Op reis deur Europa: Somer in Frankryk

Foto: Thomas Dreyer

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, het (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa gereis. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Somer is ‘n pragtige tyd in Europa. Alles is groen. Blomme groei in blombakke op vensterbanke, op sypaadjies en in parke. Die son is helder, die lug blou en die wolke spierwit.

Ons arriveer in Lille, Frankryk, in die middel van die somer. Die dae is lekker warm, die nagte net koel genoeg om lekker te slaap. Om ons verblyf en ons finansies in Europa uit te rek, het ons gereël om Pierre en Lilia se huis op te pas en na hulle Engelse boerboel, Ferdinand, (wat Afrikaans goed verstaan!) om te sien.

Hulle huis is ‘n groot 100-jarige huis wat die Eerste én die Tweede Wêreldoorloë oorleef het. Dit het drie verdiepings en ‘n groot kelder wat, so dink ons dadelik, ‘n goeie bomskuiling sou uitmaak. Soos die meeste huise in Europa is die huis letterlik óp die straat geleë. Erger nog, op ‘n straathoek.

Stap jy by die voordeur uit, is jy direk op die sypaadjie. Hier is geen tuin nie. Nie eers ‘n blombak in die venster nie. Pierre en Lilia is nie plantmense nie.

Ons slaap op die grondvloer, in ‘n groot gerieflike kamer, langs die voordeur en direk langs die straat. Die voordeur … dít is waar jy die Europeër begin verstaan.

Foto: Thomas Dreyer

Voordeure in Europa is kluisdeure. Soliede staal met drie slotte en staalbalke wat in gleuwe vasskop wanneer jy die deur sluit. Daar is géén manier om in dié huis/kluis te kom nie. Miskien by die vensters?

Die vensters is dubbelglasvensters. Veiligheidsglas. Die dubbelglas help om die yskoue buite te hou in die winter en die hitte in die somer.

Voor die vensters is luike. Meeste is oprolluike, maar jy kry nog die ouer luike wat soos vensters oop- en toemaak.

Wanneer jy die luike toemaak is dit pikdonker in die kamer al skyn die son helder buite. En met die vensters toe is dit amper doodstil.

Dit is hoe die Europeërs bly – in kluise. Toegesluit. Meestal is hulle woonplekke klein met een of twee slaapkamers, ‘n badkamertjie, klein kombuisie en sitkamertjie. Daar is nie plek vir kuiermense nie.

Daarom, sesuur saans, kry jy hulle op straat. Soos miere wat uit hulle neste kom kuier hulle by die straatkafeetjies – tot laat, want die son begin eers tienuur sak.

Die meeste straatkafees maak eers sesuur saans oop. Dan pak hulle hul tafeltjies en stoele op die sypaadjies uit. Hier word rondom ‘n glasie wyn of bier of koffie gekuier. Hulle eet ook sommer aandete daar. Die straatkafee word die sitkamer waar vriende saam kuier.

Hoe later hoe kwater, natuurlik. Die geselskap word al hoe luider hoe meer mense daar is en hoe meer glase wyn gedrink word. Dit klink naderhand soos ‘n bynes wat kwaad is, só gesels en beduie dit.

Teen twaalfuur maak die kafees toe, maar ‘n paar plekke bly oop vir die bittereinders. Ons is teen daardie tyd al in die bed en ons luike en vensters toe.

Ná twaalfuur begin die pret. Vir ‘n tydjie is dit doodstil en wil jy net wegraak vir ‘n goeie nagrus wanneer ‘n motorfiets voor jou venster verbyjaag. Of mense ander aan die oorkant van die straat skreeu-groet.

Skielik laat die wyn en mengeldrankies mense hulle motors se deure baie harder toeslaan as gewoonlik. Of dit is huismoles, met man en vrou wat op mekaar skree. Polisie- en ambulanssirenes is deel van die naggeluide.

Uiteindelik teen vyfuur raak die strate stil. Maar nie vir lank nie. Sesuur begin die vragmotors vullis verwyder en die strate skoonmaak. Water word op die strate en sypaadjies gespuit en vuilgoed opgesuig met borsels wat die teerpad vee.

Teen agtuur is alles skoon en stil. Mense begin weer uit hulle kluise kom, hierdie keer op pad werk of skool of universiteit toe. Die lug ruik soos skoon seelug van die water waarmee die sypaadjies gewas is.

Die stoele van die kafees is weggepak. Die strate stil en leeg. Nie ‘n enkele bewysstuk het oorgebly van die vorige nag se manewales nie. Tot vanaand toe wanneer alles weer vóór begin!

Lees alle vorige berigte oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eish ·

Weereens dankie vir die deel van ons Europese familie se leefwyse. Jy spaar my n sak geld met die artikels!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.