Gedagte vir die dag: Dubbele burgerskap

Jesus se familie was uiters bekommerd oor Hom. Deur sy kragtige prediking, die genesing van siekes en die uitdrywing van bose geeste, het Hy groot skares gelok. Hy het ‘n opskudding veroorsaak en ook die onwelkome aandag van mense met mag getrek. Hy het Hom vasgeloop teen die Skrifgeleerdes en die Fariseërs. Die Fariseërs was so kwaad vir Hom dat hulle met die Herodiane ‘n komplot teen Jesus gesmee het om Hom om die lewe te bring. Markus 3:6

Daar is selfs gesê dat Hy van sy kop af geraak het. Sy familie het gegaan om Hom te gaan haal (Markus 3:21). Met hulle aankoms by die huis waar Jesus was, was sy reaksie baie onverwags en die teenoorgestelde van wat hulle verwag het:

Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.”Markus 3:35

Deur hierdie woorde het Jesus nie die familie waarin God Hom geplaas het, verwerp nie. Inteendeel, Hy het sy moeder so liefgehad dat selfs in sy lyding aan die kruis het Hy vir haar voorsiening gemaak. In hierdie gedeelte leer Hy ons oor die verantwoordelikhede van dubbele burgerskap waaroor alle Christene beskik.

As aardse burgers het Christene familiebande met verantwoordelikhede, maar ons is ook hemelse burgers met verantwoordelikhede, want deur Christus is ons lede van God se familie.

Deur Jesus is ons met God versoen. God is ons Vader en ons is sy kinders (Romeine 8:16-17). As deel van die koninkryk van God het ons verantwoordelikhede en is dit nodig dat ons ons prioriteite reg kry.

Die uitdaging vir elke Christen is om presies dit te doen.

Gebed: Dankie Here vir die kosbare voorreg om oor dubbele burgerskap te beskik. Maak my bewus van my verantwoordelikhede teenoor U, maar ook teenoor die familie en gemeenskap waar U my geplaas het. Help my, Vader, om my prioriteite reg te kry. Dit bid ek in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.