Jou bobaas-blommekykgids vir 2017

Jakkalswater Gasteplaas (Foto: LekkeSlaap)

Baie van ons se enigste herinnering aan die jaarlikse veldblomseisoen is ’n ou, verrimpelde foto van jou wat verbouereerd tussen die blomme poseer terwyl ma of pa allerhande snaakse streke uithaal om jou aandag op die kamera te hou. Of dalk het jy nog nooit eerstehands die Weskus en Namakwaland se blommeprag aanskou nie? Hoe dit ook al sy – dié blommekykgids vir beginners sal jou help om behoorlik jou eie blommekykreis voor te berei.

Wanneer is die beste tyd vir blommekyk?

Gewoonlik het Namakwaland teen dié tyd reeds begin om sy blommetapyt oop te rol vir reisigers wat van wyd en syd kom om dié kaleidoskoop te bewonder. Die blomme begin aan die begin van Augustus kop uitsteek en verwelk gewoonlik teen einde September. Kort daarna, teen middel September, is dit die Weskus se beurt om te blom. Volgens die Darling Veldblomvereeniging het daar reeds rondom Darling ’n paar gesiggies in die veld verskyn!

Die blommeseisoen verskil natuurlik jaar na jaar subtiel na gelang van klimaat en reënval. Die intensiteit van die blomme se kleurpalet hou byvoorbeeld verband met die hoeveelheid reën wat in die winter geval het, so sommige jare is die oranjes en gele helderder as ander jare. Die blomme wag natuurlik vir die son om uit te kom voor hulle hul gesiggies wys, so wag vir ’n lekker matige sonskyndag en gaan kyk dan tussen so 10:30 en 15:30 wanneer hulle op hul mooiste sal wees. Dit moet ook nie te vinnig warm word nie, anders verwelk hulle. Veldblomme is op hulle gelukkigste as die temperatuur so 14 grade Celsius is.

Waar kan ek gaan blommekyk?

Weskus:

Weskus Nasionale Park (Foto verskaf deur Ankia Wolf)

Namakwaland:

  • Hester Malan Veldblomtuin en Goegap Natuurreservaat buite Springbok
  • Skilpad Veldblomreservaat in Die Namakwa Nasionale Park (wat 103 000 hektaar beslaan) buite Kamieskroon
  • Die kokerboomwoud, Hantam Nasionale Botaniese Tuin, Nieuwoudtville se Blommereservaat en die Oorlogskloof Natuurreservaat buite Nieuwoudtville
  • Akkerendam Natuurreservaat in Calvinia

Skilpad Farm (Foto: LekkeSlaap)

Let wel: Weens die groot tekort aan reën is die Namakwaland se blomme nog nie wat dit moet wees nie, maar wie weet, as dié maand nog genoeg reën oplewer, is daar wel ’n kans dat hulle steeds sal kop uitsteek. Daar is boonop genoeg ander doendinge in dié geweste dat ’n Namakwalandreis nie tevergeefs sal wees nie:

  • Bergfietsry: Daar is talle bergfietsroetes in die omgewing, byvoorbeeld die Viswater-roete wat by Doringbaai begin en tot by Papendorp strek. Dis ’n heerlike manier om die buitelug te geniet en die omgewing te verken!
  • Sterrekyk: Lankverwacht-gasteplaas in Vanrhynsdorp bied die beste sterrekyk-geleenthede aan op ʼn wolklose aand.
  • Voëlkyk: Voëlliefhebbers kan gerus die uitkykpunt by Papendorp besoek en die diverse voëllewe bewonder. Kontak Salome Willemse by 027 219 1202 of stuur ʼn e-pos na [email protected] vir meer inligting.
  • 4×4-roetes: Maskam-gasteplaas buite Vanrhynsdorp het heelwat 4×4-roetes, soos die 80 km lange sirkelroete by Gifberg.
  • Watersport: Die Namakwalandse kus bied lekker watersportgeleenthede soos byvoorbeeld kanovaart en riviervlotvaart by Papendorp.
  • Wynproe: Maak ’n draai by Teubes Familiewyne vir wynproe en middagete of gaan proe gratis wyn by Die Keldery. Daar is selfs ’n speelpark en alkoholvrye proe-opsies vir die jongspan. Klawer Wynkelder op die N7 bied ook gratis wynproesessies tot 13:00 op Saterdae.

Hoe gaan kyk ek blomme?

Die meeste plaaslike toeriste verkies om selfry-roetes te volg aangesien dit meer vryheid bied. Daar is wel ander interaktiewe maniere om die meeste van jou blommekykvakansie te maak!

