ʼn Liefde vir Jeffreysbaai

20150324_130754Skemertyd op die strand is die wolke dieselfde kleur as die berge in die verte: ʼn mistige pers. Die branders breek in skerfies goud terwyl ons strandlangs stap. Dis laagwater, versigtig trap ons oor skulpe wat blink in die sakkende son. Dis iets waarvoor Jeffreysbaai bekend is, dié Kaapse en Indo-Stille Oseaan- skulpe wat hier uitspoel. My vyfjarige karnallie wip van rots tot rots, ook verby ʼn hengelaar met ʼn sonblonde kuif wat die lyn flink en ver agter die branders gooi.

Op die stoepie van On the Beach, letterlik ʼn paar meter van die strand af, deel ons gesin ʼn waatlemoen. Dié boutique-gastehuis het ʼn hele klomp kamers, maar die tweeslaapkamersuite met sy volledig toegeruste kombuisie, oopplanleefkamer, ruim hoekbad en klipstort maak dit ʼn ideale blyplek vir ʼn gesin van vier. Die dekor is duidelik met die hand uitgesoek – snoesig en stylvol. Sjuut-sjuut word ons op die koningsbed aan die slaap gesus deur ʼn seegesuis in die ore.

on-the-beach-guesthouseDie volgende oggend vroeg draf ons gesin ʼn entjie langs die glinsterwater tot by Dolfynstrand. Die strand is skoon en die mense is gemoedelik – drawwers, hengelaars, spelerige brakkies, bejaardes, kleuters wat sandkastele bou.

Ontbyt by On the Beach word bedien in die seesitkamer met ʼn wonderlike uitsig oor die skulpwit branders. Ek leun terug op die rusbank en verlustig my aan die moerkoffie. Die vrugteslaai is ʼn kleurryke klein kunswerk met miniatuur appeltjies, kiwi, blosende aarbeie, druiwe en dies meer. Ek is nog besig om te smul aan ʼn omelet gevul met salami en feta, toe drie branderplankryers hier voor my die dieptes aandurf. Dit lyk of hulle met die golwe dans! Dis ʼn getol en ʼn gelyfswaai wat jou kop laat draai, want Jeffreybaai is natuurlik wêreldwyd beroemd vir sy rollergolwe waarop ʼn bedrewe branderplankryer verder as 500 m kan ry. Terwyl ons die die surfers so dophou, woerts iets uit die water. ʼn Dolfyn! Nee, dosyne dolfyne boogspring deur die branders hier voor ons ontbyttafel verby…

Die Charlotte Kritzinger-skulpmuseum met sy 600 skulpspesies is die grootste skulpersameling in die land. Hier is gefossileerde seelewe, koraal en skulpe uit die Filippyne, Taiwan, die Bahamas en Tanzanië. Alles netjies uitgestal met kostelike, beskrywende Afrikaanse volksname soos babatoontjies, engelvlerke, ploegslakke en kunstande! Ons leer van skulpe wat fyngemaal word vir porselein, van kunstenaars wat verf met inkvis-ink, van die nautilus-skulp wat die wyfie se “eierwiegie” is. Die seeperdjiehings broei die eiers manalleen uit, terwyl die merrie “vrolik wegdans”, dan kraam hy die vulletjies ses weke later “met stuiptrekkings en tye van algehele uitputting”.

seashell-754014_1280Die wind begin verwoed waai en ons besluit om liewer nie vir surf-lesse te gaan nie – ons mag dalk net in Antarktika uitspoel! Maar niks keer ons om by die Surfing Village te draai nie. Bekende internasionale handelsmerke soos Billabong, Quick Silver, Roxy en Lizzard word hier teen fabriekspryse verkwansel en ek koop vir Gerrit ʼn cool Rip Curl hemp wat 50% “afgeslag” is. Ons ry deur buurtes waar die mooie ou vyebome se stamme vleg en die blaredakke bo-oor die pad strek. Dit blyk dat die mense van Jeffreysbaai ʼn grappie geniet, soos wat die tong-in-die-kies plekname verklap. Daar is ʼn haarsalon met die naam Curl up and dye. Naby die strand is ʼn huis met die naam Nes van moles, met ʼn buurman wat heet Grot van genot.

