Daar was ’n vrou in die skare wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Sy het alles wat sy gehad het, aan dokters bestee, maar kon nie genees word nie. Sy het van agter na Jesus gekom en die soom van sy kleed aangeraak. Onmiddellik het die bloeding gestop. (Lukas 8:43, 44)
Twaalf jaar van dié vrou se lewe was hel. Op grond van die aard van haar siekte was sy vir die gemeenskap ’n onreine en ’n uitgeworpe randfiguur. Sy het in die skadu geleef, weggesteek van ’n onsimpatieke samelewing. Toe hoor sy van Jesus, die Man van Nasaret wat mense gesond maak. As deel van ’n malende skare mense kon sy onopgemerk saamloop. Daar was net die een begeerte in haar hart, naamlik om sy kleed aan te raak. Sy was seker dit sou genoeg wees. En toe gebeur dit …
Die oomblik toe sy sy kleed aanraak, het haar bloedvloeiing gestop. Sy kon dit voel! Wat meer is, Jesus kon dit voel! En daar voor die hele skare word die vrou ontmasker – nie as ’n verworpene nie, maar as ’n begenadigde. Sy kon huis toe gaan met Jesus se seëngroet in gedagte: “Dogter, jou geloof het jou gered, gaan in vrede.”
Die verlies van jare se skadulewe het vir haar uitgeloop op die wins van ’n ontmoeting met Jesus. Sy het inderdaad vrede gevind.
Mense sê hulle glo maar hulle glo nie regtig nie.
Dit was presies wat ek gebid het!