Gedagte vir die dag: Konstante konfrontasie met konstante oorwinning

voetspore_woestyn_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus. (Hebreërs 12:1)

Konstante konfrontasie met konstante oorwinning is ’n proses wat duidelik te sien is in die apostels se ver maning en bemoediging van gelowiges. Die skrywer van Hebreërs skryf dat ons elke las moet afgooi en die wedloop met die oog gevestig op Jesus hardloop.

Sonde omring gelowiges en dit sal so wees totdat Jesus weer kom of ons sterf, wat ook al eerste sal wees. Hoe lank sal sonde ons omring? Hoe lank moet ons ons oë op Jesus hou? Dis dieselfde antwoord. Paulus skryf: “Die nag is byna verby; dit is amper dag. Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem” (Rom 13:12). Dis nie ’n eenmalige gebeurtenis nie, maar ’n deurlopende proses. Dís die pad van dissipelskap. “Dis amper dag” beteken die wederkoms van Jesus, en daarmee saam ons volkome ver lossing vir ewig en altyd, is op hande. By ’n ander geleentheid verduidelik Paulus dieselfde proses: “Breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is” (Ef 4:22-24). Jakobus sê dieselfde: “Julle moet al die sedelike vuilheid en ongeregtigheid opruim wat so welig tier, en ootmoedig die woord aanneem wat God in julle geplant het, want dié woord kan julle red” (Jak 1:21).

Ons hoef nie vir sonde in ons lewe te soek nie. Sonde word in die teenwoordigheid van Jesus geopenbaar.

Bron:
Op vlerke van geloof deur Riekert Botha
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.