Op reis deur Europa: Athene, die nartjieboomstad

Athene Foto: Thomas Dreyer

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Die oggend is koud en reënerig en ons besluit om met die trem van Neos Kosmos see toe te ry. Ons het ‘n vyfdagkaartjie gekoop waarmee jy enige tyd op enige metro, trem of bus kan ry. Dit het R125 per persoon gekos en ons wil waarde vir ons geld kry.

By die tremstasie hoor ons die trembestuurders staak. Iets wat glo té gereeld gebeur. Ons ry toe met die metro Syntagma-plein toe. Syntagma-plein is die hart van Athene. Reg voor die vaalpienk parlementsgebou. Waar alle belangrike politieke betogings plaasvind.

Op die Syntagmastasie is ʼn uitstalling van plaaslike kosprodukte. Ons stap deur en proe aan heerlike konfyte, kaas, broodjies en sjokolade. Manamous is ʼn groot Griek met gekrulde grys hare wat spesiaal van Kreta af gekom het om sy blokke kaas uit te stal. “Waar kry julle al die melk?” vra ek. “Dit is bok- en skaapmelk,” sê sy aanvallige Griekse assistente.

Ons stap op Syntagma-plein rond. Voor die parlementsgebou is twee wagte met seremoniële drag, swart minijasse en wit langbeenkouse en rooi kepse wat in volmaakte gelid met mekaar die snaaksste marsjeerpassies uithaal. Toeriste staan met kameras die petalje en dophou.

Groot dele van die sypaadjies is met marmerteëls uitgelê en jy moet versigtig wees om nie daarop te gly as dit nat is nie. Selfs hele geboue is met marmerteëls, blou, wit en pienk, geteël. En natuurlik, die meeste trappe in die geboue en stasies is van marmer.

Ons drink Griekse koffie by ‘n koffiewinkel. Dit is fyngemaalde koffie wat gekook word. Dit smaak nogal nie te bitter nie. Ons stap oor die straat en gaan soek ʼn toilet in die Nasionale Tuin. Dit is ‘n pragtige groot tuin met marmerstandbeelde van belangrike Griekse legendes soos Sokrates, Jean Moreas en Johannes Kaposditrias.

“Nerantzie”-bome in Athene Foto: A Place Called Space

Die tuin is leeg. Net ‘n handjievol mense. Seker maar oor die weer, want dit is laatwinter en die luggie knyp. Oral groei nartjiebome. Nie net in die tuin nie, maar op sypaadjies die stad vol. Die vrugte hang helderoranje teen die donkergroen blare. Ons pluk een om te proe, dit het so ‘n suurbitter smaak. Proe nogal gesond.

Ons besluit om met ons metrokaartjie sommer op enige bus te klim en in enige rigting te ry. Ons ry by die pragtige stadsbiblioteek en die Akademia verby. ‘n Stuk of agt bushaltes verder klim ‘n vet man op wat só sleg ruik dat ons op die plek naar is. Ons klim by die volgende busstop af, net verby ‘n straatmark.

Ons kan ‘n straatmark nie verbyloop nie. Die straatmark is in ‘n nou straatjie met stalletjies weerskante waar die mooiste vars groente en vrugte, kaas en, natuurlik, olywe verkoop word. Vars vis lê blink uitgepak op die tafels. Mense loop heen en weer met inkopiekarretjies en koop hulle voorraad groente en vrugte.

Die verkopers skreeu en roep kliphard in Grieks om kliënte te lok. Die atmosfeer is amper soos dié van ‘n karnaval. Dit val my op hoeveel ou mense inkopies doen – omies en tannies wat al krom loop met knoppe op hulle hande van die ouderdom. Hulle moes al in ‘n ouetehuis wees (ek dink nie hier is so iets nie), maar bly deel van die bedrywighede.

Ons ry verder met ‘n bus in ʼn rigting. Die bus laai ons toe ook sommer êrens af, net toe ‘n harde bui reën uitsak. Dit is yskoud en ons staan onder ‘n stoepdak en wag vir die bui om oor te gaan.

Gelukkig is ons by die Nomoia-metrostasie en ons kan met die metro Syntagma-plein toe ry. Daar kry ons die trem terug huis toe. Ons ry graag trem, want die trem ry bo-gronds en dan kan ons meer van die stad sien. Dit is nou wanneer die tremdrywers nie staak nie. By die huis is dit tyd vir warm gemmerkaneel-tee om die ergste koue te verdryf.

Lees alle berigte oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elrina Versfeld ·

Baie dankie, Thomas, jy het die gawe om julle reise so te beskryf dat dit voel of ek as leser saam kan reis. Baie dankie, dis baie interessant!

Debbie Donaldson ·

Dankie Thomas en Retha, vir die inligting. Ek gaan Sept maand daar ‘n draai maak en sal beslis die Syntagma-plein besoek. Dit maak my van voor af opgewonde oor die nuwe ervaring. Debbie

SARIE VAN HEERDENSss ·

Miskien kan ons meer bydraes kry van Thomas en Retha se vie interessante en mooi reisbeskrywings, Maroela?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.