Rietrylaagte Accommodation and 4×4 (Foto: LekkeSlaap)

Blommekyktoere:

As jy nie lus is om self brandstof uit te ry nie en eerder jou oë ten alle tye op die blomme wil hou, is dit ’n goeie plan om eerder ’n begeleide blommekyktoer te bespreek. Ervare toergidse sal weet presies waarheen om te ry om teleurstelling te vermy én boonop interessante brokkies oor die blommeryk met julle deel. Bespreek ’n halfdag- of voldagtoer en gaan slaap dan na die tyd by een van ons oulike blyplekke aan die Weskus of in Namakwaland oor.

Staptoere:

Buiten self rondry van bestemming tot bestemming, kan reisigers ook talle staproetes deur die blomroetes se gewildste reservate aanpak en as’t ware tussen die blomme oornag voor hulle die volgende dag verder stap.

  • Die Postberg Tweedag-staproete is ’n luisterryke staproete wat minder as 30 km lank is. Stappers bring ’n nag tussen die veldblomme deur. Onthou om jou eie tent en proviand saam te bring.
  • Die Steenbok Eendag-staproete is ’n 14 km lange staproete wat dieselfde roete as die Postberg Tweedag-staproete volg.
  • Die Swart Tobie-staproete laat jou toe om ongeveer 80 km van ’n afgeleë gebied in die Weskus naby die dorp Koekenaap te verken. Wandel deur die veldblomme, al langs die strande, en as jy gelukkig is, sal jy selfs ’n walvis of twee in die water sien baljaar.
  • Die Sevilla Rotskuns-roete strek 4 km ver in die Sederberge verby 9 rotskunsplekke.
  • Die Five Bay-roete kronkel 28 km lank al langs die Weskus tussen Paternoster en Jacobsbaai. Stappers stop by 5 baaie en leer sommer langs die pad iets van die geskiedenis van die visbedryf.

Blommeskoue:

Daar is ook ’n paar jaarlikse blommeskoue waar besoekers ’n allesomvattende ervaring van die blommeseisoen kan beleef en boonop met ’n klein toegangsfooi tot die bewaring van die blommekoninkryk kan bydra.

Darling Veldblomskou (Foto: Silver Dune Photography)

Darling Veldblommeskou: Een van dié feeste is die eeu-oue Darling Veldblommeskou wat vanjaar van 14 tot 17 September deur die Darling Veldblommevereniging aangebied word. ’n Hele saal word uitgevoer met Darling-veldblomme en daar is kos- en handwerkstalletjies. Jou toegangskaartjie sluit ’n paar doendinge in, so gaan loer gerus hier vir meer inligting.

Clanwilliam Veldblommeskou: Die Clanwilliam Veldblomskou sou vanjaar van 25 Augustus tot 2 September plaasvind, maar is ongelukkig weens die droogte gekanselleer. Volgens Alida Stone, voorsitter van die Clanwilliam-blommeskou-komitee, het “[d]ie erge droogte, wat die hele land ervaar, […] veroorsaak dat baie van [die] blomme en plante eers veel later sal blom. [Daar is nie] genoeg blomme om ʼn goeie vertoning vir die skou saam te stel nie.” Gewoonlik word daar gedurende dié fees meer as 400 spesies, waarvan baie nêrens anders in die wêreld voorkom nie, onder een dak uitgestal. Hou dit gerus in gedagte vir volgende jaar se blommeseisoen ─ hopelik is Clanwilliam se veldblomme weer volop teen 2018!

Hier is nog ’n paar wenke om ’n bobaas-blommekyksessie te beplan!

  • Pak ’n piekniekmandjie en klink ’n glasie tussen die blomme.
  • Die blomme gaan net oop as die son skyn, so luister ’n bietjie vir die weerman voor jy vertrek.
  • Reis eers noord en begin dan blommekyk soos wat jy suid beweeg, want die blomme kyk altyd vir die son – en só sal hulle vir jou ook kyk.
  • Kry gratis toegang tot die nasionale parke gedurende die SANParke-week (10 tot 16 September) of neem jou WildCard saam as jy een het.
  • Moenie jou kamera vergeet nie. Neem ’n driepoot saam om gesinsfoto’s tussen die blomme te neem.
  • Moet asseblief nie die blomme pluk nie!

Namaqua Flower Skilpad Camp (Foto: LekkeSlaap)

Met dié blommekykgids behoort jy nou ’n behoorlike blommekykwegbreek te kan beplan! Wonder jy waar om te begin? Loer dan gerus solank op LekkeSlaap vir verblyf al langs die blomroetes sodat jy weet jy gaan lekker kan rus ná ’n prettige dag van rondrits en blommekyk in die son.

Namakwaland | Springbok | Kamieskroon | Nieuwoudtville | Vanrhynsdorp | Clanwilliam | Sederberg | Weskus | DarlingLangebaan | Paternoster | Malmesbury

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Ankia Wolf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.