Gedagte vir die dag: Geloof laat jou reg kies

God-se-seën

Foto: Reint Dykema.

Lees: Deuteronomium 30:15–20

Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe. Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam en Hom aan te hang, sal vir jou lewe gee … (Deuteronomium 30:19–20)

Kort voor sy dood stel Moses die volk voor ’n keuse: hulle kan kies om God te gehoorsaam – dan sal God hulle voorspoedig maak en seën. Om God te kies beteken immers om die lewe te kies. Hulle kan ook téén God kies en dit sal beteken dat hulle om sal kom. Hy hou die lewe én die dood aan hulle voor, maar die keuse is hulle s’n.

Die lewe bestaan uit ’n reeks keuses. Elke nuwe dag kry jy die kans om weer te kies: om te kies om God te volg en op sy pad te loop, om positief te wees, nie sonde te doen nie en God en ander mense lief te hê. Óf om te kies om jou eie kop te volg, jou eie ding te doen, van God se pad af te dwaal op afdraaipaadjies wat jou al verder van Hom sal laat wegdwaal – soms selfs sonder dat jy dit agterkom …

Indien jy reeds vir God gekies het, sal Hy jou ook met jou ander keuses help. Vra God se leiding – Hy sal elke keer vir jou die regte antwoord gee. Soms moet jy gewillig wees om op sy leiding te wag en nie halsoorkop dié ding kies wat jy die graagste wil hê nie. Hoe meer tyd jy saam met God en sy Woord deurbring, hoe makliker sal dit vir jou word om reg te kies.

Here God, help my asseblief om elke dag die regte keuses te maak. Dankie dat u Gees my reeds gelei het om my lewe aan U oor te gee..

Bron:
Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.