Gedagte vir die dag: God is getrou

vrou_stiltetyd_gebed_genade.jpg

Foto: crosswalk.com

Die belangrikste is dat God sy woorde aan die Jode toevertrou het. Maar wat nou as sommige nie getrou gebly het nie? Sal hulle ontrou die trou van God laat ophou? Beslis nie. (Romeine 3:2–4)

Jy mag wel reken dat die Tien Gebooie nie meer van toepassing is op jou nie en dat dit uitsluitlik bedoel was om die Israeliete in toom te hou. God het mos ’n nuwe verbond met ons gesluit. Ons is sy verbondsvolk in Jesus, en ons is vrygemaak van sonde en van die straf op sonde.

Behels dit dat jy nou kan doen wat jy wil? Behels dit dat jy God nie hoef te eerbiedig nie, sy Naam in die skande mag steek en sy gebooie vertrap?

Wat dink jy beteken dit as jy sy gebooie afwater, dit ondergeskik stel aan die hedendaagse gebruike en sosiale neigings of dit eenvoudig ignoreer? Dit beteken dat jy Hom nie glo nie en dat jy nie reken dis die moeite werd om na Hom te luister nie. Niemand is volmaak nie. God sê dis onmoontlik. Maar hoe weet ons wanneer ons sondig?

God het ons die Wet gegee om ons bewus te maak van ons sonde, sodat ons nie weer sal terugval op slegte gewoontes en soos ongeredde mense leef nie. Lees die Tien Gebooie sorgvuldig, verplaas die verwysings na ou gebruike soos slawe en slavinne met werkers, en beeste en donkies met motors en motorfietse. Dink aan hoe jy jou Sondae deurbring. Ons kan onmoontlik volmaak wees, en as ons die wette goed bekyk, het ons seker al almal van hulle oortree.

Vergifnis gee ons nie toestemming om moedswillig te wees nie. God is getrou, Hy het sy beloftes nagekom en Hy sal Hom daarby hou. Maar wat van jou?

Almagtige Here, ons wil u Wet opnuut respekteer en ons trou aan U bevestig. Dankie vir u hart van liefde.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek  Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Rooikop ·

Die Sabbat is op Saterdae…nie Sondae nie. Dit staan net so duidelik in die bybel soos die Tien Gebooie… Dis mense wat dit na Sondag toe verander het. Nêrens in die bybel het Vader gesê sy Sabbat skuif nou na ‘n ander dag nie… Just saying.

Gert Hattingh ·

Die Sabbat was aan die volk van Israel gegee en nie aan die kerk nie. Die Sabbat is steeds op Saterdag en nie Sondag nie, dit het nog nooit verander nie. Maar die Sabbat is deel van die Ou Testament wette, en Christene is vry van die Wet (Galasiërs 4:1-26; Romeine 6:14). Die hou van Sabbat word nie van Christene vereis nie hetsy of dit Saterdag of Sondag is. Die eerste dag van die week, Die Here se Dag (Openbaring 1:10) vier die Nuwe Skepping met Christus as ons Hoof. Ons is nie onderworpe aan die Mosaic Sabbat – vir rus nie, maar ons is vry om Christus te volg – godsdienstig. Die apostel Paulus sê dat elke Christen moet self besluit hoe om die Sabbat rus te volg, “Net so is daar die vir wie die een dag meer besonder is as die ander, terwyl ander weer alle dae as ewe belangrik beskou. Elkeen behoort seker te maak van sy eie oortuiging in hierdie verband. Die wat ‘n spesifieke dag uitsonder, doen dit vir die Here” (Romeine 14:5). Ons moet God elke dag aanbid nie net Saterdag of Sondag nie.

neelsie ·

Dankie Gert,
Laat ons ophou stry oor kleinlikhede en as Christene saamstaan teen die aanslae van die Bose.
Alles gaan oor Jesus! Eer hom.
Mag hierdie dag wat God gemaak het ,vir almal geseend wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.