Koptiese Kaïro: Die heuwel van kerke

Retha Dreyer in Egipte (Foto: Thomas Dreyer, verskaf aan Maroela Media)

Retha Dreyer in Egipte (Foto: Thomas Dreyer, verskaf aan Maroela Media)

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Egipte en Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Ons gebruik ‘n tuk-tuk-taxi om van die karaktervolle ou Kaïro na Koptiese Kaïro te ry waar verskeie Koptiese kerke gebou is. Kopties was die taal van antieke Egipte en word vandag toe nog as taal in die Christelike Koptiese kerke gebruik.

Die tuk-tuk vleg toet-toet deur die verkeer om ons by die ingang na Mir Girgis af te laai. Hierdie is toeristegebied. Busse vol toeriste en die pryse van alles duurder as in Ou Kaïro. Die toegangbeheer is deur soldate met gewere. Nie dat dit ‘n bedreiging is nie, inteendeel, dit is gerusstellend.

Op pad na Mir Girgis stop ons by ‘n kafeetjie om water te koop. Die eienaar groet ons in Engels. Toe hy hoor ons kom van Suid-Afrika groet hy ons in Afrikaans! “Dag my broer. Hoe gaan dit?” Sy broer woon in Kaapstad en hy vervaardig en voer Egiptiese katoen- en syserpe uit na Suid-Afrika en ander wêrelddele.

Die St Georgeskerk is ons eerste bestemming – ‘n indrukwekkende Grieks Ortodokse Kerk. Dit is gebou op die terrein van ‘n fort wat die Perse in 500 vC hier as ‘n handelspos aan die Nylrivier gebou het. Vandag is die gebied vol uitgrawings en ruïnes van die fort.

Ons tel agt Christelike kerke en ‘n Joodse sinagoge binne ‘n vierkante kilometer. Die Ben Ezra-sinagoge is gebou langs ‘n put waar, volgens Egiptiese oorlewering, Moses deur Farao se dogter uit die Nylrivier gehaal is.

Een van die oudste kerkgeboue hier is die “Hangende Kerk” wat dateer uit die 7de eeu nC. Dit is so genoem omdat dit bo-oor ‘n ingang van die Babiloniese fort gebou is. Die “Grotkerk” weer, wat soos ‘n grot lyk, is gebou bo-op ‘n grot waar, volgens Koptiese oorlewering, Josef en Maria met die baba Jesus geskuil het toe hulle na Egipte gevlug het. Die grot bestaan blykbaar nog steeds, maar is nie oop vir besoekers nie.

Egipte (Foto: Thomas Dreyer, verskaf aan Maroela Media)

Egipte (Foto: Thomas Dreyer, verskaf aan Maroela Media)

Al is Sondag ‘n normale werksdag in Egipte, is daar heelwat besoekers hierdie Sondagmôre. Die atmosfeer is rustig gesellig. Mense groet vriendelik en ons vermoed dat van hulle Koptiese Christene is. Party drink tee by tafeltjies. Ons kry verskeie versoeke om saam met hulle afgeneem te word. Europeërs is maar skaars hier rond.

Ons stap deur ‘n nou stegie waarvan die mure weerskante vol boeke is. Hulle is in plastiek toegemaak en skep ‘n rustige biblioteekatmosfeer. Die stegie is die toegangsroete tot verskeie kerke en tot die Ben Ezra-sinagoge. By die sinagoge gesels ‘n veiligheidswag met ons in gebroke Engels. Toe hy hoor ons kom van Suid Afrika – almal dink ons kom van Duitsland – reageer hy dadelik met “Bafana Bafana, Banana Banana!” Hy word toe ons selfaangestelde toergids.

Net ‘n 100 meter straat af is die Moskee van Amr wat uit die 7de eeu dateer. Ons huiwer by die deur, maar word vriendelik ingenooi deur ‘n jongman wat vlot Engels praat. Ons trek ons skoene uit en stap die koel, donker moskee binne. Hier en daar sit mense en bid. Ek gaan sit by die jongman, ‘n handelaar in tweedehandse Mercedes-Benz onderdele, en kort voor lank, op sy aandrang, gesels ons oor godsdiens. Die atmosfeer is gemaklik en vriendelik en hy luister aandagtig wanneer ek die verlossingswerk van Jesus aan hom verduidelik.

Ons ry met die metro vanaf Mir Girgis terug Heliopolis toe waar ons bly. Die trein is tjok en blok vol. Jy moet indruk as jy plek wil hê. En wanneer jy dink die trein is vol, druk nog ‘n horde in. Almal aanvaar dit, almal doen dit. Mense groet ons vriendelik, want ons staan uit as vreemdelinge met ons ligte kleredrag en blonde hare. ‘n Jongman groet vriendelik in Engels en ry, om ons te help, die hele pad saam tot waar ons afklim.

Dit is ons oorheersende indruk. ‘n Ou, en deesdae, arm stad met ‘n ryk geskiedenis en vriendelike en hulpvaardige mense. Waar kerk, sinagoge en moskee saam die eeue oorleef het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.