2016 die gewildste vakansiebestemming met 67% van besighede wat ’n toename in hulle besoekersgetalle gesien het. Limpopo en die Wes-Kaap is kort op hulle hakke kort kop agter met 66% van die besighede wat verbeterde besoekersgetalle berig. En die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal behaal ’n derde plek met 64% van besighede wat beter gevaar het as vroeër jare.

  1. Noordwes
  2. Limpopo
  3. Wes-Kaap
  4. Oos-Kaap
  5. KwaZulu-Natal

Dié gewilde provinsies bied ’n magdom doendinge en besienswaardighede aan jonk en oud. As een van Suid-Afrika se top-erfenisbestemmings, met pragtige natuurskoon en hope avontuur, kan ons verstaan waarom Noordwes in 2016 Suid-Afrika se gewildste provinsie is. Ander gewilde Noordwes-bestemmings sluit die Magaliesberge, Vaalrivier, bosveldlandskap, Sun City en Hartbeespoortdam in.

Limpopo se gewildheid kan toegeskryf word aan besoekers se behoeftes om die buitelewe te geniet en bestemmings soos die Bosveld, Waterberge, Soutpansberg en Blyderivierpoort te besoek, terwyl die Wes-Kaap ’n droombestemming is met sy pragtige strande, wynlande, verskeie bergreekse, die Tuinroete en eindelose Weskus.

Die Oos-Kaap bied ongerepte natuurskoon en is die ideale omgewing vir ’n rugsakreis. Die Sonskynkus, Wildekus en Tsitsikamma kan uitgesonder word asook die Oos-Kaap se wêreldbekende strande wat gewild is onder branderplankryers. In KwaZulu-Natal is daar ’n mengelmoes kultuur en avontuur om te ervaar en vakansiegangers kan by ’n rits Suidkusdorpies langs die warm Indiese oseaan ontspan. Dié provinsie spog met die Drakensberge, die Vallei van ’n Duisend Heuwels en die Sanipas.

Suid-Afrika wemel van gewilde kusdorpe, wêreldbekende landmerke en bosveldbestemmings. So, as jy nog nie ons toerisme-mekka behoorlik deurkruis het nie, is 2017 jou kans om ook ander dorpe in die nuwe jaar gewilder te maak!

Hierdie artikel is verskaf deur LekkeSlaap.co.za en is opgestel deur Adriëtte le Roux, Danielle Terblanche en Karli Dürr.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.