Gedagte vir die dag: Goeie oordeel

koring_somer_son_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ek bid dat julle liefde vir mekaar meer en meer sal word deurdat julle ’n al beter begrip en ’n fyn aanvoeling ontwikkel. Dit sal julle in staat stel om dié dinge te onderskei wat regtig saak maak. (Filippense 1:9-10)

Onderskeidingsvermoë en goeie oordeel spruit voort uit wysheid, wat op sy beurt voortspruit deur tyd saam met God deur te bring. Daar is soveel mense vandag wat een ding sê en iets heeltemal anders bedoel. Dit is waar onderskeiding vereis word. Ons moet bid en onderskeiding soek – om God te vra om ons te wys wat in ’n persoon se hart aangaan. Jesus het gesê: “Julle sal hulle aan hulle optrede uitken, net soos ’n mens ’n boom aan sy vrugte kan uitken. ’n Mens pluk tog nie druiwetrosse van doringbosse, of vye van dissels nie” (Matteus 7:16).

Ons moet mense vertrou, maar ons moet ook wys wees en goeie onderskeidingsvermoë hê, want ’n slegte transaksie kan ’n besigheid vir altyd ruïneer en ’n lelike aantyging kan ’n huwelik vernietig. Persepsie is nie noodwendig die waarheid nie. Wanneer ons byvoorbeeld waarneem dat ’n persoon iets verkeerds gedoen het, het ons nie die reg om hom of haar te beskuldig totdat ons die waarheid ontdek het nie. Persepsie is wat ons dink die waarheid is, en ons vind dikwels dat ons heeltemal verkeerd is.

Onderskeidingsvermoë kom van God en ook uit ervaring. Toe ek ’n jong man was wat my landbou-opleiding in Skotland gehad het, het ek graag by die bejaarde plaasboere gaan kuier. In daardie dae was daar nie gerekenariseerde weervoorspellings nie (ek weet buitendien nie of hulle nou so akkuraat is nie), maar as gevolg van hul ervaring het daardie boere geweet hoe die komende seisoen sou wees. Hulle was altyd in die kol.

Jesus het gesê as ons ’n vyeboom sien wat nuwe blare voortbring, weet ons die lente is op pad. Net so sal ons weet dat die Here se koms naby is wanneer ons sekere tekens in die wêreld sien. Ons moet die tye waarin ons leef, kan onderskei sodat ons geestelik en prakties voorbereid sal wees.

Here en Redder, ek vra vandag vir ’n dieper vlak van wysheid, wat ek weet sal voortvloei as ek meer tyd saam met U deurbring. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.