Gedagte vir die dag: Josef

twee_mense_stap_sonsondergang_boekvat.jpg

Foto: jorgeschulz.wordpress.com

Lees: Genesis 45:1-15

Ek is julle broer Josef. Julle het my verkoop, en ek is Egipte toe gebring. Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red. Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. (Genesis 45:4-5, 8)

Josef se jaloerse broers verkoop hom aan ’n groep slawehandelaars omdat hulle pa hom voorgetrek het. In Egipte word hy die slaaf van Potifar en wanneer hy nie saam met Potifar se vrou in die bed wil spring nie, beskuldig sy hom dat hy haar verkrag het. Potifar laat hom onskuldig in die tronk gooi, waar hy vir jare moet bly.

Eers wanneer die farao na iemand soek wat sy vreemde droom kan uitlê, onthou die farao se skinker dat Josef sy droom in die tronk reg uitgelê het. Josef word uit die tronk laat haal, en hy voorspel dat die farao se droom beteken dat daar vir Egipte sewe jaar van oorvloed en sewe jaar van hongersnood voorlê. Hy stel voor dat daar tydens die jare van oorvloed kos weggesit moet word vir die hongersnoodjare. Die farao is so beïndruk met Josef dat hy hom aanstel om die land te bestuur. Tydens die hongersnood kom Josef se broers ook koring koop in Egipte. In plaas daarvan dat Josef hulle straf vir wat hulle hom aangedoen het, getuig hy dat God hulle gebruik het om lewens te red. Alhoewel Josef baie swaar gekry het, was God die hele tyd by hom; hy het positief gebly en God se hand in sy lewe erken.

Wanneer jy weer onskuldig aan die pen ry, probeer om God se plan vir jou lewe raak te sien en bly positief!

Here, leer my net weer dat U ook ten spyte van my eie negatiewe omstandighede positiewe dinge vir my kan beplan. Hou my getrou aan U. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.