Op reis deur Europa: Rome – La dolce vita

Rome (Foto: Thomas Dreyer)

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Rome is die stad van die antieke Romein, die Renaissance, die Rooms Katolieke Kerk en die stad van die moderne Romein. Dit alles ervaar jy binne stapafstand van mekaar wanneer jy die middestad van Rome besoek.

By die Kolosseum is die inwoners van antieke Rome op bloeddorstige vertonings getrakteer. Toegang was gratis en jy kon jou heeldag verlustig aan die vertonings. Jy kon kies tussen die oggend se gevegte met wilde diere of die middag se gevegte tussen gladiators – gevegte tot die dood toe. Party dae kon jy gaan kyk na die teregstelling van veroordeelde misdadigers.

By die Circus Maximus kon jy gaan kyk hoe spanne van oor die Romeinse ryk teen mekaar jaag met hulle strydwaens. Of jy kon opstap na Nero se renbaan (vandag die plein voor die St Petruskatedraal) om die geskeduleerde strydwakompetisies dáár by te woon. En as afwisseling te sien hoe Christene gekruisig of verbrand word.

En as jy in alle bygelowigheid jou gewete wil sus, het jy na die Pantheon toe gegaan om aan ‘n god van jou keuse ‘n offer te bring.

Enige dag kon jy sommer net saam met vriende gaan wandel op die Via Appia of in een van die parke gaan kuier. Die Forum Romanum met sy drie verdieping hoë geboue was dié plek om jou inkopies en sake te gaan doen of jou belasting te betaal.

Rome (Foto: Thomas Dreyer)

Vandag ry die moderne Romeine ondergronds met een van drie metrolyne om by hulle bestemmings uit te kom. Of met een van die talle en gereelde bus- of tremlyne. Sake kan oraloor gedoen word. Inkopies op elke tweede hoek.

Met vriende kan jy elke middag ná vyfuur op die Via del Corso gaan wandel wanneer die straat gesluit word vir voertuie tussen die Piazza del Popolo en die Piazza Venetium. Jy kan ‘n aperitif drink by een van die straatkafees of sommer net loop en skouer skuur met jou mede-inwoners.

Vir die mooi vroue kan jy “Bella” sê, of vir die aantreklike mans, “Bello”. Dit beteken, “Jy is mooi.” Daar is genoeg van hulle!

Enige dag van die week kan jy in een van die honderde katedrale gaan bid. Voor beelde buig, hulle aanraak of tot hulle bid. Die katedrale is vol grafte van afgestorwe heiliges, vernames of pouse. Daar kan jy ‘n kersie aansteek en vir hulle vra om vir jou ‘n woordjie te doen aan die ander kant.

En alhoewel die “mass” elke dag bedien word en die priesters Christelike boodskappe bring, is die katedrale, of kerke, eintlik mousoleums – grafkelders. Die gekruisigde, dooie, Jesus is oral. In beelde of skilderye.

Rondom is kapelle met marmerkiste waarin ontslape vernames en heiliges begrawe is. Op die marmervloere herinnerings aan afgestorwenes. Jy gaan bid eintlik in ‘n begraafplaas – jou kontakpunt met die hiernamaals.

Rome (Foto: Thomas Dreyer)

Rome is ook die stad van die Renaissance wat, seker meer as enige ander stad in die wêreld, wêreldklas kunstenaars opgelewer het. Vandag sorg dit dat toeriste van een museum na die ander stroom.

Michelangelo, Bernini, Raphael en Caravaggio. Die naamlys is eindeloos as jy al die kunstenaars wie se skilderye en beeldhouwerke die katedrale en museums versier, sou moes neerskryf.

Rome is kolossaal. Die kunswerke, breë strate, groot piazzas, of pleine, die geboue: als is gróót, groter as wat jy jou dit kan indink. Paleise, of palazzos, staan die ou stad vol, party plekke hele straatblokke vol. Katedrale wat lyk soos monumente staan oral, soms ingedruk en ander kere op hulle eie.

Waterfonteine met helder skoon water en marmerbeelde met name wat klink soos musiek is op amper elke piazza (plein). Daar kom die moderne Romeine en besoekers saam om in die son te sit of by ‘n restaurant espresso te drink, pasta de la moro te eet of met ‘n gelato roomys in die hand net rond te drentel.

La dolce vita. Rome se nie amptelike leuse. Die “goeie lewe”.

Lees alle vorige rubrieke oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

3 Kommentare

Zuri ·

Ai hoe verlang ek terug. Skaars twee maande terug was ons daar. Hele maand rond getoer met ‘n stywe begroting, maar kon alles doen wat ons graag wou doen. Kos is net baie duur en het ons goed “geshop” vir kos, maar tenspyte daarvan was dit ‘n ongelooflike toer. In Duitsland, Nederland, Prague en Italie kan die mense skaars Engels praat en dan praat ek van die studente ook. Dus weet ek nie hoekom val hulle ons Afrikaanse skole so aan hier in SA nie, want die lande kom heel reg sonder Engels. Ons as toeriste sukkel maar as jy inligting probeer kry, maar ons was later slim en het al die immigrante van Afrika opgesoek en hulle kon Engels praat. My gevolgtrekking is dat die Engels wat ons kinders in Afrikaanse skole leer is steeds baie beter is as die meeste Europese lande se Engels. Inteendeel ons was in Giethoorn in Nederland en die kelnerin kon my glad nie in Engels help nie toe slaan ek maar oor in Afrikaans en met stomme verbasing van beide van ons kan sy my verstaan en help. In Italie kan hulle nie eers die basiese goed vir jou sê in Engels nie en dan is dit mense wat met toeriste werk. In Lucca was ons gasvrou so gefrustreerd omdat sy nie met ons kon kommunikeeer nie dat sy haar dogter wat in Engeland bly bel om met ons te kommunikeer namens haar ma. Haar Engels was ook nie te wafers nie.

Sebastiaan ·

Rome, wat ek al verskeie kere besoek het (laas in 2010), bly vir my die mooiste stad op aarde en ek verlang terug en beny die twee reisigers.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.