Kitchen Window is ʼn strandrestaurant reg op die strand! Die atmosfeer is stylvol en die kelnerinne is tops. ʼn Bordjie verkondig: “If you’re not barefoot, you’re overdressed.” Die lamp teen die plafon is ʼn branderplank met ingelegte liggies. Oral teen die muur vertel mooi ou kiekies die verhaal van toeka tot nou, van nasionale koerante wat in die 1960’s berig het hoe Johannesburgse meisies weggeloop het om hier te rinkink saam met die hippies van Jbay. Daardie jare was die duine nog 60 m hoog. Dit was voordat die beskawing kom inmeng het…

Ons gee mekaar daai kyk, skink nog witwyn en stuur die boeties weg om mekaar nog ʼn slag tussen die duine te gaan rondjaag

By Kitchen Window is die kos vars, heilsaam en hormoonvry. Hulle maak seker jy weet dis organiese groente en vis wat ʼn eko-vrolike lewe geleef het. Voorgereg is diepgebraaide calamari. Hoofgereg is kabeljou wat die oggend nog in die see geswem het. Die kruisskyf is vir 28 dae rypgemaak, ingevryf met vars tiemie en vlamgebraai. Poeding is sjokolade-mousse met ʼn swierige sjokoladekrul in die vorm van ʼn brander! Tussen die geregte deur hol ʼn paar kinders op die grasperk tussen see en restaurant of balanseer soos wafferse surfers op die handreling van die houttrappies na die see. Gerrit fluister juis hoopvol in my oor (“Ons is nou wel hier saam met ons kinders, maar eendag sal ons aan dié tye terugdink as van die mees romantiese oomblikke”) toe ons tjokkertjie opdaag met twee aartappelskyfies wat by sy neus uithang: “Ek’s ʼn walrus, ek’s ʼn walrus!” sing hy vrolik. Ons gee mekaar daai kyk, skink nog witwyn en stuur die boeties weg om mekaar nog ʼn slag tussen die duine te gaan rondjaag.

REISRAAD

* On The Beach is ʼn uitstekende boutique-gastehuis waar jy ʼn oorvloed see, styl, vriendelike diens en stilte kan ervaar. Skakel 042 293 3427, 082 527 9414 of besoek www.onthebeach.co.za

* Kitchen Window is ʼn gesinsrestaurant wat vir vier jaar na mekaar in die toekenning as nr. 1-restaurant in die Oos-Kaap van Tripadvisor gewen het! Dis reg op die strand. Skakel 042 293 4230, stuur e-pos na [email protected] of besoek www.kitchenwindows.co.za.

* Charlotte Kritzinger-skulpmuseum is baie spesiaal en spotgoedkoop. Toegang is R10 per volwassene, R5 per kind. Dis oop van Maandag tot Vrydag 10:00 tot 15:00 en Saterdag van 09:00 tot 14;00. Skakel 082 852 4056.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nico K ·

Ek onthou Jeffreys van die dae toe dit nog ‘n klein dorpie was. Daar was net een winkel, Ungerer, waar mens alles kon koop. Nou is dit ‘n groot plek met honderde winkels wat Desembermaande wemel van mense sodat die verkeer staan soos Pretoria tydens spitstyd. Maar dit is nog steeds ‘n lekker vakansie plek.

Piet ·

Dankie vir die berig oor Jeffreys . Ons het mooi herinneringe oor Jeffreys Baai. Ons eerste ontmoeting met Jeffreys Baai was middel 1990 toe ons in Piet Olivier se woonstel tuis gegaan het. Daarna het ons in Jan en Esmé se woonstelle gekuier, hulle het later die woonstelle op ‘n permanente basis uitverhuur. Ons het toe vir baie jare Ds. Jasper en Christel se woonstel gehuur. Ons ken die omgewing goed want ons het rondgery van PE tot in Louterwaters waar ons vrugtesap gekoop het en by Kontrei Kombuis middag ete geniet het. Ons is dankbaar dat ons dié deel van ons land kon leer ken het.

Annette Beukes ·

Een van die dae gaan ons in einste pragplek kuier vir ‘n hele week. Tel al die dae af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.