Gedagte vir die dag: Meer as wat jy kan verduur?

woestyn_droe_veld_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Elia het die woestyn ’n dagreis ver binnegegaan. Hy het toe onder ’n besembos gaan sit en gewens dat hy liewer maar moet sterf. “Ek het nou genoeg gehad, Here,” het hy gesê. “Neem nou maar my lewe … ” (1 Konings 19:4)

Elia het genoeg gehad. Hy wou sterf. God het ander idees gehad. Kan jy jou hiermee vereenselwig? Het jy ook dae wanneer jy dink jy kan nie meer aangaan nie?

Die Romeinse keiser en filosoof, Markus Aurelius, het lank gelede hierdie ongelooflike wysheid neergeskryf: “Moet jou nie ontstel deur jou lewe as ’n geheel te sien nie; moenie die talle probleme wat in die verlede opgeduik het en in die toekoms sal opduik voor jou geestesoog oproep nie. Vra jou eerder af oor elke huidige moeilikheid: ‘Wat lê hierin opgesluit wat ondraaglik is of meer is as wat ek kan verduur?’ Herinner jouself dan daaraan dat dit nie die toekoms of die verlede is wat jou teister nie, maar die hede. Die krag daarvan word heelwat minder as jy dit isoleer en jou gedagtes terugbring na die hier en nou wanneer jy dink jy kan nie meer nie.”

Wanneer jy dus op moeilike dae outomaties oorgaan na die oorlewingsmodus van “die volgende regte ding”, skep moed. Die klein, dapper treetjies wat jy vandag neem, is nie ondraaglik of meer as wat jy kan verduur nie.

Wanneer dit vir jou voel asof jy klaar is, hoe wys God vir jou dat Hy nog nie is nie?

Here, wees my krag in die hede. Gee my helderheid en kalmte. Amen

Bron:
Omvou deur genade deur Dalene Reyburn
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.