Gedagte vir die dag: Geloof maak jou ’n oorwinnaar

vrou_uitgestrekte-arms_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: 1 Johannes 5:1–5

Enigeen wat ’n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is? (1 Johannes 5:4–5)

God se kinders kan die sondige wêreld deur hulle geloof oorwin, so belowe ons kernteks. Omdat ons in Jesus glo, kan ons daarin slaag om te leef soos God van ons vra. ‘Om God lief te hê beteken om sy opdragte ernstig op te neem en uit te voer. Wat Hy van ons verwag, is nie moeilik om te doen nie, want elke kind in die familie van God is ’n wenner, ’n wenner oor hierdie sondige wêreld,’ bevestig Die Boodskap se weergawe van 1 Johannes 5:4–5.

As jy glo, is jy rééds ’n wenner. Dit ís dus vir jou moontlik om te leef soos God dit vir jou in sy Woord uitstippel. Paulus voer hierdie gedagte nog verder in Romeine 8:37 waar hy skryf dat gelowiges méér as oorwinnaars is. Ja, saam met Christus is jy selfs meer as ’n oorwinnaar omdat God vír jou is. Niks is immers vir Hom onmoontlik nie, en daardie wonderwerkende krag stel Hy tot jou beskikking! Daarom kan jy saam met Paulus bely: ‘Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee’ (Fil 4:13).

Nou moet jy die oorwinning wat Jesus reeds behaal het op elke lewensterrein gaan proklameer, skryf Die Bybellennium. Doen dit!

Here Jesus, ek loof U dat ek méér as ’n oorwinnaar mag wees omdat ek in U glo. Ek eien nou u krag vir my toe, sodat ek die sondige wêreld op elke terrein kan oorwin.

Bron:
Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SNEL ·

Jesus is die Weg en die Waarheid…. Geloof is die draad wat ons aan al Sy beloftes en Sy Woord bind. Sonder geloof sal ons val as Christene, sonder geloof sal ons twyfel aan die skepping van die aarde, sonder geloof sal ons duisende vrae vra, sonder geloof sal ons wêreld as die storms kom in duie stort, sonder geloof het ons nie hoop nie en dan weer, ons hoop moet in Jesus Christus wees. Geloof is wat ons bind aan God en Sy Woord, geloof is kosbaar geloof moet groei en geloof kom deur aanhoor van die Woord (Romeine 10:17). Hulle sê altyd; jy moet nie die “te” bysit nie, te veel van n ding is nie goed nie, maar van God se Woord kan te veel net n seën op jou geloofspad wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.